Hartebeestloop

Hartebeestloop
Auction 2020

Index  |  Overview  |  ONLINE AUCTION VIDEO | Newsletter 2020 | Animals | Videos | General |  All Auctions
Auction
Bulls 2020


AUCTION BULLS 2020

    


LEES ASB EERS HIERDIE BELANGRIKE INLIGTING OOR DIE BULBESKRYWINGS DEUR VOORDAT JY VERDER GAAN

Hierdie is die 13de Hartebeestloop Produksie Veiling en deur die jare is daar ‘n sekere standaard gevestig. Dit is nie meer nodig om die standaard met elke bulbeskrywing te herhaal nie. Die beskrywings word tè omslagtig, bevat tè veel inligting en lees tè moeilik. Ek gee jou die versekering dat geen bul wat nie aan die onderstaande voldoen, op die veiling is nie.

A. PRESTASIETOETSING OP DIE VELD EN IN DIE ALGEMEEN:

  1. Pelvismetings
    Die eienskap is oorerflik en daar is genoeg variasie in pelvisgrootte om daarvoor te selekteer. Streng seleksie onder die veilingsbulle bring kalfgemak na jou kudde. As ‘n bul nie voldoen aan die norme vir pelvisgrootte nie, is dit nie op die veiling nie. Ek dui nie pelvisdata aan in die bulbeskrywings nie maar, dit is gedoen en beskikbaar.

  2. VERSKEIE ANDER METINGS EN EIENSKAPPE Kondisietellings, temperament, kwaliteit vel en haar, klou kwaliteit en uier en speen evaluering van die vroulike diere in die bul se stamboom.
    Hierdie eienskappe is deurlopend geëvalueer – dit is vir ons en jou van dieselfde ekonomiese waarde as amptelike prestasietoetsing. Ons ken die finansiële verlies van ‘n swak kalf weens dopspene of ‘n swak uier by die koei. So ook die probleme met hans kalwers grootmaak. Ons doelwit is om langtermyn genetiese voordeel na jou kudde te bring met behoud van goeie kondisie op die veld, mak en hanteerbare beeste, goeie aanpasbaarheid, goeie loopvermoë en fantastiese spene en uiers wat hou-en-hou. Hierdie data is beskikbaar vir alle veilingsbulle.

  3. Aanpasbaarheid en groeivermoë op die veld
    Aanpasbaarheid word gemeet as deel van die amptelike prestasietoetsing. Ons gee egter die ekstra tree en doen ook ‘n VeldPrestasie toets op die plaas onder ekstensiewe toestande. Al die eienskappe wat aanpasbaarheid, gehardheid, veldvoeromset en groeivermoë op die veld bepaal, word saamgevoeg in die Hartebeestloop VeldPrestasie Indeks. Die veilingsbulle het almal die toets deurgegaan en genoegsaam presteer om te voldoen aan die kriteria om op die veld suksesvol te presteer. Dit is wêreldwyd ‘n neiging om alle belangrike eienskappe saam te vat in ‘n gesamentlike indeks. In die bulbeskrywings word nie verwys na die Hartebeestloop VeldPrestasie Indeks of na die individuele komponente wat die indeks opmaak nie.

  4. Veldbultoets
    Onderstaande is ‘n kort beskrywing van die redes en ons toepassing van Veldbultoetse op Hartebeestloop. Ek verwys nie meer na die individuele bulle se Veldbulprestasies as deel van die bulbeskrywings nie. Bulle wat nie presteer het onder veldtoestande nie, is alreeds uitgeskot en nie deel van die veiling nie. Die Hartebeestloop Ekonomiese Indekse vir individuele bulle is wel beskikbaar op aanvraag.

    Tom Lasater (stigter van die Beefmasters) het die volgende gesê en met groot sukses toegepas: “Livestock should be bred, born, raised, performance tested and sold under the conditions they will produce.” Op Hartebeestloop pas ons die filosofie streng toe en glo dat die uitgroei van bulle op ruvoer vir ordentlike ontwikkeling van voormae, ‘n sleutelfaktor is vir die latere goeie prestasies onder veldtoestande.

    Ons stel net belang in die eienskappe wat vir ons kliënte meer geld in die sak bring en daarom toets ons in samewerking met Veldbul SA die volgende:
    • Groei op die veld as indikasie van lae insetkoste beeste
    • Doeltreffendheid van veldweidingomset na vleis en gewig
    • Handhawing van kondisie op die veld as indikasie van lae insetkoste en aanpasbaarheid
    • Temperament om maklik en veilig te boer
    • Pelvisgrootte vir maklike kalwing
    • Haarkleed vir aanpasbaarheid
    • Skrotumomtrek as indikasie van vrugbaarheid van vroulike nageslag

    Hiervolgens word dan ‘n Hartebeestloop Veldbul Ekonomiese Indeks uitgewerk en aan elke bul toegeken.

  5. Ultrasoniese skandering en die potensiaal vir goeie vleisopbrengs en hoë uitslagpersentasie
    Ons doen ultrasoniese skanderings vir so lank as wat ek kan onthou. Hierdie data word gebruik om vleisopbrengs en uitslagpersentasie binne gebalanseerde perkte te verbeter as deel van ons teelbeleid. Die Hartebeestloop slagbees prestasies by Meatco is ‘n bewys dat daar wel suksesvol vir die 2 eienskappe geselekteer kan word. Ek gebruik soms algemene boere-terme soos volvleis bul, gepak met vleis ensomeer as deel van die bulbeskrywing – dit is net om die vleiseienskappe van ‘n spesifieke dier te beklemtoon. Die vleisdraende vermoë van die bulle en die genetiese potensiaal om dit oor te dra na die nageslag is ‘n belangrike teeldoelwit op Hartebeestloop. Ons wil graag die hoeveelheid “vleis” in jou kudde verbeter. Ek gee egter nie meer die verwagte uitslagpersentasie en karkasopbrengs in die bulbeskrywings nie. Dit raak net tè veel inligting.

  6. Ultrasoniese skandering, grootte van oogspieroppervlakte en vroeë vetneerleggingsvermoë
    Bespiering in vleisbeeste is ‘n belangrike ekonomiese produksie eienskap. Dit is hoekom oogspieroppervlaktes gemeet word want dit gee ‘n baie goeie indikasie van die algehele bespiering van die dier. Oormatige bespiering het egter ‘n negatiewe invloed op vrugbaarheid en reproduksievermoë. Die vermoë van diere om vroeg genoeg vet neer te lê, is ‘n noodsaaklikheid vir vroeg vrugbaar en vroeg in kondisie kom, om bul te vat. Die waarde van “kombinasie diere” wat genoegsame bespiering het èn die vermoë besit om vroeg in kondisie te kom – is die “ultimate smart partnership” tussen produksie en reproduksie. Vir my is dit ‘n vereiste vir suksesvolle beesboerdery. Hierdie data is weereens beskikbaar vir alle veilingsbulle en ek verwys soms in die bulbeskrywings na spesifieke diere wat uitstaande is vir hierdie 2 eienskappe.

  7. Manlikheid, sekondêre manlikheidseienskappe, geslagsegtheid, skrotumomtrek, vrugbaarheid en libido
    Die veilingsbulle is verskeie kere en weer-en-weer geëvalueer op die visuele eienskappe wat manlikheid en potensiële libido aandui. Vanaf welige stertkwas tot kaal voorkoppe! Skrotumomtrekke is gemeet en skrotums en geslagsorgane is klinies ondersoek en voldoen aan die Bonsmara en Veeartseny standaarde. Alle bulle is vrugbaar getoets deur die veearts en van geselekteerde bulle is mikroskopiese video opnames gedoen van die semenontleding. Die veilingsbulle is reg om te werk! Die data is alles beskikbaar maar word nie onder elke bulbeskrywing bespreek nie.



B. AMPTELIKE PRESTASIETOETSING Ek probeer om die bulbeskrywings te vergemaklik vir die boere deur die prestasietoets data in ‘n makliker vorm met Teelwaarde Indekse en Logix Seleksie Waardes deur te gee. Onderstaande is die verduideliking oor hoe die Teelwaarde Indekse en Logix Seleksie Waardes bepaal word en hoe dit verstaan en gebruik moet word.

  1. Hoekom word Teelwaarde Indekse gebruik in die bulbeskrywings en nie die individuele Teelwaardes nie?
    Die teelwaarde indeks is makliker om te verstaan as ‘n teelwaarde, veral vir die kommersiële boere. Die basis van ‘n teelwaarde indeks is 100, wat die gemiddelde teelwaarde van die lewendige diere in die ras aandui. Waardes bo 100 is altyd in die meer gewenste rigting en dit dui aan dat die dier ‘n bogemiddelde genetiese potensiaal het vir ‘n spesifieke eienskap ten opsigte van die lewendige diere in die ras. Daar is egter heelwat kere wat waardes tussen 80 - 100 aanvaarbaar is, afhangende van die prioriteit van die eienskap wat jy wil aanspreek in jou kudde. Vra gerus hulp by een van die veilingskonsultante as jy onseker oor dit is.

  2. Hoekom word die Logix Seleksie Waardes (Logix Groei Waarde en Logix Produksie Waarde) gebruik in die bulbeskrywings?
    Die Logix Seleksie Waardes is die kombinasie van die teelwaardes in ‘n enkele waarde. Dit gee ‘n vinnige en maklike indikasie van die gekombineerde genetiese waarde van die dier ten opsigte van sy ras. Dit maak dit onnodig om elke teelwaarde afsonderlik vir elke eienskap vir elke dier te bespreek. Die kombinasie genetiese waardes saamgevat in ‘n Groei Waarde en ‘n Produksie Waarde dui die genetiese meriete van die dier aan. Die basiswaarde is 100 en is waardes bo 100 in die gewenste rigting. Onthou hierdie Logix Seleksie Waardes word uit verskeie subwaardes opgebou en weereens is waardes tussen 90 en 110 baie aanvaarbaar. Dit is tans die neiging om verskeie teelwaardes saam te vat in een waarde om verstaanbaarheid en besluitneming te bevorder. Hierdie data is vir elke bul beskikbaar maar word nie in die bulbeskrywings aangedui nie.



C. LOGIX SELEKSIE WAARDES

As daar enige onduidelikheid oor die Logix Seleksie waardes is, kan jy my enige tyd kontak.




LOT 01: HART 17-0026

VIDEO    FOTO`S


Hy is geteel uit HART 11-0050 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) wat sterk gebruik is in die Hartebeestloop kudde. HART 17-0026 se moederlyne is uitsonderlik met BHE 04-201 aan vaderskant ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI en sy moeder GBS 06-0107 ook ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI met OEK 25 mnde, TKP van 376 dae/9 kalwers en sy speen teen 47,9% van haar liggaamsmassa.

HART 17-0026 is ‘n goed bespierde, sterk mediumraam bul met baie goeie breedte, goeie kapasiteit en sprong van rib, sterk toplyn en baie diepte deur die voorlyf. Hy dra baie vleis en het goeie buite en binne dye, goed gevul met vleis oor die lende en kruishelling en baie mooi breedte oor die rug. Hy vertoon uitstekende groeivermoë teelwaarde indekse met voorspeense groei van 110 van naspeense groei van 115. Tydens prestasietoetsing is sy GDT 118 en sy Veldvoeromset 115. Sy teelwaarde indekse vir Uitslagpersentasie en Vleisopbrengs is 113 vir beide – dit is in lyn met sy goeie naspeense groeivermoë en goeie bespiering.

Hy is uitstekend aangepas vir die ekstensiewe boerdery – presies waarvoor die Bonsmara geteel is. Sy vel blink, is dik met breë voue en sy nekvel is baie goed ontwikkel. Sy haarkleed is kort en glansend. Daar is baie goeie skofontwikkeling, sterk bene, lang stert en skoon onderlyn. Hy is een van die beste presteerders tydens ‘n strawwe VeldBultoets wat onder moeilike en droë toestande gedoen word, met ‘n VeldBulindeks van 114.

Sy sekondêre manlikheidseienskappe is baie goed ontwikkel – sy kop is sterk, breed met goeie oogbanke en ‘n breë bek. Hy vertoon uitstekende verdonkering in die nek en voorlyf en sy skrotum hang mooi simmetries, is goed gevorm en meet 43,5 cm. Sy teelwaarde indeks vir skrotumomtrek is 114.

HART 17-0026 het uitstekend gedoen met amptelike prestasietoetsing en sy prestasiedata wys dit. Vir my was sy prestasies op die veld met maandeliks wegings, kondisietelling, temperament evaluering en algemene prestasie in die groep, amper belangriker as die amptelike prestasietoetsing. Hier is ‘n bul wat orals gaan aard, swaar speenkalwers en osse produseer, uitstekende groeivermoë in jou kudde bring, goeie bespiering en uitstekende bouvorm vestig en aanpasbaarheidseienskappe vaslê in jou kudde. Hy het ‘n wit gedeelte net voor sy skrotum wat dalk stoettelers mag hinder. Hierdie is ‘n uitstekende geleentheid vir kommersiële boere om ‘n stoetpotensiaal bul te bekom.




LOT 02: HART 17-0138

VIDEO    


Hy is ‘n seun van die staatmaker bul HART 11-0058 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) by HART 12-0004. Sy is ‘n SA Stamboek 4-Ster koei met OEK 25 mnde, TKP van 362 dae/6 kalwers, gemiddelde speenindeks van 107/6 kalwers en sy speen teen 47,3% van haar liggaamsmassa. Haar prestasies is ‘n herhaling van haar ma HART 07-0177 se prestasies - OEK 26 mnde, TKP 363 dae/8 kalwers. HART 17-0138 se ouma aan vaderskant is HART 05-0004 ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI met OEK 29 mnde en TKP van 375 dae/9 kalwers. Jy kan ‘n boek skryf oor HART 17-0138 se moederlyne se prestasies.

HART 17-0138 is ‘n goed bespierde, mediumraam bul wat op goed uitgegroeide verse en koeie gebruik kan word. Hy voldoen nie aan al die kriteria van ‘n kalfgemak bul nie en kan dus nie op enige vers gebruik word nie. Hy is werklik ‘n indrukwekkende bul met goeie bouvorm, breedte, kapasiteit, ‘n diep voorlyf en baie goed gevul agter die blaaie. Jy kan seker nie vir beter vleiseienskappe vra nie. Sy toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is goed en hy het baie sterk bene, baie breedte oor die hakke en goeie kloue. Sy onderlyn is mooi met ‘n goeie naelvel/skede kombinasie. Sy balans en loopvermoë is uitstekend.

Ek gaan nie veel sê oor die aanpasbaarheid van die bul nie. Die beste is om self na hom te kom kyk.

Sy houding reflekteer sy manlikheid. Hy is ‘n op en aan die gang, wakker en kop-op bul. Die kop is sterk en baie manlik, bek is breed, breedte tussen die oë en oogbanke is goed, verdonkering is mooi en sy skrotum meet 44 cm met skrotumomtrek teelwaarde indeks van (115).

Die teelwaarde indekse is deurgaans goed – geboortegewig/kalfgemak (106), voorspeense en naspeense groeivermoë (100) en (103) onderskeidelik, GDT (106), voeromsetverhouding (102), weidingomset (105), melk (98), Volwasse Gewig (97), Onderhoud Waarde (107) en die 3 seleksie indekse - Koei Waarde (109), Groei Waarde (110) en Produksie Waarde (110). Die punt wat ek maak, is dat hy deurgaans uitstekende prestasie data het, maar mooi op Volwasse Gewig Bonsmara standaard bly.

HART 17-0138 wys goeie stoetpotensiaal. Regdeur vanaf stambome, moederlyne, eie prestasies, teelwaarde indekse, bouvorm, visuele voorkoms en wat die mark benodig en soek – is hy in die kol. Kyk baie mooi na hom!




LOT 03: HT 16-0077 (POENA / POLLED)

VIDEO    


HT 16-0077 is geteel uit HT 13-0010 (PH) wat nou by Zunica Bonsmaras van Nic van Heerden is. Sy teling gaan al die pad terug na die bekende poena bul JPL 06-0105 van die Snyman-broers. Sy moer JPL 07-0048 (PH) is aangekoop op die uitverkoping veiling van die Snyman-broers en sy het goed aangepas in die Kalahari. Haar OEK is 32 mnde en TKP van 413 dae/8 kalwers. Haar TKP was uitstekend gedurende haar leeftyd in die RSA maar, sy is gedurende die droogte tydperk 2015/2016 na Namibië gestuur en het haar hier vasgeloop in nog ‘n erger droogte. Sy het dus nie gekalf in 2017 nie.

Hy is ‘n goed bespierde, mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Ek begin dadelik met die eienskappe wat belangrik vir poena diere is – hy vertoon baie manlik, sy kop is sterk met oogbanke wat baie goed ontwikkel is, daar is baie goeie breedte tussen die oë, die nek is goed ontwikkel met mooi verdonkering.

Sy onderlyn is baie mooi met ‘n goeie naelvel/skede kombinasie. Daar is geen teken van prolaps nie. Die skrotumomtrek is 42,5 cm, dit is goed gevorm en hang baie mooi. Die skrotum teelwaarde indeks is (112).

Sy bespiering is goed (kyk die V-vorm op die voorarm), daar is goeie breedte reg deur, genoegsame kapasiteit met mooi sprong van rib en ‘n diep voorlyf. Die toplyn is sterk en breed, kruishelling en stertaanhegting is goed en sy bene en kloue is sterk. Die beenstruktuur is effens fyner vir kalfgemak op verse.

Hy is goed aangepas vir veldtoestande en presteer uitstekend in die groep met VeldBulindeks van (113). Sy Onderhoud Waarde van (104) onderstreep sy prestasies op die veld. Gedurende prestasietoetsing doen hy goed met Speenindeks (98), GDT (115) en Veldvoeromsetvermoë (115) – en onthou ons toets die poena diere en horing diere in een groep. Ons stel belang of die dier presteer – nie of hy poena of horing is nie.

HT 16-0077 is ‘n baie goeie BUL– nie net ‘n baie goeie poena bul nie. Indien jy in poena stoetteling is, kan jy gerus na hom kyk. Hy is gebruik in ons kudde as jong bul en sy kalwers val nou. Ons het ook sy pa HT 13-0010 gebruik. Die poena genepoel is tans nog baie klein en jy is gou in ‘n hoek met inteling. Ons kan hom nie verder gebruik nie. Kommersiële boere wat die poena gene in hulle kuddes wil vestig, kan gerus na hom kyk.




LOT 04: HART 16-0266

VIDEO    


Hy is geteel uit FCT 11-0285 en HART 12-0169. Sy moederlyne aan beide die vader en moederkant is baie goed met FCT 06-0069 OEK 26 mnde, TKP 387 dae/11 kalwers en GBS 06-0107 SA Stamboek ELITE GOUD KOEI, OEK 25 mnde, TKP 376 dae/9 kalwers. Sy moeder HART 12-0169 se OEK is 24 mnde, TKP 384 dae/6 kalwers en sy speen 45,4% van haar liggaamsmassa. Diamant koeilyne in hierdie teling!

HART 16-0266 is ‘n goed bespierde mediumraam bul wat op goed uitgegroeide verse en koeie gebruik kan word. Jy sal heel eerste sy baie goeie manlikheid raak sien en dan die sterk bouvorm. Sy kop is baie manlik, breed tussen die oë, goeie oogbanke en breë bek – jy kan sommer sien hierdie is nie ‘n man om mee te sukkel nie. Die nek is dik, breed en baie goed verdonker. Die skrotum hang mooi maar wys effe na voor en meet 42 cm.

Hy het baie goeie bouvorm, is breed met goed gevulde binne en buite dye, sterk toplyn, goeie kruishelling, baie mooi kapasiteit en ‘n diep voorlyf. Daar is uitstekende vleiseienskappe aan die bul. Kalahari aangepas en droogte taai uitgegroei – en dit is waar aanpasbaarheid die maak of breek kriterium is. Sy vel is glad, die haarkleed is kort en blink, die keelvel is los, dik en vol breë velvoue. Die skofontwikkeling is baie goed, stert hang op die grond, onderlyn is skoon en bene is sterk.

Sy data van amptelike prestasietoetsing en “op-die-plaas Hartebeestloop” eie toetsing, is uitstekend. Sy teelwaarde indekse vir Geboortegewig (92), voor en naspeense groei onderskeidelik (109) en (112), GDT (110), voeromsetverhouding (106) en melk (95), is goed. Ek kan elke moontlike Bonsmara teelwaarde indeks hier lys, en dit sal jou aandag trek.

HART 16-0266 is ‘n uitstaande bul in elke opsig. Sy vaar FCT 11-0285 het ‘n merkwaardige rol in ons kudde gespeel, sy oumas aan beide kante en sy moeder is almal ysterkoeie, hy is visueel TOP gepunt, sy teelwaarde indekse komplimenteer en ondersteun sy voorkoms, sy geslagsegtheid is opvallend, hy is goed aangepas vir veldtoestande en sy bouvorm is uitstekend. Hy vertoon goeie stoetpotensiaal en stoettelers moet mooi na hom kyk. Hy het by ook Hochfeldstreek Bonsmaras van Streicher & Hella Coetzee gewerk en sy kalwers lyk uitstekend!




LOT 05: HART 17-0010

VIDEO    


Hy is ‘n mediumraam kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Daar is soveel eienskappe wat van belang is by ‘n goeie kalfgemak bul en ek lys ‘n paar, en toets terselfdertyd HART 17-0010 aan die eienskappe. Onthou dat ‘n teelwaarde indeks van 100 is gemiddeld en doen self die vergelyking.

  1. Geboortegewig indeks is (118) wat kalfgemak aandui maar sy voorspeense (98) en naspeense groeivermoë (101) is ‘n aanduiding dat sy kalwers op rasgemiddeld sal speen en dat daar genoeg naspeense groei is om goeie osse te produseer.
  2. Sy melk teelwaarde indeks van (110) wys daar is oorgenoeg melk wat hy oordra na sy vroulike nageslag - vir hulle om weer swaar speenkalwers te produseer.
  3. Sy Gemiddelde Daaglikse Gewigstoename (GDT 107), Voeromsetverhouding (103), Veldweiding omset in vleis (107) en VeldBulindeks (104) wys dat hy baie doeltreffend presteer op die veld.
  4. Hy is goed bespierd met goeie bouvorm, genoeg breedte, mooi middelstuk, baie goeie kapasiteit en ‘n diep voorlyf. Sy teelwaarde indeks vir oogspieroppervlakte is (113) wat aanduiding van goeie bespiering is. Die bespiering is soepel en nie bonkig nie – daarom klassifiseer hy as kalfgemak bul.
  5. HART 17-0010 se kondisietellings is altyd bo die groepgemiddeld en sy vroeë vetneerlegging teelwaarde indeks van (119) wys dit duidelik. Altyd eerste in kondisie en behou dit die langste. Aanpasbaarheid is nie net baseer op teelwaarde indekse bereken vanaf prestasietoetsing nie – dit is die voortdurende evaluering met eie oog, goeie “stockmanship” en klem op eienskappe wat wins verbeter. Dit is die tipe beeste wat almal wil teel.
  6. Vir die 2 baie belangrike eienskappe vir winsgewinde boerdery onder veldtoestande, presteer hy as volg: Onderhoud Waarde (101) – hy doen meer met minder. Koei Waarde (120) – samevatting van klomp eienskappe wat die volgende uit wys: Lae onderhoudkoste, kalfgemak, genoeg melk en die vermoë om swaar speenkalwers te produseer.

HART 17-0010 is geteel uit FCT 11-0285 en HART 12-0041. Sy is ‘n uitstekende koei met OEK 24 mnde, TKP van 363 dae/6 kalwers, speenindeks van 101/6 en sy speen teen 45,5% van haar liggaamsmassa.

HART 17-0010 sal kalfgemak in jou kudde verbeter. Hy sal ook goed doen as jy op soek is na ‘n bul om verse oop te maak maar, nog steeds goeie speenkalwers en osse te produseer vanaf die verse. Sy beste eienskap is egter dat hy met sy goeie groeivermoë, GDT, veldweiding omset in vleis, voeromset en aanpasbaarheid ook baie suksesvol op koeie gebruik kan word.




LOT 06: HART 17-0007

VIDEO    


Ons het baie goeie sukses gehad deur wyle Hansie Steyn (HJS) diere te paar met Namibiese genetika, veral die Woestyn Bonsmara lyne. Op hierdie nageslag het ons AG-genetika ingebring met groot sukses. Hierdie tipe van “kruisteling” binne die Bonsmara ras is goed opgeteken in die Hartebeestloop kudde en sulke geteelde bulle doen diens regdeur Namibië. Vir die spesifieke rede, word daar nog steeds van tyd-tot-tyd kunsmatige inseminasie gedoen met HJS 03-0016 . Die bul het ook baie goed gedoen in die Arcadia Bonsmara kudde. Sy seun AG 08-0210 het weereens ‘n klomp baie sterk bulle op die 2020 AG veiling.

HART 17-0007 is geteel uit HART 11-0058 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) wat aan Sernick Bonsmaras verkoop is. HART 11-0058 het baie goed gedoen in die Hartebeestloop kudde. Sy moederlyne is hoogpresterend met ouma aan vaderskant SA Stamboek ELITE GOUD KOEI HART 05-0004, OEK 29 mnde, TKP 375 dae/9 kalwers. Ouma aan moederskant VV 06-0084 OEK 24 mnde, TKP 398 dae/8 kalwers. Sy moeder HART 12-0216 se OEK is 17 mnde (bestuursfout aan ons kant), met TKP van 392 dae oor 5 kalwers - en sy speen teen 47,9% van haar liggaamsmassa. Hierdie tipe koeie is die ruggraat van beeskuddes en dra die boer deur die dik en dun tye.

HART 17-0007 is goedbespierde, mediumraam bul met baie breedte, uitstekende kapasiteit, goeie sprong van rib en goeie diepte deur die voorlyf. Hy is ‘n TOP PRESTEERDER met Speenindeks (95), GDT (114), Veldvoeromset (112) en VeldBulindeks van (113). Die engelse term “grass feed efficiency” is sekerlik die beste term om Kleiberindeks/Veldvoeromset te beskryf en met ‘n 116 indeks tydens die VeldBultoets was HART 17-0007 die uitstaande presteerder.

Sy teelwaarde indekse is deur die bank baie goed. Daar is genoeg melk (95), goeie voorspeense (111) en naspeense groeivermoë (115), GDT (111), sonder dat sy Volwasse Gewig (107) te hoog is en goeie reproduksie met skrotumomtrek (108).

Die aanpasbaarheideienskappe van HART 17-0007 is van die heel beste. Van sy los en dik keelvel al die pad tot sy lang stert, is hy ‘n toonbeeld van wat nodig is vir winsgewend boer op die veld. Sy manlikheideienskappe is treffend met sterk kop, breë bek, baie mooi verdonkering en skrotum wat simmetries hang, goed gevorm is en 41 cm meet.

HART 17-0007 vertoon hoë stoetpotensiaal en sal deur baie voornemende kopers beskou word as een van die beste bulle op die veiling. Hy is ook een van my gunsteling bulle op die veiling. Ek kan hom met die grootste vrymoedigheid aanbeveel na enige stoetkudde. Dit bly moeilik vir enige teler om sulke bulle te laat gaan maar, die afgelope paar jare se erge droogtes, het die Hartebeestloop koeikudde redelik verklein.




LOT 07: HART 14-0127

VIDEO    


Hier is ‘n mediumraam, “easy-fleshing” bul geteel aan vaderskant uit BHE 03-0126 – al die pad uit die ou, maar baie bekende Fortress lyne van Burkhardt Hermann. Aan moederskant is dit HART 11-0102 wat al die pad teruggaan na VV 99-0318 en AG 03-0029/TBR 91-0704. Daar is ‘n groot klomp Bonsmara geskiedenis in HART 14-0127 se teeling!

Die koeilyne aan moederskant is uitstekende reproduseerders en presteerders met HART 11-0102 (SA Stamboek ELITE SILWER KOEI) met OEK 23 mnde, TKP 400 dae/6 kalwers met speenindeks van 107 en sy speen teen 52.4% van haar liggaamsmassa. Haar moeder VV 06-0098 is ‘n SA Stamboek ELITE GOUE KOEI met TKP van 381 dae oor 9 kalwers. Beide moeder en ouma is visueel 8,5 gepunt en is mooi vroulike koeie met baie goeie uiers en spene.

HART 14-127 se uitstekende manlikheid sal jou eerste opval. Sy kop is baie sterk met sterk oogbanke, goeie breedte tussen die oë, tipiese dik en donker bul nek met pragtige verdonkering. Sy skrotum is goed gevorm en omtrek is 40,5 cm. Ek het lanklaas ‘n bul gesien wat soveel manlikheid uit straal.

Hy vertoon uitstekende balans, baie goeie bouvorm, goeie breedte regdeur, goeie kapasiteit, goeie sprong van rib en mooi diepte deur die voorlyf. Dit is ‘n lang bul met hoogte/lengte verhouding van 1:19 en nog steeds ‘n sterk toplyn en uitstekende kruishelling en stertaanhegting. Sy bespiering is goed en hy is vol vleis – mooi buite en binne dye, lende en kruishellings is ook goed gevul met vleis.

Hy is uitstekend aangepas vir die ekstensiewe toestande. Sy vel is blink, glansend, dik en los– kyk die velvoue in die nek asook die keelvel. Sy hare is kort en blink. Die skofontwikkeling is baie goed. Sy bene is baie sterk – daar is goeie breedte oor die hakke, die kloue is goed en dit alles dra by tot ‘n Hartebeestloop VeldBulindeks van 116.

Sy teelwaarde indekse is goed gebalanseerd en presies wat verwag word van ‘n mediumraam en “easy fleshing” bul met baie goeie voorspeense (111) en naspeengroeivermoë (111). Hy is ‘n TOP PRESTEERDER met Speenindeks (117), GDT (108) en Veldvoeromset (105). Ek lig net 2 teelwaarde indekse uit wat onontbeerlik is vir winsgewende boerdery in droër, ekstensiewe omgewings – Koei Waarde (100) en Onderhoud Waarde (109). Sy geboortedirekte teelwaarde indeks wys 63 en dit stem nie ooreen met sy prestasies en visuele voorkoms as kalwingsgemak bul nie. Ons het hom meerendeels net op verse van 18 tot 22 maande gebruik, gemiddelde geboortemassa van die kalwers was 35 kg en geen kalfprobleme gehad nie. Sy oupa BHE 03-0126 was ook meerendeels net op verse gebruik. Sy huidige gewig mag dalk ‘n probleem wees vir jonger verse.

HART 14-0127 vertoon hoë stoetpotensiaal en is ‘n bul wat baie sal bydra tot enige kudde. Sy manlikheid, vermoë om gou in kondisie te kom, “easy fleshing”, vleiseienskappe en bouvorm is belangrike eienskappe in enige kudde. Die langdurige droogte het ons gedwing het om alle oop verse na die RSA te skuif. Met die RSA Bek-en-Klouseer uitbraak, kan hulle heel waarskynlik nie weer terugkom na Namibië nie. Was dit anders, sou HART 14-0127 beslis nie op die veiling wees nie. Hy is een van my gunstelinge op die veiling!




LOT 08: HART 16-0110

VIDEO    


Hy is geteel uit HART 09-0329 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) – ‘n bul wat diep spore in die Hartebeestloop kudde en baie ander Namibiese kuddes getrap het. Moederlyne bly die hoeksteen van sukses van die Hartebeestloop kudde en kyk gerus na die prestasies van sy moederlyne – Ouma vaderskant HART 06-0096 OEK 24 mnde, TKP 372 dae/9 kalwers, Ouma moederskant BHE 02-0199 OEK 34 mnde, TKP 421 dae/9 kalwers en sy moeder HART 08-0192 OEK 25 mnde TKP 379 dae/8 kalwers. “There is a Magic in Numbers” – vir die stoetboer beteken dit ‘n groter getal vir seleksie en vir die kommersiële boer beteken dit meer verkope en meer geld. Stoet of kommersieël – jy benodig hierdie moederlyne!

HART 16-0110 is ‘n mediumraam bul met uitstekende bouvorm, goeie bespiering, goeie breedte, vol binne en buite dye, sterk toplyn, genoegsame kapasiteit en uitstekende lengte (hoogte/lengte verhouding 1:23). Hy is sekerlik die langste bul op die veiling. Ons het hom met groot sukses gebruik om verse oop te maak en die gemiddelde geboortegewig van die kalwers is 36 kg. Sy kruishelling, stertaanhegting en onderlyn is baie goed – perfekte skede/naelvel kombinasie. Hy is ‘n toonbeeld van aanpasbaarheid – baie mooi skof, blink van vel en haar, lang stert, sterk bene met baie goeie kloue en los vel. Kyk ook na die swart pigment op die neusspieël. Hy is een van die bes aangepasde bulle op die veiling met ‘n Veldbulindeks van 109.

Sy manlikheideienskappe is uit die boeke – sterk kop wat hy mooi dra, sterk oogbanke en bek, goeie breedte tussen die oë en dik bulnek met mooi verdonkering. Skrotumomtrek is 42 cm en dit hang baie mooi.

Sy teelwaarde indekse kan nie beter nie – naby rasgemiddeld vir Volwasse Gewig (98) en Skouerhoogte (94), melkwaarde (101) voorspeense en naspeense groeivermoë (112) en (118) onderskeidelik en GDT (104).

Die uitgerekte droogte het die volgende 3 waarhede weereens bevestig:

  1. Droë, oorbespierde bulle teel sulke koeie en hulle reproduseer nie.
  2. Pap, onderbespierde bulle teel sulke koeie en hulle kan nie konstitusie handhaaf nie.
  3. Liggaamskondisie en in effek Onderhoud Waarde is die heel belangrikste drywer van reproduksie en wins in ekstensiewe boerderye.

Ek lig die prestasietoetsing data van HART 16-0110 uit vir bogenoemde eienskappe – Oogspieroppervlakte (104) – indikasie van bogemiddelde bespiering, Vroeë vetneerlegging (102) – indikasie van vermoë om liggaamskondisie te handhaaf of gou te verbeter en Onderhoud Waarde (100) – indikasie van om meer te doen (presteer) met minder insette (onkostes). Hierdie prestasies word verder versterk deur sy Liggaam Kondisietelling punt op die veld, wat vanaf speen tot nou deurgaans goed is. Die engelse term “Body Condition Score” is meer beskrywend.

HART 16-0110 is in alle opsigte ‘n uitstaande bul! Stoettelers teel vir die vleisbedryf en wil graag diere teel wat meer geld in hulle kliënte se sakke sit. Gebruik dan bulle met hoë stoetpotensiaal, uitstekende prestasies op die veld, lae insetkostes en bogemiddelde groeivermoë.




LOT 09: HART 17-0057

    


Hy is geteel uit HART 11-0050 (kliek op die stoetvaar skakel) en HART 07-0177. Sy doen goed vir ons met OEK 26 mnde, TKP van 363 dae/8 kalwers en sy speen haar kalwers teen gemiddeld 46% van haar liggaamsmassa. Hierdie is goeie syfers vir koeie wat die afgelope 8 jaar reproduseer en produseer met ondergemiddelde reënvalsyfers. Die waarde om konstant en streng te selekteer vir lae insetkoste, aangepasde en vrugbare diere is definitief die moeite werd. Met die huidige droogtetoestande in ons omgewing, het natuurlike seleksie heeltemal oorgeneem en is die boer se rol slegs om die diere in hou-troppe en uitskottroppe te verdeel.

HART 17-0057 is ‘n mediumraam bul wat net op koeie gebruik moet word. Sy bouvorm is goed met genoegsame bespiering en breedte, baie mooi kapasiteit, goeie sprong van rib en ‘n diep voorlyf. Opvallend is sy baie goeie aanpasbaarheideienskappe met seepgladde en glansende vel, kort en blink haarkleed, baie ekstra los velle in die nek/keelvel gedeelte. Die velvoue is breed wat aanduiding is van ‘n dik en los vel. Boere besef die waarde van ‘n blink, los en dik vel in hitte regulering en relatiewe weerstand van die dier teen bosluisbyte weens die goeie bloedtoevoer. Sy VeldBulindeks (107), Onderhoud Waarde (104), vroeë vetneerlegging (126) en goeie voorspeense (102) en naspeense (106) groeivermoë wys sy aanpasbaarheid en prestasie op die veld.

HART 17-0057 sal goed presteer in beide speenkalf en os produksiestelsels. Sy nageslag behoort goed te groei op die veld en behoort vinnig in kondisie (slag gereed) te kom. Boere wat raamtipe, goeie aanpasbaarheid en bogemiddelde groeivermoë in hulle kudde wil inbring, kan gerus na hom kyk!




LOT 10: HART 16-0375

VIDEO    


As hy so staan teen die duine, kry boere ‘n “feel good” gevoel – jy kan sien dat hy is geteel vir die moeilike en ekstensiewe omstandighede. Sy teling is HART 09-0014 wat al die pad terug gaan na Kruger Bonsmaras en aan moederskant HART 13-0028 wat terug gaan na AG 02-0251 (Arcadia Bonsmaras). HART 16-0375 het ook diens gedoen by Streicher & Hella Coetzee van Hochfeldstreek Bonsmaras en sy kalwers lyk uitstekend.

HART 16-0375 is ‘n mediumraam bul met uitstekende bouvorm, baie goeie bespiering, mooi kapasiteit, goeie breedte en baie diepte deur die voorlyf. Hy is ‘n tipiese vroeër ryp bul met baie goeie balans en hy beweeg gemaklik. Toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is baie goed, Bene, kloue en breedte oor die hakke is baie goed. Ek sal hom aanbeveel vir gebruik op koeie alleenlik – hy is baie breed met baie sterk buitedye en goeie bespiering.

Opvallend is sy sterk manlikheid – kop is baie sterk, goeie breedte tussen die oë, goed ontwikkelde oogbanke, uitstekende verdonkering en perfekte skrotum wat 40 cm meet. Hy het hierdie sterk koppe by sy kalwers geteel.

Hy het uitstekende aanpasbaarheidseienskappe - goeie skofontwikkeling, uitstaande kwaliteit vel en haar met dik en loshangende vel. Sy onderlyn is mooi met baie goeie skede/naelvel kombinasie. Sy teelwaarde indekse is ook regdeur goed met genoeg voorspeense (118) en naspeense (116) groei, melk (97), GDT (99), hoogte/lengte verhouding van 1:21, Onderhoud Waarde van (101) en Veldbulindeks van 106.

Ek sien gereeld hoe hierdie vroeër ryp tipe bulle orals in Namibië presteer. Die raamtipe moet egter ondersteun word met aanpasbaarheid, strukturele korrektheid, sinvolle teelwaardes en hoë libido.

HART 16-0375 is sekerlik een van die uitskieterbulle op die veiling! Hy is ‘n baie goeie voorbeeld van hoe Bonsmara bulle in Namibië moet lyk en teel. Indien jy breedte, bespiering, baie goeie vleiseienskappe en manlike koppe in jou kudde wil verbeter, sonder om op strukturele korrektheid, fenotipiese doeltreffenheid of enige visuele eienskap te kompromiteer – kyk gerus na HART 16-0375.




LOT 11: HART 17-0059

VIDEO    


Hy is geteel uit HART 11-0050 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) wat sterk gebruik is om groeivermoë in die Hartebeestloop kudde te vestig. Net ‘n paar woorde oor groei in vleisbeeste. Moenie te veel klem lê op groeivermoë as enkeleienskap nie. Dit verhoog jou geboortegewigte en ook jou insetkostes. Groei kom nie verniet nie – goeie groeiers het gewoonlik swaarder Volwasse Massa – en dit beteken dat hulle weidingsbehoefte groter is. Hulle vreet meer gras om daardie gewigte te bereik en hulle genetiese groeipotensiaal ten volle te benut. Bogenoemde moet egter verreken word teen die feit dat ons betaal word vir gewig – en basies niks anders nie!

Jy moet die aanwending van jou bulle ken en diè met swaarder geboortegewigte op koeie gebruik. Dit is belangrik om goeie groeivermoë te kombineer met ander ekonomiese belangrike eienskappe soos strukturele korrektheid, aanpasbaarheid, goeie loopvermoë, balans, goeie bouvorm en hoë vrugbaarheid.

HART 17-0059 moet net op koeie gebruik word. Hy is ‘n raamtipe 3,5 bul met uitstekende bespiering en baie goeie bouvorm. Ek lig ‘n paar teelwaarde indekse uit wat die aanwending van hom om swaar speenkalwers en baie goeie osse te produseer, uit: Onthou – die gemiddelde teelwaarde indeks van die Bonsmara ras is 100. ‘n Teelwaarde Indeks van 135 beteken dus 35% beter as rasgemiddeld.

  1. Voorspeense (135) en naspeense (130) groeivermoë
  2. GDT (118), Voeromsetverhouding (119) en Weidingomsetverhouding (112)
  3. Volwasse Massa (126) en Skouerhoogte (110)
  4. Oogspieroppervlakte (118) en marmering (113)
  5. Uitslagpersentasie (118) en Vleisopbrengs (124)
  6. Kalf Groei Waarde (135)

Nieteenstaande die vuurwarm syfers en prestasies, is hy nie ‘n laat ryp, groot raam dier nie. Sy VeldBulindeks van 100 wys dat hy op die groepgemiddeld is – hy is aangepas vir veldtoestande. Sy aanpasbaarheid is baie goed – kom kyk gerus na die bul in lewende lywe. Hy is ‘n toonbeeld van manlikheid met sterk kop en ‘n skrotum wat perfek hang en 41,5 cm meet. HART 17-0059 kom uit baie goeie moederlyne met beide oumas en sy ma HART 11-0248 wat baie goeie produksie en reproduksie syfers het.

HART 17-0059 is ‘n spesialis groeier. As jy speengewigte en os “groei en gewigstoename” op die veld wil verbeter in jou kudde sonder om enige ander belangrike eienskap (behalwe geboortegewig) te benadeel, moet jy na HART 17-0059 kyk. Jy moet hom egter net op koeie gebruik.




LOT 12: HART 17-0042

VIDEO    


Hy is geteel uit van die beste produserende en reproduserende moederlyne op Hartebeestloop. Sy ouma aan vaderskant is ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI, BHE 04-0201 met speenindeks van 103/10 kalwers, sy ouma aan moederskant is EI 99-0289 met OEK 30 mnde, TKP 404 dae/8 kalwers en speenindeks van 106/8 kalwers. Sy moeder VBB 08-0092 is ook ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI met OEK 31 mnde, TKP 377 dae/8 kalwers en speenindeks van 107/8 kalwers. Daar is goeie melk in hierdie moederlyne. Daar is soveel persepsies oor wanneer is melk genoeg in vleisbeeste – die feit bly staan dat hoe meer bespiering ingebring word, hoe laer word melk (en ook vrugbaarheid) afgedruk. Dit is baie goed om te kan terugval na ‘n koeikudde wat genoeg melk en hoë vrugbaarheid het wanneer tè veel na die bespiering kant oorgeneig is.

HART 17-0042 is ‘n mediumraam bul met baie goeie bouvorm, baie breedte – regdeur vanaf sy dye oor sy toplyn tot in die skof, goeie kapasiteit, diep deur die voorlyf met baie goeie bespiering. Goeie bespiering is gekorreleer met goeie uitslagpersentasie en hoë karkasopbrengs – dit wys HART 17-0042 se teelwaarde indekse van (104) en (114) onderskeidelik vir die 2 “os eienskappe”. Speenkalf en osboere kan gerus verder lees – sy voorspeense (119) en naspeense (112) groeivermoë is uitstekend, GDT (108), Voeromsetverhouding (112) en sy teelwaarde indeks vir Kalf Groei Waarde is (119). Hy is by uitstek ‘n bul wat uitstekende groei in jou kudde sal bring met swaar speenkalwers - en osse wat baie goed uitgroei op die veld.

Nieteenstaande die uitstekende groeivermoë en voeromsetverhouding, is sy geboortewig van 36 kg en Geboortewig (94) en Hoogte (104) teelwaarde indeks binne perke. Hy is glad nie ‘n laat ryp tipe bees nie.

Hy is ‘n baie manlike bul met sterk kop, baie goeie verdonkering, wakker houding en skrotum wat 45 cm meet - skrotum teelwaarde indeks is (126). Sy aanpasbaarheidseienskappe is uitstekend met ‘n baie goeie vel en haarkleed, lang stert en goeie skofontwikkeling.

HART 17-0042 is struktureel korrek, fenotipies doeltreffend, geteel uit top moederlyne, uitstekend aangepas, baie manlik, met baie goeie bouvorm, baie goeie groeivermoë en goeie voeromsetvermoë. Daar is seker in elke kudde plek vir so ‘n bul!




LOT 13: HART 17-0067

    


Kom ons begin met die basis van suksesvolle boerdery - sy moeder is ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI BHE 04-0201 met OEK 27 mnde, TKP van 406 dae/10 kalwers en ‘n gemiddelde speenindeks van 103/10 kalwers.

HART 17-0067 is ‘n goed bespierde, mediumraam bul wat op uitgegroeide verse en koeie gebruik kan word. Hy vertoon uitstekende bouvorm, is breed met goeie buite dye, goeie kapasiteit en mooi diepte deur die voorlyf. Hy wys baie goeie lengte en sy hoogte/lengte verhouding is 1:22. Hy is dus 22% langer as wat hy hoog is. Dit is van die beste verhoudings op die veiling. Ek sou sy toplyn sterker wou sien ongeag die feit dat hy so lank is.

Hy is ‘n manlike bul met goed ontwikkelde sekondêre geslagseienskappe – sterk kop en dik oogbanke, dik en breë bulnek met baie mooi verdonkering en ‘n skrotumomtrek van 40 cm. Die bul se hele houding is manlik en trots!

Die aanpasbaarheideienskappe is ook goed ontwikkel met blink vel, lang en los keelvel, kort haarkleed, goeie skof, lang stert met welige stertkwas en sterk bene met goeie kloue. Hy is deel van ‘n groep droogte-taai bulle wat die VeldBultoets in die droogte doen onder moeilike omstandighede. Hy presteer bogemiddeld met VeldBulindeks van (104). Hy ken van ver loop vir min kos ver terug stap na die water.

HART 17-0067 het goeie teelwaardes. Hy is swaarder op geboortegewig (86), goeie voorspeense (114) en naspeense (109) groeivermoë, goeie GDT (104) en voeromsetverhouding (106) tesame met ‘n positiewe melkwaarde (95).

Hy kan in enige produksiestelsel gebruik word – daar is oorgenoeg groeivermoë met goeie GDT en voeromset om swaar speenkalwers te teel en goeie osse te produseer wat goed aangepas is en goed groei op die veld. Vir die boere wat wissel tussen speenkalf en os produksie, afhangende van die markpryse, is hy ‘n goeie keuse.




LOT 14: HART 17-0170

VIDEO    


Hy is ‘n 3.5 raamtipe bul met baie goeie bespiering, uitstekende bouvorm, goeie breedte, sterk toplyn wat eindig in lang en goeie kruishelling en is mooi diep deur die voorlyf. HART 17-0170 dra baie vleis en is regdeur goed gevul met vleis – sy teelwaarde indekse vir Uitslagpersentasie en Vleisopbrengs is (106) en (128) onderskeidelik.

Hy vertoon baie goeie manlikheid – sterk kop, goeie breedte tussen die oë met sterk ontwikkelde oogbanke, breë bek en wakker-oog, kop-op hoë libido bul. Sy verdonkering in die nek/voorlyf is opvallend, skrotum is goed gevorm, hang simmetries en meet 41,5 cm. Sy skrotumomtrek teelwaarde indeks is (120) – die kanse is dus baie goed dat hy kwaliteit fisiese skrotums en groot skrotumomtrekke sal teel. Die waarde van ‘n bul met hoë libido kan nooit oorskat word nie.

HART 17-0170 is ook baie goed aangepas vir veldtoestande – sy VeldBulindeks van (113), sy goeie groei gedurende die toetsperiode op die veld asook sy bogemiddelde kondisietellings wys presies hoe en waarvoor hy geteel is – op die veld vir die veld! Nieteenstaande sy goeie bespiering en bouvorm, is sy vroeë vetneerlegging teelwaarde indeks (110). Vanuit ‘n ekstensiewe veldboerdery oogpunt, kan ek nie genoeg die waarde van die kombinasie van goeie bespiering en vroeëvetneerlegging beklemtoon nie. Dit is die tipe diere wat konstitusie en kondisie handhaaf op die veld en konstant produseer en reproduseer.

HART 17-0170 het uitstaande voorspeense (127) en naspeense (126) groeivermoë en ‘n goeie GDT van (109). Sy 3 belangrike seleksie indekse is Koei Waarde (102), Groei Waarde (130) en Produksie Waarde (121). Beter teelwaarde indekse as dit kan jy nie vra nie!

HART 17-0170 wys goeie stoetpotensiaal en sal baie gewild wees onder voornemende kopers. Sy sterk punte is geslagsegtheid, aanpasbaarheid, bouvorm, groeivermoë en algemene visuele voorkoms. Indien jy enige van voorgenoemde of ‘n kombinasie daarvan in jou kudde wil verbeter, is HART 17-0170 sekerlik een van jou eerste keuses.

Dit bly ‘n aangename gevoel om sulke bulle te teel en voor jou oë te sien ontwikkel!




LOT 15: HART 17-0075

    


‘n Mediumraam, kalfgemak bul wat op beide verse en koeie gebruik kan word. Hy vertoon goeie bespiering, goeie breedte, sterk toplyn, mooi kapasiteit en goeie diepte deur die voorlyf. Alhoewel sy bespiering goed is, vertoon hy glad en soepel met geen oormatige definisie van spier of oormatige knoppe by die voorarms nie.

HART 17-0075 was ‘n TOP PRESTEERDER tydens prestasietoetsing met Speenindeks (111), GDT (105) en Veldvoeromset (101). Sy teelwaarde indekse vir voorspeense groei (99) en naspeense groei (102) tesame met GDT (104) wys dat hy ook gerus op koeie gebruik kan word. Hy is nie ‘n kalfgemak bul met ondergemiddelde groeivermoë nie. HART 17-0075 is ‘n tipiese “ALL ROUNDER” bul wat orals op die plaas en op enige trop verse of koeie gebruik kan word.

Hy wys uitstekende aanpasbaarheid en doen baie goed op die veld. Sy goeie bespiering (oogspieroppervlakte teelwaarde indeks van 105), kombineer baie goed met ‘n vroeë vetneerlegging van 118. Dit is altyd ‘n bonus as goeie bespiering ook komplimenteer word deur diere wat gou vet aansit, in kondisie kom en die kondisie hou, selfs in moeiliker tye. Sy gewigstoename en kondisietelling op die veld tydens ‘n moeilike en droeë VeldBultoets tydperk, was altyd bogemiddeld en hy eindig met ‘n VeldBulindeks van 108. Dit wil gedoen wees. Visueël vertoon hy ook baie goed met sterk skofontwikkeling, baie gladde en blink vel en haar, lekker los vel met goeie keelvel en sterk bene.

HART 17-0075 vertoon goeie sekondêre manlikheideienskappe – sterk kop, kop-op houding met goeie verdonkering en ‘n goed gevormde skrotum wat 40,5 cm meet. Hy het ‘n klein wit vlek net voor die skrotum.

Hy is geteel uit HART 11-0050 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) en HART 06-0096. Sy was een van die top koeie in die kudde met OEK 24 mnde, TKP van 372 dae/9 kalwers. Sy speen haar 9 kalwers teen 48,6% van haar eie liggaamsmassa. Ons het ‘n uitstekende seun HART 14-0385 van haar aan Werner en Anita Schroër verkoop.

Hy is ‘n kalfgemak bul met genoegsame groeivermoë wat ook op koeie gebruik kan word. Baie veilige bul wat in enige kudde gebruik kan word. Kyk gerus na hom as jy verse wil oopmaak sonder probleme en ook as hy moet instaan vir enige van jou ander bulle by die koeitroppe.




LOT 16: HART 17-0189

VIDEO    


Hierdie bul sal dadelik jou oog vang. Uitstekende mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Sy bouvorm is baie goed, lang bul, goed bespierd, goeie breedte met mooi dye, baie goeie kapasiteit en ‘n diep voorlyf. Toplyn, kruishelling, stertaanhegting, bene en kloue is baie goed. Die balans en beweging is baie goed – en hierdie 2 eienskappe is van groot belang in die duine wêreld waar bulle tot onder hulle bykloue in die sand sak. Daar is werklik geen fout te vind met die strukturele korrektheid van hom nie.

Opvallend is die uitstekende aanpasbaarheidseienskappe – van die beste vel en haarkwaliteit op die veiling. Kyk gerus na die los, dik en oormaat keelvel. Hy wys alle eienskappe wat nodig is vir goeie prestasie op die veld – genoeg bespiering om konstitusie te behou (oogspieroppervlakte 111), vroeë vetneerlegging (154), “grass feed efficiency” (104), Onderhoud Waarde (121) en top presteerder tydens VeldBultoets (113) . Beeste moet presteer onder natuurlike weidingtoestande en boere wil graag daardie eienskappe in kuddes vasteel. Dit kan net gedoen word as die regte bulle en die regte kriteria vir seleksie gebruik word.

Die sekondêre manlikheideienskappe is goed ontwikkel. Wakker bul met kop op, goeie oogbanke, breed deur die kop, pragtige verdonkering en ‘n skrotum wat perfek gevorm is en simmetries hang. Sy naelvel/skede kombinasie is ook 100%.

Die teelwaarde indekse is deurgaans baie goed – laag op geboortedirek/kalfgemak (104), goeie voorspeense (104) en naspeense (112) groeivermoë, bogemiddelde GDT (106), baie goeie vleiseienskappe wat reflekteer word in uitslagpersentasie (116) en vleisopbrengs (120). Kyk gerus ook na die 3 seleksie indekse – Koei Waarde (107), Groei Waarde (110) en Produksie Waarde (108). Jy kan nooit jou bul besluit op teelwaarde indekse alleen baseer nie. Wanneer die teelwaarde indekse en voorkoms mekaar so duidelik ondersteun soos in HART 17-0189 “then you have covered all bases”.

HART 17-0189 wys hoë stoetpotensiaal. Daar is soveel goeie eienskappe wat hy na kuddes sal bring. Ernstige stoettelers en kommersiële boere sal dit nie miskyk nie. Na alles gesê en gedaan is, hy is een van die gunsteling bulle op die veiling!




LOT 17: HART 17-0182

VIDEO    


‘n Sterk mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Ons verwys gereeld na die term “ALL ROUNDER” wat beteken dat die spesifieke bul op verse en koeie gebruik kan word. Die term “MULTI-PURPOSE” wat ook gereeld gebruik word, beteken dat daar genoegsame groeivermoë in die bul is om beide goeie speenkalwers en osse te produseer. In kort – sekere kalfgemak bulle is nie nèt om verse oop te maak nie – daar is baie meer in die bul! HART 17-0182 is so ‘n tipe bul.

HART 17-0182 het baie goeie bouvorm en uitstekende balans. Daar is goeie breedte, mooi lengte, goeie kapasiteit en diepte deur die voorlyf. Hy is struktureel korrek met sterk toplyn, goeie kruishelling en stertaanhegting. Hy dra ook baie vleis en is ‘n tipiese Hartebeestloop moeilike wêreld, “easy fleshing” en vroegryp bul wat uitstekend sal doen onder veldtoestande.

Sy manlikheid is baie goed – sterk kop wat hy hoog dra, sterk oogbanke, breed tussen die oë met dik en donker nek en skrotum wat mooi hang en 41 cm in omtrek meet. Hy maak ‘n goeie eerste indruk met sy manlikheid.

Jy kan nie beter aanpasbaarheid kry nie. Van die uitstekende vel en haar, lang stert, goeie skof, skoon onderlyn, sterk bene – en dit is hoekom hy so uitstekend doen op die veld met ‘n Veldbul Ekonomiese Indeks van (105), Onderhoudskoste Teelwaarde Indeks van (121), weidingomsetverhouding van (118) en Vroeë vetneerlegging van (157). Kyk mooi na bogenoemde waardes – alles wat nodig is vir hoë produksie en reproduksie op die veld, is ver bogemiddeld.

Jammer oor die klomp teelwaarde indekse – maar dit is nie elke dag dat jy ‘n bul teel wat visueël top gepunt word en ook ondersteun word met sy prestasies in die vorm van teelwaarde indekse nie.

Geboortedirek/kalfgemak (101), voorspeense (93) en naspeense (108) groeivermoë, goeie GDT van (113), voeromsetverhouding (108), melkwaarde (123), oogspieroppervlakte (101), uitslagpersentasie (106), Vleisopbrengs (114) en die 3 belangrike seleksie indekse is Koei Waarde (107), Groei Waarde (118) en Produksie Waarde (110).

HART 17-0182 behoort na ‘n stoetkudde of ernstige kommersiele boer te gaan wat determineerd is om vinnige genetiese vordering en groter wins in die kudde te maak. Hy is ‘n goeie voorbeeld van hoe die moderne Namibiese Bonsmara moet lyk en presteer.




LOT 18: HART 17-0097

    


Hy is geteel uit FCT 11-0285 en HART 12-0150. Sy is ‘n SA Stamboek 4-STER koei met baie goeie syfers – OEK 24 mnde, TKP 361 dae/6 kalwers, met speenindeks van 108/5 kalwers en sy speen teen 44,9% van haar liggaamsmassa. Haar ma HART 07-0078 was ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI met OEK 26 mnde, TKP 349 dae/10 kalwers met speenindeks van 101. Kyk gerus ook na die uitstekende data van sy ouma aan vaderskant – top koei FCT 06-0069 uit die Kit Thompson stal.

Dit help nie om ‘n bulbeskrywing/bulevaluering vir ‘n veiling te doen as jy nie die moederlyne se prestasies ken nie. Die Bonsmara is ‘n moederlyn ras en dit is waar alles begin. Dit is eintlik die waarde en prestasie van die Bonsmara koei wat soveel boere na die Bonsmara ras aantrek.

HART 17-0097 is ‘n mediumraam bul met uitstaande teelwaarde indekse:

  1. Voorspeense (115) en naspeense (120) groeivermoë vir swaar speenkalwers en osse wat goed en swaar uitgroei op die veld.
  2. Melkwaarde (109) vir genoeg melk aan sy vroulike nageslag om op hulle beurt weer goeie speenkalwers te produseer.
  3. Uitstekende voeromsetverhouding (111), GDT (123) en Weidingomset (119) – sit voer en gras baie effektief om in vleis en gewig.
  4. Baie goeie kombinasie van bespiering met oogspieroppervlakte (119) en vroeë vetneerlegging (126) – “Body Condition Score” is die Alpha en Omega van winsgewende boerbeeste. Sy VeldBulindeks is (111) en sy kondisietelling indeks is (110) tydens die toetsperiode onder moeilike omstandghede.
  5. Vir Meatco en die osboere – Uitslagpersentasie (122) en Vleisopbrengs (125).
  6. Die 3 belangrike seleksie indekse vir Bonsmaras: Koei waarde (115), Groei Waarde (127) en Produksie Waarde (120).

Die waarde van bulle word egter nie deur net prestasietoetsing en teelwaarde indekse bepaal nie. HART 17-0097 is ‘n goed bespierde bul met goeie bouvorm, mooi breedte, sterk toplyn, goeie kapasiteit en sprong van rib. Hy dra baie vleis en is goed gevul in die lendes, kruishelling en vertoon goeie binne en buite dye. Sy aanpasbaarheidseienskappe is uitstekend ontwikkel – baie gladde en blink vel met breë velvoue en kort haar wat blink. Die keelvel sny bietjie op in die nekgedeelte, Goeie skofontwikkeling met sterk bene en goeie kloue, gemaklike loopvermoë en goeie balans maak dat hy in die duine goed beweeg.

Ek sou graag die kop sterker wou sien alhoewel al die ander sekondêre manlikheidseienskappe goed ontwikkel is. Verdonkering is goed, skrotum is mooi gevorm en hang simmetries.

HART 17-0097 is ‘n baie goeie bul en sal uitstekend presteer onder veldtoestande. Ek kan hom met groot gerustheid aanbeveel vir speenkalf en os produksiestelsels – asook in ‘n goed beplande kruisteelstelsel. As jy na sy bouvorm, breedte, goeie kapasiteit, hoë melkwaarde en aanpasbaarheid kyk, behoort hy ook baie goeie vervangingsverse te teel. Hierdie eienskappe is belangrik vir vroulike diere om onder veldtoestande te presteer.




LOT 19: HART 17-0087

VIDEO    


Weereens ‘n baie goeie seun van HART 11-0058 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) en HART 13-0222. Haar prestasiedata is baie goed met OEK 31 mnde, TKP van 377 dae oor 4 kalwers en speenindeks van 100/4 kalwers. Sy speen haar 4 kalwers teen 59,6% van haar liggaamsgewig. Dit is nou uitstekende koeidoeltreffenheid. Ons verwag hierdie tipe data van ‘n vers of eerste kalf koei maar, die prestasie is nie algemeen na 4 kalwers wat gespeen is nie.

HART 17-0087 is ‘n mediumraam bul met uitstekende aanpasbaarheidseienskappe. Kyk gerus na die hoe die vel blink en die glansende kort hare. Die vel is dik, loshangend en eindig in ‘n mooi keelvel. Hy vertoon goeie skofontwikkeling, lang stert, sterk bene en skoon onderlyn. Hy neig definitief na die meer Indicus tipe Bonsmara en dit is wat ons graag wil teel vir boer onder ekstensiewe veldtoestande. Hy is nie donkerrooi van kleur soos baie Bonsmaras nie, maar is ‘n ligter skakering van rooi wat die hitte en intensiteit van die infrarooi strale baie beter kan beheer en reflekteer.

Hy vertoon goeie bouvorm met goeie bespiering, sterk toplyn, goeie middelstuk en sprong van rib asook mooi diepte deur die voorlyf. Sy teelwaarde indekse is baie goed in balans met voorspeense en naspeense groei (104) en (107) onderskeidelik, GDT (106) en melk (99). Meeste van sy teelwaarde indeks is op rasgemiddeld of matig beter en dit is presies wat ons soek.

HART 17-0087 vertoon goeie manlikheid met sterk kop, goeie oogbanke mooi verdonkering en ‘n goedgevormde skrotum wat mooi hang en 40 cm meet.

HART 17-0087 is vir my ‘n baie goeie voorbeeld van die tipe diere wat ons in Namibië mee moet boer. Na baie jare se boer en teling weet boere presies watter tipe diere onder Namibiese veldtoestande goed presteer. Dit is diere met ‘n goeie skoot Bos Indicus eienskappe maar, ook die beste eienskappe van Bos Taurus beeste daarmee kombineer. Dit weerspieël die aanvanklike ras samestelling van die Bonsmara. Ek en die beesmanne op Hartebeestloop slaan die bul baie hoog aan! Hy behoort na ‘n ernstige stoetteler te gaan.




LOT 20: HART 17-0110

VIDEO    


Hy is ‘n goed bespierde, mediumraam, kalfgemak bul wat op goed uitgegroeide verse en koeie gebruik kan word. Hy is geteel uit HART 13-0050 en HART 11-0228. Haar OEK is 24 mnde, TKP is 394 dae/6 kalwers met ‘n gemiddelde speenindeks van 100/6 kalwers.

Sy bouvorm, bespiering en breedte is baie goed. Toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is mooi, agterkwart is vol vleis en die binne en buite dye is goed gevul. Sy middelstuk, sprong van rib asook diepte deur die voorlyf is goed en dit rond die prentjie af van ‘n bul wat struktureel korrek is, mooi in balans en baie goeie visuele indruk maak. Sy vleiseienskappe is baie goed en die algemene indruk is dat hy ‘n vol-vleis bul is. Kyk gerus na sy teelwaarde indekse wat met vleis en opbrengs te doen het – Oogspieroppervlakte (aanduiding van algemene bespiering) 121, Uitslagpersentasie (119), Vleisopbrengs (101), Kalf Groei Waarde (102) en Produksie Waarde (104).

Aanpasbaarheid is die sleutel tot goeie prestasie op die veld. HART 17-0110 doen baie goed in die opsig met ‘n uitstekende kwaliteit vel en haarkleed – hy blink in die son en die vel is dik met ’n loshangende keelvel. Die skof is sterk, stert is lank, bene en kloue is baie goed en hy beweeg baie gemaklik in die dik sand en oor die duine. Jy kry dadelik die indruk dat hy goed aangepas is vir sy omgewing en dat hy orals sal aan pas. Waarheen hy ookal gaan, dit sal sekerlik ‘n “makliker” omgewing wees as waarin hy groot geword het! Hy is ‘n tipiese lae insetkoste bul met Onderhoud Waarde (123) en VeldBulindeks van (100). As jy die regte raamtipe, lae insetkoste en goed aangepasde beeste wil teel, gebruik HART 17-0110.

Jou wins is in die aantal kalwers wat ‘n bul oor sy leeftyd verwek. Manlikheid en hoë libido is dus belangrik. Kyk sy sterk kop, wakker oë, goed ontwikkelde oogbanke, mooi breedte tussen die oë, goeie verdonkering in die nek en oor voorlyf met ‘n sterk en dik bulnek. Sy onderlyn is skoon met ‘n baie goeie naelvel/skede kombinasie en die skrotumomtrek is 48,5 cm, dit is simmetries en hang baie mooi.

HART 17-0110 kan in beide speenkalf en os produksie stelsels baie suksesvol gebruik word. Hy is ‘n goeie “ALL ROUNDER & MULTI-PURPOSE” bul om op die plaas te hê. Enige boer wat aanpasbaarheid, raamtipe, lae insetkoste, vleiseienskappe en vrugbaarheid in sy kudde wil verbeter, moet hom oorweeg.




LOT 21: HART 17-0124

    


Daar is geweldige goeie diepte/blou bloed in die moederlyne waaruit hy geteel is. Aan vaderskant is dit BHE 04-0201 wat ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI is. Aan moederskant is daar die SA Stamboek ELITE SILWER KOEI BHE 05-0059 en die bulmoeder HART 07-0122 wat ook ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI is. Haar OEK is 29 mnde, TKP van 369 dae/8 kalwers en gemiddelde speenindeks van 109/8 kalwers.

HART 17-0124 is ‘n sterk bespierde 3,5 raamtipe bul wat op koeie gebruik moet word. Hy vertoon uitstekende bouvorm, is baie breed met goeie dye, sterk bespiering, goeie kapasiteit en goeie diepte deur die voorlyf. Nieteenstaande sy lengte, is sy toplyn sterk en breed en sy kruishelling en stertaanhegting baie goed. As jy praat van baie vleis dra, kyk weer na hom. Hoe anders met teelwaarde indekse van (113) vir uitslagpersentasie en (125) vir vleisopbrengs. Ons doen letterlik al vir dekades Real-Time ultrasoniese skanderings om vleiseienskappe te bepaal. Jy kan ons waardes vertrou.

Hy is ‘n baie manlike bul met uitstekende sekondêre geslagseienskappe – baie sterk kop en oogbanke, dik en breë bulnek met baie mooi verdonkering en ‘n skrotumomtrek van 45,5 cm. Sy skrotum is goed gevorm en hang baie mooi. Die bul se hele houding is manlik, trots en wakker!

Jy sien die aanpasbaarheid op en in die bul – van blink, gladde vel met kort haarkleed, sterk skofontwikkeling, lang stert regdeur tot sy sterk bene en goeie kloue. Weereens ‘n bul wat vroeë vetneerlegging (101) met goeie bespiering (112) kombineer en dit is die ideale kombinasie vir goeie prestasie op die veld. Ek sê weer - Ons doen letterlik al vir dekades Real-Time ultrasoniese skanderings om vleiseienskappe te bepaal. Jy kan ons waardes vertrou.

HART 17-0124 het uitstaande teelwaardes. Hy is swaarder op geboortegewig/kalfgemak (84) – sy voorspeense (124) en naspeense (127) groeivermoë, tesame met genoeg melk (94) en baie goeie GDT (116) en skrotum (129) maak hom ‘n uitstekende bul om in enige stelsel te gebruik.

HART 17-0124 wys nie net uitstaande groeivermoë nie. Hy kombineer dit met baie goeie aanpasbaarheid, manlikheid, hoë libido, groot skrotumomtrek vir goeie reproduksie en vrugbaarheid, uitstekende moederlyne, baie goeie bouvorm en strukturele korrektheid. Hy sal in enige stoet of kommersiële kudde van groot waarde wees.




LOT 22: HART 17-0103

    


‘n Mediumraam, kalfgemak bul geteel uit FCT 11-0285 en HART 12-0409. Sy doen goed in die kudde met OEK 25 mnde, TKP 376 dae/5 kalwers en gemiddelde speenindeks van 101/5 kalwers.

Hy is ‘n vroeg ryp “easy fleshing” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Sy aanpasbaarheid is regtig goed en sy baie goeie los, dik en blink vel met kort haarkleed is opvallend. Kyk gerus ook na die lang en loshangende nekvel met die breë velvoue. Die eienskappe wat prestasie in die veld positief beinvloed, is sterk aanwesig by hom – Weidingomsetverhouding (104), Kondisietelling indeks (101), vroeg vetneerlegging (106), Onderhoud Waarde (96) en VeldBulindeks (107). Dit is maklik om hierdie eienskappe visueel in die bul te herken.

Sy sekondêre manlikheidseienskappe is goed ontwikkel – sy sterk kop is opvallend, met goed ontwikkelde oogbanke, goeie breedte tussen die oë, mooi verdonkering in die nek en ‘n skrotum wat 37,5 cm meet, goed gevorm is en mooi hang.

HART 17-0103 vertoon goeie bouvorm, met genoeg breedte, bespiering, lengte asook goeie kapasiteit, sprong van rib en ‘n diep voorlyf. Alhoewel hy goed bespierd is, vertoon hy soepel en is sy beenstruktuur nie grof nie – hy kan met gerustheid op verse gebruik word. Kyk gerus na sy bene – effens fyner maar nog steeds genoeg breedte oor die hakke en struktureel korrek.

Almal is bekend met die terme “Body Condition Score” of kondisietelling – alle fasette van produksie en reproduksie in ‘n bees se lewenssiklus word bepaal deur kondisietelling. As ‘n vers of koei se kondisie nie reg is nie, vat sy eenvoudig nie bul nie. As ‘n slagbees (os/ou koei/uitskot) se kondisie nie reg is nie, behaal dit eenvoudig nie ‘n goeie prys nie. Jy kan nie verwag om die “regte genetiese kondisie beeste” te teel uit bulle waar diè eienskappe nie geneties in die familie vasgeteel is nie. Jy sal dus nie sulke diere uit laat ryp, groot raam oorwegend Taurus diere teel nie.

Kyk baie mooi na HART 17-0103 indien jy “regte genetiese kondisie beeste” eienskappe in jou kudde wil vermeerder en vas teel.




LOT 23: HART 17-0126

    


Baie goeie mediumraam bul geteel uit FCT 11-0285 en HART 13-0117. Sy kom uit uitstekende bloedlyne met haar ma GJN 06-0005 ‘n SA Stamboek ELITE BRONS KOEI met OEK 29 mnde en TKP 381 dae/8 kalwers. Haar eie OEK is 21 mnde, TKP 381 dae/5 kalwers met gemiddelde speenindeks van 106/4 kalwers. Sy speen teen 57,3% van haar liggaamsmassa. “Like mother, like daughter” – en dit is die waarde van herhaling van goeie reproduksie en vrugbaarheid.

Hy vertoon baie goeie bouvorm, is goed bespierd, met baie kapasiteit en goeie sprong van rib, ‘n diep voorlyf en hy is breed reg deur. Toplyn is sterk en breed, kruishelling is goed gevul met vleis en die stertaanhegting is 100%. Onderlyn is skoon en daar is ‘n goeie naelvel/skede kombinasie. Sy bene is sterk met goeie breedte oor die hakke en goeie kloue. Die balans en loopvermoë is regtig goed. Hy maak ‘n baie goeie prentjie en jy kan presies sien waarvoor hy geteel is – om klomp vleis te dra!

Sy aanpasbaarheid is baie goed – dit is ‘n kenmerk van diere wat in die warm en droë Kalahari presteer en jaarliks die seleksie proses deur staan. Hy wys die wenslike kombinasie van vroeë vetneerlegging om in gou in kondisie te kom en goeie bespiering om konstitusie te behou.

Sy genomiese teelwaarde indekse is deurgaans goed – swaarder op geboortegewig/kalfgemak (92), baie goeie voorspeense (116) en naspeense (116) groeivermoë, GDT (121), voeromsetverhouding (112), weidingomsetvermoë (117), melk (111) en skrotumomtrek (114). Ek kan so aanhou met elke teelwaarde indeks – maar dit kan jy self sien op die katalogus.

HART 17-0126 is ‘n uitstekende keuse vir meeste kuddes. Hy kan gebruik word in enige produksiestelsel en behoort ook baie goeie en funksionele verse te teel met oorgenoeg melk en goeie groeivermoë.




LOT 24: HART 17-0031

VIDEO    


Hy is geteel uit HART 13-0050 en HART 11-0353. Sy is ‘n baie vrugbare koei met OEK 26 mnde, TKP 362 dae/6 kalwers en speen teen 45,5% van haar liggaamsmassa.

HART 17-0031 is ‘n mediumraam bul wat op goed uitgegroeide verse en koeie gebruik kan word. Hy doen uitstekend tydens prestasietoetsing in sy groep bulle met GDT indeks (121) en Kleiberindeks/veldweiding omset indeks (115). Sy teelwaarde indekse vir geboortegewig (110), melkwaarde (95), voorspeense (101) en naspeense (108) groeivermoë en GDT (106) wys dat hy ook suksesvol op koeie gebruik kan word.

Hy wys heelwat Bos Indicus eienskappe wat so baie belangrik is in suksesvolle ekstensiewe veldboerdery. Sy vel is blink en glad, haarkleed is kort en glansend, goeie skofontwikkeling, lang stert met goeie bene en sterk kloue. HART 17-0031 wys regdeur goeie teelwaarde indekse maar hy moet ook evalueer word aan die eienskappe wat gemeet word en nie in amptelike prestasietoets data weergegee word nie. Sy temperament, maandelikse kondisietellings, gewigstoename op die veld, loopvermoë, balans en algemene prestasie in die groep bulle op die veld, was baie goed. VeldBulindeks is (107), Onderhoud Waarde (106) en Vroeë vetneerlegging (110) – hierdie is van die belangrikste eienskappe vir lae insetkoste diere wat goed produseer en reproduseer onder veldtoestande. In kort, as hy teel soos hyself presteer, eindig jy met ‘n uitstekende kudde boerbeeste onder veldtoestande.

HART 17-0031 wys goeie bouvorm, genoegsame bespiering, goeie breedte en kapasiteit, sterk toplyn en goeie diepte deur die voorlyf. Sy beenstruktuur is effens fyner wat bydra tot sy kalfgemak eienskappe.

Mooi manlike bul met sterk kop, wakker kop-op houding en baie goeie skrotum wat 46,5 cm meet.

HART 17-0031 is ‘n baie goeie bul om aanpasbaarheid, kalfgemak en verhoogde prestasies op die veld, in jou kudde te bring. Dit is onteenseglik bewys dat beeste wat tè Bos Taurus raak, swak presteer onder Namibiese veldtoestande. Kruisteling in Namibië is baie suksesvol wanneer die Bos Indicus invloed 2/3 en meer is in die kruisdier. Indien jou kruiskudde dus tè Bos Taurus raak, kan jy gerus HART 17-0031 oorweeg. Behalwe vir die Bos Indicus eienskappe bring hy ook al die goeie eienskappe van die Bonsmara ras in jou kudde.




LOT 25: HART 17-0144

VIDEO    


Hy is geteel uit HART 11-0050 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) en VV 06-0098. Sy is ‘n SA Stamboek ELITE GOUD KOEI met OEK 29 mnde, TKP 381 dae/9 kalwers en sy speen haar 9 kalwers teen 46,7% van haar eie liggaamsmassa.

Hy is ‘n goed bespierde raamtipe 3,5 bul met uitstekende bouvorm. Daar is goeie breedte, goed gevulde binne en buite dye, genoegsame kapasiteit en ‘n diep voorlyf. Hy is ‘n lang bul met sterk toplyn, goeie kruishelling, mooi stertaanhegting en sterk bene met genoeg breedte oor die hakke. Struktureel is hy baie korrek en hy behoort so te teel. Sy vleiseienskappe is baie goed – hy dra baie vleis. Hy moet net op koeie gebruik word.

Sy sekondêre manlikheideienskappe is baie goed ontwikkel met ‘n baie sterk en manlike kop, goed ontwikkelde en funksionele oogbanke, breed tussen die oë en ‘n goeie bulnek met mooi verdonkering. Sy onderlyn is skoon met ‘n goeie naelvel/skede kombinasie en ‘n skrotum wat mooi hang en 39,5 cm meet.

Ek gaan nie veel sê oor sy aanpasbaarheid nie. Dit is duidelik dat hy ‘n baie goeie voorbeeld is van ‘n aangepasde Bonsmara bul wat goed doen onder veldtoestande in die moeilike Kalahari.

Weereens ‘n bul wat uitstekende groeivermoë kombineer met goeie voer – en weidingomsetvermoë na vleis en gewig. Dit maak na saak waarheen sy kalwers gaan nie – voerkraal op uitgroei op natuurlike veld tot osse, hulle behoort goed te presteer. Ek wil weer verwys na die belangrikheid om goeie vetneerlegging te kombineer met goeie bespiering vir beeste onder veldtoestande. Boere verstaan die waarde van liggaamskondisie in elke faset van die waarde ketting – vanaf ‘n vers wat vroeg verhaar en gou in kondisie kom, tot ‘n koei wat goed in kondisie is met kalwing en dit behou totdat sy weer bul vat, al die pad tot hulle bulkalwers as osse bemark word in goeie kondisie en direk vanaf die veld. HART 17-0144 kombineer daardie 2 ekonomiese belangrike eienskappe.

Sy teelwaarde indekse is reg deur goed en kyk gerus op die katalogus.

HART 17-0144 is baie goed op bouvorm, geteel uit ‘n baie goeie moederlyn, het klomp blou bloed genetika in sy stamboom en het presies presteer soos wat verwag is. Kyk baie mooi na hom as jy ‘n “Multi-Purpose”, struktureel korrekte bul soek wat goed sal doen in enige produksiestelsel.




LOT 26: HART 17-0145

VIDEO    


Hy is geteel uit een van die mees doeltreffende moederlyne in die kudde. Sy moer, HART 12-0365 se OEK is 22 mnde, TKP 402 dae/5 kalwers en gemiddelde speenindeks van 99/5 kalwers. Sy speen haar 5 kalwers teen 58,1% van haar liggaamsmassa. Daar is ‘n betekenisvolle ekonomiese verskil tussen vrugbare en hoë reproduktiewe diere wat ook hoog doeltreffend speen, en diè wat nie doeltreffend speen nie. ‘n Mediumraam koei wat 45% en meer van haar eie massa speen, is ‘n treffer. Dit is die ideaal wat alle boere behoort na te streef.

HART 17-0145 is ‘n raamtipe 3,5 bul met goeie bouvorm wat net op koeie gebruik moet word. Hy is goed bespierd, vertoon goeie breedte, pragtige kapasiteit met goeie sprong van rib, ‘n diep voorlyf en ‘n sterk toplyn. Die vleiseienskappe is baie goed – lende, kruishelling, binne en buite dye is goed gevul met vleis en hy is mooi vol agter die blad. Dit wat ons sien word weerspieël in sy prestasiedata-Oogspieroppervlakte (111), Uitslagpersentasie (109), Vleisopbrengs (119), Kalf Groei Waarde (111), Groei Waarde (125) en Produksie Waarde (112). Speenkalf en os produsente ken ‘n bees maar, dit is goed om hulle visuele opinie te rugsteun met die nuutste genomiese data oor hoe die bul se nageslag behoort te presteer. Boere moet gebruik maak van alle moontlike hulpmiddels om die regte bul vir sy behoeftes te koop.

Hy is ongelooflik goed aangepas vir veldtoestande – van sy breë bek, dik oogbanke, goeie skof, uitstekende dik en los keelvel, goeie kwaliteit vel en haar, lang stert tot by sy sterk bene en goeie kloue. Hy is een van die top presteerders tydens die VeldBultoets met indeks van (114), weidingomsetverhouding (110), kondisietelling (110), Onderhoud Waarde (100) en Volwasse Gewig (98).

Groeivermoë op die veld en die vermoë om gras in vleis/gewig om te sit – Voorspeense (111) en naspeense groeivermoë (119), Gemiddelde Daaglikse Gewigstoename (114) en voeromsetverhouding (105) – is van sy beste eienskappe.

HART 17-0145 sal sekerlik een van die gunsteling bulle op die veiling wees! Ons almal, is eintlik maar heeltyd op soek na die eienskappe waarin hy sterk is. Hy is een van die Hartebeestloop-span se keuses vir die veiling!




LOT 27: JMP 13-0069 (POENA / POLLED)

VIDEO    


Hy is ‘n beproefde heterosigotiese poena bul wat ons self gebruik het. Hy het werlik geen van die tekortkominge waarmee die poena beeste sukkel nie. Ons het al meer as 50 van sy kalwers aangemeld en daar is nog ‘n groot klomp op pad. Hy is ook baie sterk gebruik in die poena opteelprojek waar ‘n kombinasie van Simmentaler, Braunvieh, Tuli en Senepol is.

Hy is ‘n goed bespierde, mediumraam bul wat net op koeie gebruik moet word. Die gemiddelde geboortegewig van sy kalwers is 36kg. Sy breedte en bespiering is egter van so ‘n aard dat hy nie op verse gebruik kan word nie. Sy kalwers is ook goed bespierd met baie mooi bouvorm. Daar sal van sy kalwers op die veiling vertoon word om te wys hoe die bul teel.

Hy het uitstekend aangepas in die Kalahari. Volgens ons is JMP 13-0069 van die beter poena bulle tans in die bedryf. Hy het alle eienskappe wat die poena en horing beeste benodig – baie goeie aanpasbaarheid en manlikheid, baie goeie bouvorm en bespiering en hy is skoon getoets genomies vir dubbelbespierde gene. Sy Onderlyn is skoon en die naelvel/skede kombinasie is baie goed. Daar is geen teken of voorkoms van prolaps nie. Sy skrotumomtrek is 41,5 cm, dit is perfek gevorm en hang baie mooi.

Sy teelwaarde indekse is reg deur baie goed en dit bly redelik stabiel. Goeie voorspeense (101) en naspeense (101) groeivermoë, goeie GDT van (107), voeromsetverhouding ((100), weidingomsetvermoë (105) en goeie melkwaarde (108).

JMP 13-0069 se gelerige kleur mag dalk stoettelers pla. Daar is egter soveel wetenskaplike data beskikbaar om te bewys dat die geel en ligter rooi skakerings die intensiteit van die son en infrarooi strale soveel beter hanteer/weerkaats as donkerrooi en donker beeste. Ek sal hom aanbeveel na ‘n stoetkudde – hy is ‘n poena sonder “poena probleme”. Kommersiële boere wat graag poena gene in die kudde wil vestig, kan maar sterk staan op hom.




LOT 28: HOT 11-0168 (POENA / POLLED)

VIDEO    


In lyn met die tradisie om jaarliks ‘n beproefde stoetvaar aan te bied, is dit ‘n voorreg om die poena HOT 11-0168 (PcH) op die veiling te sit. Hy is DNA bevestig en is heterosigoties poena. Sy kalwers is konstant poena by ons – beide in die Bonsmara poena kudde en die opteel poenaprojek waar verskeie ander rasse betrokke is. HOT 11-0168 is ‘n geregistreerde KI-bul en is gesamentlik deur Sernick en Hartebeestloop Bonsmaras aangekoop. Badeveen Bonsmaras het hom geteel. Hy is ook in al 3 kuddes gebruik. Op Hartebeestloop is die gemiddelde geboortewigte van sy kalwers 36 kg. Die aanbeveling is om hom net op koeie te gebruik.

Hy vertoon baie goeie bouvorm met sterk bespiering en baie breedte. Hy spreek ‘n klomp van die eienskappe aan wat in die poenas ‘n probleem is. Ek lys ‘n paar van diè meer belangrike eienskappe:

  1. Geen prolapse
  2. Funksionele naelvel/skede kombinasie
  3. Goeie manlikheid
  4. Sterk en dik bulnek
  5. Goeie bespiering
  6. Bogemiddelde melkwaarde

Daar sal ook kalwers van hom op die veilingsdag beskikbaar wees om na te kyk en jou eie opinie te vorm oor die kwaliteit wat hy teel.

Hierdie is ‘n goeie kans om ‘n beproefde poena bul te bekom. Hy is 9-jaar oud en lyk nog steeds baie goed. Hy is ‘n wakker bul met hoë libido – ons het meer kalwers van hom gekry as waarvoor beplan is. Met ekstra versorging op die veld, behoort jy nog 2-3 jaar se kalwers uit hom te kry. As jy alreeds in die poena teling is, of beplan om poenas in jou kudde te vestig, is hy ‘n baie goeie begin. Kommersiële boere wat hulle koei-kalf boerdery bietjie wil vergemaklik, moet ook mooi na hom kyk!




LOT 29: HART 17-0060

VIDEO    


Hy is geteel uit LAR 07-0234 en HART 14-0206. Sy kom uit ‘n baie vrugbare moederlyn wat al die pad teruggaan na Vaalbos Bonsmaras naamlik VBB 07-0147 met OEK 25 mnde, TKP 397 dae/9 kalwers en speenindeks van 103/9 kalwers. HART 14-0206 se OEK is 30 mnde, TKP 376 dae/3 kalwers en sy speen teen 49,3% van haar liggaamsmassa. Daar is uitsondelike goeie en vrugbare moederlyne in die teling van HART 17-0060. Ons verstaan die konsepte van tè veel of tè min melk vir vleisbeeste. LAR 07-0234 se melkwaarde is hoog en dit het deur baie jare van nageslag prestasietoetsing, nog steeds goed gebly. Dit is belangrik vir ons om “genoeg” melk in die kudde te behou sonder om na enige kant oor te hel.

HART 17-0060 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy het goeie bouvorm, bespiering, breedte en ‘n mooi middelstuk. Die toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is goed en die bene is goed breed oor die hakke en sterk. Hy is goed gevul met vleis – lende en kruishelling is vol vleis en daar is goeie diepte deur die voorlyf. Ons almal besef die waarde van ‘n diep en swaar voorlyf op die bees se gewig en betaalstaat!

Sy aanpasbaarheid is goed en sy VeldBulindeks is (100) – presies op die gemiddeld van die groep bulle. Hy het bietjie meer Taurus eienskappe as wat normaalweg geteel word op Hartebeestloop maar, sy gladde vel en blink haarkleed tesame met lang stert en sterk bene maak dat hy goed presteer het op die veld. Sy sekondêre manlikheidseienskappe is goed ontwikkel – kop is manlik, mooi breedte tussen die oë met goeie verdonkering in die nek en ‘n groot skrotum wat 40 cm meet en mooi simmetries hang.

Sy teelwaarde indekse is baie goed in balans met geboortegewig/kalfgemak op rasgemiddeld (100), bietjie laer voorspeense groei (94), bogemiddelde naspeense groei (105), goeie GDT (112) en voeromsetverhouding (106) en ‘n skrotum teelwaarde indeks van (119). Die 3 seleksie teelwaarde indekse naamlik Koei Waarde (105), Groei Waarde (110) en Produksie Waarde (107) is ook bo die rasgemiddeld.

HART 17-0060 is aan vaderskant redelik onverwant aan die huidige Namibiese Bonsmara genetika en dit is altyd ‘n plus punt. Hy kan in enige produksiestelsel met goeie sukses gebruik word. Sy sterk eienskappe is hoë melk waarde, goeie bouvorm en sterk bene. Indien jy enige van die eienskappe in jou kudde wil verbeter, kyk gerus na hom!




LOT 30: HART 17-0131

VIDEO    


Hy is geteel uit HART 13-0379 en HART 09-0137. Sy is ‘n baie doeltreffende koei en speen haar 7 kalwers teen 49,2% van haar liggaamsmassa. Haar OEK is 23 mnde, TKP is 417 dae/7 kalwers met ‘n gemiddelde speenindeks van 101/7 kalwers. Koeidoeltreffendheid kan nie oor kuddes of verskillende troppe vergelyk word nie maar, dit bly ‘n uitstekende indikasie van die koei se vermoë om doeltreffend ‘n goeie kalf groot te maak.

HART 17-0131 is ‘n mediumraam, “easy fleshing”, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Sy bouvorm, bespiering, breedte, kapasiteit en lengte is baie goed. Hy dra baie vleis - sy lende, kruishelling en dye is goed vol vleis. Kyk gerus na sy prestasietoets data wat met vleisopbrengs te doen het -. algemene bespiering soos bepaal deur Oogspieroppervlakte (121), Uitslagpersentasie (112), Vleisopbrengs (118), Kalf Groei Waarde (113), Groei Waarde (129) en Produksie Waarde (104). Bogenoemde data kan saamgevat word om aan die speenkalf en os produsente ‘n redelike akkurate aanduiding te gee wat om te verwag van die nageslag van die bul. HART 17-0131 se sterkpunt is sy groeivermoë op die veld en sy vermoë om die gras in vleis/gewig om te sit – Voorspeense (113) en naspeense groeivermoë (122), Gemiddelde Daaglikse Gewigstoename (113) en Weidingvoeromset verhouding (109).

Bogenoemde prestasies op die veld gaan hand-aan-hand met uitstekende aanpasbaarheid. Let op die glansende, seepgladde vel en kort, blink-in-die-son haarkleed, die mooi los keelvel, die dik velvoue in die nek, die lang stert met welige kwas, die goeie skof en die swart pigment op die neusspieël.

HART 17-0131 is visueel hoog gepunt en sy uitstekende prestasies onderskryf sy voorkoms. Hy is struktureel korrek met goeie bouvorm en dra baie vleis, vertoon bogemiddelde goeie groeivermoë en weidingomset, kom uit ‘n baie doeltreffende moederlyn, wys uitstekende aanpasbaarheid met baie manlikheid en groot skrotum wat 42 cm meet en kan op verse en koeie gebruik word. Dit is so naby as wat jy kan kom aan ‘n “ALL- in- ONE” packet. Hy sal gewild wees op die veiling en merk hom gerus op jou katalogus!




LOT 31: HART 17-0068

    


Hy is ‘n spesialis groeier, raamtipe 3,5 en moet net op koeie gebruik word. Daar is goeie bouvorm met goeie bespiering, breedte, baie mooi kapasiteit, goeie diepte deur die voorlyf en ‘n sterk en breë toplyn.

Hy dra baie vleis – kyk gerus na die teelwaarde indekse wat met vleisopbrengs te doen het: Oogspieroppervlakte (113), uitslagpersentasie (112), vleisopbrengs (120), Kalf Groei Waarde (118) en Produksie Waarde (118).

Die onderstaande groei-eienskappe wys duidelik hoekom hy ‘n spesialis groeier is: Voorspeense (118) en naspeense (120) groeivermoë, GDT (121), voeromsetverhouding (109) en weidingomsetverhouding (114).

Die 3 seleksie teelwaarde indekse is – Koei Waarde (113), Groei Waarde (128) en Produksie Waarde (118).

Sy aanpasbaarheideienskappe is baie goed – sy vel is glad en sy haarkleed is kort en dit blink. Daar is ‘n goeie los keelvel vol breë velvoue wat ‘n aanduiding is van ‘n dik vel. Die swart pigment om die oë en op die neusspieël is baie opvallend en gewens. Die skofontwikkeling is goed, die stert is lang, bene en kloue is sterk en die onderlyn is mooi skoon. Jy kan nie fout vind by sy aanpasbaarheid nie en sy VeldBulindeks van (104) bevestig sy goeie prestasies op die veld.

Nieteenstaande al hierdie waardes is hy nie ‘n terminale bul nie. Daar is soveel goeie eienskappe in die bul dat daar geselekteer kan word vir vervangingsverse uit sy vroulike nageslag. Ek sal hom sterk aanbeveel vir speenkalf en os produksiestelsels. Daar waar jy goeie groei, effektiewe omset van voer/weiding in vleis en gewig, swaar karkasgewigte en goeie uitslagpersentasies benodig, is hy definitief die bul wat jy moet oorweeg.




LOT 32: HART 17-0185

VIDEO    


‘n Mediumraam, kalfgemak en “easy fleshing” seun van AG 03-0359 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) en HART 14-0429.

Ek verwys gereeld na bulle wat oorweeg kan word om vervangingsverse te teel. Daar is jaarliks ‘n baie groot aanvraag na goeie kommersiële verse en die mark kan nie naastenby genoeg lewer nie. Dit sluit alle rasse in. Ek lys ‘n paar noodsaaklike eienskappe wat koeikuddes nodig het om winsgewind te produseer en reproduseer onder veldtoestande. Dit is beide visuele en wetenskaplike (prestasietoetsdata) eienskappe en onthou – 100 is die rasgemiddeld en ‘n hoër waarde is in die gewensde rigting. Hou egter altyd die balans en werk op matig meer.

  1. Goeie kapasiteit met goeie sprong van rib – presies die eienskappe wat die bul vertoon.
  2. Genoegsame breedte met wye heupe – hy is regdeur breed, kyk ook die breedte tussen die oë wat goed korreleer met breedte reg deur. Sy pelvisindeks is 117.
  3. Goeie bevlesing en nie oormatige bespiering nie – goed bespierd maar daar is geen harde definisie van spier nie. Wel oorgenoeg vleis op die bul.
  4. Bouvorm moet reg wees met gewig na agter – hy wys presies die teenoorgestelde bouvorm met baie diepte deur die voorlyf.
  5. Egalige vetverspreiding en die vermoë om vet gou neer te slaan - sy vroeë vetneerlegging soos bepaal deur ultrasonies skandering is 147.
  6. Lae onderhoudkoste op veld – Onderhoud Waarde is 115
  7. Goeie vermoë om veldweiding om te sit in kondisie en gewig – veldweidingomsetvermoë is 109.
  8. Genoegame bespiering om konstitusie te behou – algemene bespiering met ultrasoniese skandering is 107. Visueel ook goeie en soepel bespiering.
  9. Genoeg genetiese voorspeense groeivermoë om na kalf oor te dra -voorspeense groeivermoë is 97.
  10. Genoegsame melk om goeie kalf groot te maak – melkwaarde is 115.
  11. Uitstekende aanpasbaarheid – van sy los, dik, gladde vel, uitsonderlike keelvel, blink haarkleed, lang stert, skoon onderlyn en sterk bene en kloue tot sy breë bek, wys hy alles wat nodig is vir aanpasbaarheid.

Ek het nie alles in detail genoem en bespreek nie. HART 17-0185 sal goed doen in enige produksiestelsel. Ek het hom slegs getoets aan ‘n moontlike bul om vervangingsverse te teel aangesien dit ‘n begrip is wat sommige boere nie mooi verstaan nie. Hy is ‘n baie goeie bul wat geen kudde of enige produksiestelsel in die steek sal laat nie.




LOT 33: HART 17-0194

VIDEO    


Hy is geteel uit HART 08-0062 en HART 15-0048. Haar OEK is 30 mnde, TKP van 358 dae/3 kalwers met ‘n gemiddelde speenindeks van 104/2 kalwers. Haar moeder is VBB 08-0040 ‘n SA Stamboek ELITE SILWER KOEI met OEK 37 mnde, TKP 405 dae/7 kalwers en speenindeks van 106/7 kalwers. Aan beide die vader- en moederskant is daar goeie melksyfers betrokke.

HART 17-0194 is ‘n mediumraam, “easy fleshing”, kalfgemak bul met uitstekende bouvorm, kapasiteit, breedte, lengte en goeie bespiering. Sy toplyn, kruishelling en stertaanhegting is baie goed. Sy sterk manlikheid is opvallend – kyk gerus na die sterk kop, breedte tussen die oë, goed ontwikkelde oogbanke en die dik bulnek met die mooi verdonkering. Sy skrotumomtrek is 40 cm en dit hang baie mooi. Sy naelvel/skede kombinasie is baie goed.

HART 17-0194 is uitstekend aangepas. Daar is goeie skofontwikkeling, pragtige glansende vel met kort en blink hare. Hy het daardie tipiese brons kleur in die son wat jy by hoogs aangepasde diere kry. Sy bene is sterk, daar is goeie breedte oor die hakke en die kloue is baie goed – sy stert hang amper op die grond! Kyk gerus na die waardes wat sy presatasie op die veld wys – Onderhoud Waarde (120), VeldBulindeks (104), Kondisietellings (110) en vroeë vetneerlegging (96). Hy staan sterk op alle eienskappe wat nodig is vir winsgewende boerbeeste.

Sy teelwaardes is deurgaans goed – Geboortegewig/Kalfgemak (109), voorspeense (99) en naspeense (107) groei, melk (106), GDT (115), voeromsetverhouding (111), weidingomset verhouding (119), Uitslagpersentasie (111) en Vleisopbrengs (108). Kyk na sy Seleksie Indekse – Koei Waarde (106), Groei Waarde (119) en Produksie Waarde (109). Die wetenskap agter die bul komplimenteer sy voorkoms en prestasies.

HART 17-0194 sal verseker ‘n groot aanwins wees vir menige stoetkudde en sal sy merk maak in die Bonsmara ras. Ek ken hierdie bul en skryf hom hoog aan.




LOT 34: HART 17-0175

    


‘n Tipiese Hartebeestloop mediumraam en “easy fleshing” bul wat gemaklik op verse en koeie gebruik kan word. Hy is geteel uit AG 03-0359 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) wat deurgaans goeie bouvorm, baie melk, mooi pigment en “vroeg ryp – easy fleshing” nageslag geteel het. HART 17-0175 kom uit goed aangepasde Kalahari droogte-taai koeie - ouma aan moederskant HART 12-0004 met OEK 25mnde, TKP van 362 dae/6 kalwers en gemiddelde speenindeks van 107/6 kalwers. Sy is ‘n SA Stamboek 4-Ster Koei en nog steeds in die kudde. Die moeder is HART 14-0366 met OEK 30 mnde, TKP 384 dae/3 kalwers en sy speen teen 52,7% van haar eie gewig. Sy is ook ‘n SA Stamboek 4-Ster Koei.
Wat beteken die syfers? Ons sien die ekonomiese invloed van:
(i) herhaling van vrugbaarheid en hoë reproduksie oor generasies heen;
(ii) die invloed van genoegsame melk en voorspeense groeivermoë tot verhoogde produksie en;
(iii) die waarde van koeidoeltreffendheid tot verhoogde effektiwiteit en wins;
(iv) die waarde van koeilyne wanneer jy bulaankope besluite moet neem.

HART 17-0175 vertoon goeie bouvorm, goeie lengte, sterk toplyn, genoeg bespiering, baie goeie kapasiteit en mooi diepte. Hy het goeie breedte en binne en buite dye is goed gevul – en sy kondisie is altyd goed op die veld. Sy Onderhoud Waarde is (129) wat dui op goeie lae insetkoste bees. Dit is die voordeel van jare-lange seleksie vir diere wat onder veldtoestande presteer. Hy is struktureel baie korrek, het goeie balans en beweeg baie gemaklik in die Kalahari sand.

Sy aanpasbaarheid is uit die boeke – gladde, blink en dik vel met kort, glansende haar, goeie skofontwikkeling, lang stert met goeie bene. Hy is baie manlik met ‘n sterk kop, goeie oogbanke, goeie verdonkering en groot skrotum wat mooi hang en 42 cm omtrek meet.

HART 17-0175 se teelwaardes is mooi in balans en regdeur goed. Rasgemiddeld op Geboortegewig/kalfgemak (99), voorspeense (97) en naspeense (105) groeivermoë, GDT (105), oorgenoeg melk (104) en hoë reproduksie met skrotumomtrek (111). Sy teelwaarde indekse vir die 3 belangrike Seleksie Indekse in die Bonsmara is – Koei Waarde (108), Groei Waarde (111) en Produksie Waarde (110). Dit wys presies hoe HART 17-0175 behoort te presteer – bogemiddeld goed.

HART 17-0175 is die gevolg van jare-lange seleksie vir veilige en winsgewinde teling – aangepas, gehard, lae onderhoudskoste, “easy-fleshing”, behou kondisie en konstitusie, manlik, vrugbaar, fenotipies doeltreffend en struktureel korrek. In boeretaal – dit is die tipe bulle wat jy moet gebruik.




LOT 35: HART 17-0187

    


HART 17-0187 is ‘n “easy fleshing”, mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word.

Sy veldaanpasbaarheid is uitstekend. Hy kom gou in kondisie (pak maklik vet en vleis aan), behou sy kondisie goed (het mos die vetreserwes om te gebruik) en het ‘n lae Onderhoudskoste teelwaarde indeks van (117) en Veldbulindeks van (101). Eintlik behoort bogenoemde seleksie kriteria mos vir al ons diere te geld – maar ons gee meer waarde daaraan by die vroulike diere. Want hulle vat bul op kondisie en dit is waar die geld is! Die visuele eienskappe van goeie aanpasbaarheid is baie duidelik op die bul te sien maar, kyk gerus na die gladde, los en dik vel en blink haarkleed. Bonsmara beeste moet goeie keelvelle hê om die warm, subtropiese klimaat beter te kan hanteer.

Hy is geteel uit AG 03-0359 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) en HART 15-0089. Sy is ‘n 8-punt koei met OEK 29 mnde, TKP 372 dae oor 3 kalwers en sy speen teen 52.2% van haar liggaamsmassa. Sy gaan al die pad terug na Germar Bonsmara bloedlyne wat aangekoop is op die SA Nasionale Bonsmara veiling baie jare gelede.

HART 17-0187 doen goed in sy groep tydens prestasietoetsing met GDT indeks van (108) en Veldweidingomset van (109). Sy teelwaarde indekse is meestal tussen 90 en 100 met ‘n paar uitsonderings na beide kante van die reeks.

HART 17-0187 is struktureel korrek met sterk toplyn, genoeg bespiering en breedte vir ‘n kalfgemak bul, goeie kapasiteit en ook goeie diepte deur die voorlyf. Sy bene is sterk, kloue is goed en hy het goeie balans.

Kyk gerus na hom as jy ‘n veilige en kalfgemak bul benodig wat geen “unwanted” eienskappe na jou kudde sal bring nie. Hy sal goed doen in enige kruisteelstelsel waar jy kalfgemak, meer melk, raamtipe wil regstel en aanpasbaarheid wil verbeter.




LOT 36: HT 17-0031 (POENA / POLLED)

VIDEO    


Hy is geteel uit HDT 13-0007 (PP) wat deur die Boshoff-familie van Boshoff Bonsmaras besit word. Die moer HT 14-0176 is ‘n A-generasie koei met baie goeie reproduksievermoë en vrugbaarheid – haar OEK is 32 mnde, TKP is 392 dae/3 kalwers en sy speen hulle teen 54,5% van haar liggaamsmassa. Haar laaste TKP is 330 dae – droogte of te nie, sy vat kalf jaarliks. HT 17-0031 is ‘n B-generasie bul en heterosigoties poena (PH).

Hy is ‘n goed bespierde, mediumraam bul wat net op koeie gebruik moet word. Sy breedte en spierdefinisie sal nie werk met verse nie. Daar is goeie bouvorm, sterk toplyn met goeie kruishelling en stertaanhegting en genoegsame kapasiteit. Die sekondêre manlikheideienskappe is baie goed ontwikkel – sterk en manlike kop met goed ontwikkelde oogbanke en goeie breedte tussen die oë. Ek sou graag ‘n sterker bulnek wou sien. Die onderlyn is skoon met goeie naelvel en skede kombinasie en die skrotum hang perfek, is goed gevorm en meet 39,5 cm.

Die aanpasbaarheid is opvallend – baie mooi en glansende vel, kort hare wat mooi blink en goeie los keelvel. Die skofontwikkeling is goed, stert is lank en hy presteer baie goed tydens die VeldBultoets met (116) indeks.

Sy teelwaarde indekse is ook deurgaans aanvaarbaar – effens swaarder op geboortegewig (96), voorspeense (97) en naspeense (98) groeivermoë en GDT (94).

HT 17-0031 sal goed doen in speenkalf en os produksiestelsels. Vir enige produksiestelsel waar diere op die veld moet groei en presteer, kan boere goed na hom kyk. Die poena gene is net ‘n bonus, hy moet nog steeds net so goed soos enige horing Bonsmara bul presteer.




LOT 37: LMR 13-0028

VIDEO    


Ons probeer jaarliks van die ouer gebruiksbulle aan te bied wat ‘n bewese rekord van teling opgebou het. Hierdie bulle het heelwat kalwers wat alreeds gespeen is en ons kan ‘n goeie opinie gee oor die nageslag.

Hy is aangekoop by Paul Mare van Limerick Bonsmaras – redelik onverwante genetika in Namibië. LMR 13-0028 is ‘n baie goed bespierde bul wat net op koeie gebruik moet word. Hy is struktureel korrek en teel ook so. Hy het uitstekend aangepas in Namibië en hard gewerk.

Sy kalwers lyk en presteer baie goed. Hulle bouvorm is goed – mooi bespiering met gladde vel en haar en sonder enige strukturele en funksionele probleme. Hulle is lig op geboorte (35kg) en groei goed. Dit is so dat sy kalwers net in die droogtejare aangekom het maar, nog steeds speen hulle (vers en bulkalwers) gemiddeld 202 kg. Dit is bogemiddeld ten opsigte van speenkalwers vir die afgelope paar droë jare.

Ek beveel hom sterk aan vir speenkalf produksie.

Hy is 7 jaar oud op die veiling en die voornemende koper behoort nog ten minste 3 jaar van goeie teling uit die bul te kry. Hierdie is ‘n goeie geleentheid vir speenkalf produsente om ‘n baie goeie bul in die hande te kry teen ‘n redelike prys.




LOT 38: HART 17-0147

VIDEO    


Hy is ‘n donker, mediumraam, “easy fleshing”, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy het goeie bouvorm, genoegsame bespiering, kapasiteit en diepte deur die voorlyf. Hy vertoon goeie breedte, veral op die rug wat hy regdeur vat tot by die skof. Toplyn, kruishelling en stertaanhegting is baie goed. Kyk gerus ook hoe goed die bul gevul is met vleis – agterkwart, dye, lende en kruishelling asook mooi vul agter die blad. Hy vertoon goeie balans en sy loopvermoë is gemaklik. Hy ken van duine klim!

HART 17-0147 se veldaanpasbaarheid is uitstekend. Hy kom gou in kondisie (pak maklik vleis en vet aan), behou sy kondisie goed (het genoeg vetreserwes om te gebruik). Ek lig paar van die eienskappe uit wat op Hartebeestloop gebruik word om lae insetkoste beeste te selekteer. Die rasgemiddeld/groepgemiddeld is 100 en waardes bo 100 is in die gewensde rigting. Sy waardes is in hakies aangedui.

  1. Onderhoud Waarde (127)
  2. Weiding omset na vleis/gewig (116)
  3. Gewigstoename op veld (111)
  4. Kalfgemak in die veld sonder toesig (120)
  5. Kondisietelling deur die jaar in die groep (100)
  6. Genoegsame bespiering om konstitusie te behou (106)
  7. Strawwe VeldBultoets op Hartebeestloop (101)

Kyk gerus na die goeie manlikheid wat hy vertoon. Sy kop is sterk met baie goeie oogbanke, daar is goeie breedte tussen die oë, bek is breed, verdonkering op die nekgedeelte is baie goed, baie goeie naelvel/skede kombinasie op onderlyn en skrotum wat mooi hang en 40 cm meet.

Sy aanpasbaarheid is ook baie goed – let op die dik en breë velvoue in die nek en die loshangende keelvel.

HART 17-0147 is ‘n kalfgemak bul met al die eienskappe wat van die Bonsmara so ‘n gewilde ras gemaak het. Hy is ‘n veilige bul om in die kudde te gebruik veral as jy raamtipe bietjie wil afbring of breedte by Sanga-tipe kruisings wil bysit. Sy nageslag behoort ook vroeër, in kondisie, vanaf die veld bemark te word.




LOT 39: HART 17-0168

VIDEO    


Daar is baie goeie diepte in die lyne waaruit hy geteel is. AG 03-0359 (kliek op die stoetvaar skakel hierbo) is sterk en vir spesifieke doeleindes in die Hartebeestloop kudde gebruik. Sy “trademark” eienskappe is sterk koppe, goeie melk, mooi bouvorm en “easy fleshing”. Die “359” seuns op die veiling is almal deur KI in die lewe gebring. Wetenskaplikes is baie keer gekant (en met reg ook) teen ou genetika wat teruggebring word. As jy egter van plaas tot plaas ry en sien hoe die nageslag van ‘n spesifieke bul presteer, kan jy nie anders as om hom weer te gebruik nie.

Aan moederskant gaan HART 17-0168 al die pad terug na HART 09-0326, HART 09-0002, HJS 03-0016 en die NGO - Woestyn Bonsmara lyne. Sy moer, HART 15-0060 se OEK is 29 mnde, TKP 387 dae/3 kalwers en speenindeks 105/2 kalwers, Sy speen die kalwers teen 57.1% van haar eie massa.

HART 17-0168 is ‘n mediumraam, kalfgemak, “easy fleshing” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy vertoon goeie bouvorm, is breed met mooi dye, genoeg bespiering, genoeg kapasiteit en goeie diepte deur die voorlyf.

Hy is ‘n baie manlike bul met uitstekende sekondêre geslagseienskappe – sterk kop en oogbanke, dik en breë bulnek met baie mooi verdonkering en ‘n skrotumomtrek van 37,5 cm. Die bul se hele houding is manlik en trots!

Opvallend is sy uitstaande aanpasbaarheid – seepgladde, glansende vel met kort en blink haarkleed, dik velvoue in die nek en ‘n los keelvel. Die keelvel sny bietjie in die nekgedeelte. Sy skofontwikkeling is goed, sy welige stertkwas raak amper die grond, sy bene is sterk met goeie breedte oor die hakke en goeie kloue. Die swart pigment om sy oë en op die neusspieël trek aandag. Sy vroeë vetneerlegging (147), lae Onderhoud Waarde (122) tesame met goeie bespiering (102) maak dat hy maklik in kondisie kom en ook sy konstitusie op die veld sal handhaaf.

HART 17-0168 se teelwaarde indekse is as volg: Laag op geboortegewig (109), genoegsame voorspeense (94) en naspeense (100) groeivermoë, tesame met baie melk (108) en baie goeie GDT (111) en voeromsetverhouding (114), weidingomset verhouding (116) en skrotum (100). Dit maak hom ‘n geskikte bul om in enige stelsel te gebruik.

My persoonlike voorkeur sou wees om hom te gebruik om vervangingsverse te teel. Daar is genoegsame groei, baie melk, goeie omset van weiding en voer, lae onderhoudskoste, genoegsame bespiering en uitstekende aanpasbaarheid. Dit is almal eienskappe wat boere graag in hulle koeikuddes wil vestig.




LOT 40: HART 17-0186

    


‘n Sterk mediumraam bul wat op verse en koeie gebruik kan word.

Hy is geteel uit baie goeie moederlyne in ons kudde. Die koeilyne gaan terug na Arcadia Bonsmaras en Fortress Bonsmaras – beide lyne wat goed presteer het in ons kudde. Kyk gerus na die ouma aan moederskant HART 12-0041 (OEK 24 mnde, TKP 363 dae/6 kalwers en moeder HART 15-0009 (OEK 30 mnde, TKP 377 dae/3 kalwers. Herhaalde goeie vrugbaarheid en hoë reproduksievermoë deur geslagte heen! Beide die 2 koeie is nog aktief in die kudde. Dit opsigself sê al baie – dit is nou ons 8ste jaar van ondergemiddelde reënval en daar is geweldig gesny aan die koeikudde.

HART 17-0186 is ‘n bul met goeie bouvorm en uitstekende balans. Daar is goeie breedte, mooi lengte, genoeg kapasiteit en ‘n diep voorlyf. Hy is struktureel korrek met sterk toplyn, goeie kruishelling en stertaanhegting. Hy maak ‘n baie goeie eerste indruk met sy bouvorm en baie goeie balans.

HART 17-0186 kombineer goeie bespiering (oogspieroppervlakte van 109) met goeie en vroeë vetneerlegging (148) – dit is die diere wat presteer op die veld, selfs wanneer toestande ongunstig raak. Hy het goeie voorspeense en naspeense groeivermoë (108) en (113) onderskeidelik, bogemiddelde GDT (110) en voeromsetverhouding (110), uitstekende weidingomsetvermoë (111) en oor genoeg melk (114) – maar alles in balans! Met al hierdie goeie teelwaarde indekse, is sy Skouerhoogte (95) en Volwasse Gewig (87) egter presies waar dit moet wees. Hy is glad nie ‘n groot raam of later ryp tipe bees nie.

Sy manlikheid is baie goed – sterk kop, mooi oogbanke, breed tussen die oë met dik en donker nek en skrotum wat mooi hang en 40 cm in omtrek meet.

Jy kan nie beter aanpasbaarheid kry nie. Van die uitstekende vel en haar, lang stert, goeie skof, skoon onderlyn en sterk bene – en dit is hoekom hy so goed doen op die veld met ‘n Veldbul Indeks van (101) en ‘n Onderhoud Waarde Teelwaarde Indeks van 115.

Ek is beindruk met HART 17-0186. Hy sal nog nie 3 jaar oud wees op die veiling nie en sal nog baie verbeter by sy nuwe eienaar. Ek is baie keer geweldig verbaas as ek plaasbesoeke doen en sien hoe die jong bulle by hulle nuwe tuistes net beter en sterker geword het.



Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap