Hartebeestloop

Hartebeestloop
Auction 2019

Index    Overview    Newsletter 2019  Animals  General   All Auctions

April 2019

Goeiedag medeboere en vriende

Ek nooi julle almal hartlik uit na ons Boeredag (16 Mei) en ons Veiling op 17 Mei.

Namibië gaan gebuk onder een van die ergste droogtes in menseheugenis en daar is ‘n ampere moedelose gevoel onder die boeregemeenskap.

Maar juis oor die droogte, wil ons almal nooi, nie net om te kom kyk wat alles kan gedoen word om te help in sulke droogte toestande nie, maar ook om te kyk wat die regte genetika vir jou kan doen in die swaar tye en ook weer in die goeie tye.

My hart is baie swaar vir ons boere, maar daar is wel “droogte faktore” wat bemoedig, bewondering en respek afdwing, en baie hoop gee vir die toekoms. Weet net, op Hartebeestloop is dit nie anders nie - droogtebestuur neem ‘n groot deel van ons tyd op. Dit is iets waaraan ons sekerlik almal meer sal moet aan werk, ter wille van oorlewing.

  • Daar is sekere areas wat meer blootgestel is aan periodieke droogtes. Hierdie gemeenskappe is al “droogte-taai” - hulle boer en beplan daarvoor en daar is baie “droogte-taai” ervaring en kundigheid beskikbaar. Meer belangrik, is die emosionele en sosiale ondersteuningnetwerke wat geskep is oor baie jare van gesamentlike swaar-kry. Hierdie mense boer met oë na Bo en verstand op die grond!
  • Die diepgewortelde verantwoordelikheid om diere te versorg en genoegsame kos te verskaf - hierdie eienskap is die rugraat van die Namibiese boeregemeenskap en ook die tema van die Boeredag. Die planne, kreatiwiteit en soeke na voer, dryf die verdere ontwikkeling van “Bos na Kos”. Die boer sal nie ophou soek na oplossings vir die droogte en vir die behoud en versorging van die diere nie.
  • Namibiese boere sit met die beste “droogte-taai” genetika diere in die werêld. Ons val nie meer vir elke “fancy foefie” of verkoopsman wat hierheen oorwaai nie. Ons boere is taai en gebrei en weet wat werk in ons omgewing en land. Namibiërs verwelkom kennis en om-arm vordering, maar besef meer en meer die waarde van kundigheid in ons eie midde. Dit is die basis van teling op Hartebeestloop en ook die tipe diere wat op die veiling sal wees.


BOEREDAG PROGRAM

Namibiërs word tans toegegooi onder verskillende sisteme wat voer produseer. Boere, uit die aard van hulle persoonlikhede en die nood waarin hulle verkeer, is tans baie vatbaar vir enige kitsoplossing. “Bos tot Kos” is lokaal ontwikkel, verfyn en omskep in ‘n werkbare oplossing vir sekere gedeeltes van Namibië.

Dit word gedoen deur boere op die plase en die resultate is beskikbaar. Hierdie word wetenskaplik gerugsteun deur beide lokale en internasionale organisasies asook multinasionale maatskappye.

Ons eie tegnikuste is deurentyds besig om die toerusting te verbeter en te “Namibifiseer”. Ons lokale voermaatskappye is ook konstant besig om die voedingswaardes van die verskillende “boskosse” te ontleed en aanpassings te maak om ‘n werkbare produk daar te stel.


SPREKERS

Ons is baie bevoorreg om 3 pioniers van “boskos” op die Boeredag te hê. Anton, Kiewiet en Piet is al jare lank besig met die proses en verteenwoordig ‘n magdom ervaring en kundigheid.

Jy hoef nie die wiel van voor te ontwerp nie!


OMGEWINGS

Die kundiges kom uit verskillende streke van Namibië en die Boeredag is dus nie beperk tot “boskos” in ‘n spesifieke streek nie. Almal weet dat indringerbosse nie grense ken nie en as jy weer kyk, is dit by jou! Dit is egter so dat die beginsels van suksesvolle “boskos” dieselfde is, ongeag waar jy boer.


BOS SPESIES

Dit is seker die area waar die meeste onsekerheid is. Nie alle bos spesies sal dieselfde voedingspesifikasies hê nie – bosse se voedingswaardes verskil van mekaar.

Die sprekers gebruik verskillende bos spesies en samestelling van bos spesies om “boskos” te maak. Die tipe bos op jou plaas en die waarde daarvan sal dus gedek word.

Die goeie nuus is dat die rou bosmateriaal wat deur die kundiges gebruik word en so ook die finale produk “boskos”, reeds ontleed is. Dit is werklik ‘n uitstekende gebaar van Anton, Kiewiet en Piet om alles op die tafel te sit. Maar so ken ons hulle!

Daar behoort dus geen onsekerheid oor die kwaliteit en voedingswaarde van die verskillende tipes “boskos” te wees nie.


VOEDINGSWAARDE VAN “BOSKOS”

Jy gaan presies weet watter voeding “sit” in die rou “boskos” produk wat tans beskikbaar is op jou plaas. Dit beteken ook dat jy presies ingelig gaan word oor die byvoegings wat benodig word om dit as oorlewings, onderhoud of produksierantsoen te gebruik.

Die voervervaardigers gaan daar wees en op ‘n rotasie basis elke 15 minute ‘n aanbieding doen en vrae beantwoord oor “boskos” se waarde en wat nodig is vir jou spesifieke behoeftes. Die gedagte is om verskillende “pre-mixes” te verpak vir byvoeging tot “boskos” om alle aanwendings te dek.

Ons haal hiermee al die onnodige gesukkel om persentasies van nutriënte uit te werk – dit is ‘n hoogs gespesialiseerde onderwerp en daar is lokale kundiges wat Namibiese toestande ken en wat jou hiermee gaan help!


TOERUSTING

Een van die tekortkominge op die kursusse wat tans aangebied word is dat nie alle “boskos” toerusting maatskappye verteenwoordig is nie.

Op Hartebeestloop Boeredag is almal daar!

Van die heel kleinste toerusting wat 30 kg/uur doen tot die heel grootste wat tonne/uur doen. Van enkelman besighede tot multinasionale maatskappye. Almal! Vir jou behoefte gaan jy definitief toerusting en ‘n maatskappy vind op die dag.


FINANSIERING

Die aanvangskapitaal om “boskos” te maak, bly ‘n kopseer vir die boer. Ons sorg dat alle finansieringinstansies soos die handelsbanke, AgriBank en andere op die Boeredag teenwoordig is. Dit spaar jou heel moontlik ‘n rit na die stad en kan jy die regte inligting direk van die instansie kry op die Boeredag. Daar is alreeds spesiale afslag finansieringsooreenkomste tussen van die instansies en toerusting maatskappye.


MISKIEN DIE HEEL BELANGRIKSTE – DIE SOMME MOET WERK

“Boskos” is ‘n “nou uitkoms” maar heel moontlik ‘n gegewe vir die toekoms! Maar dan moet die somme klop! Daar is geen manier hoe dit volhoubaar gedoen kan word as dit teen groot koste kom of net as noodmaatreël gedurende die droogtes gedoen word nie. “Boskos” moet ‘n integrale deel van die jaarprogram en voervloeiprogram word.

Ons het baie moeite gedoen om finansiële kundiges te nooi om hierdie onderwerp in groot detail te verduidelik. Werklike kostes soos tans in die bedryf ervaar word, sal as basis van die koste somme gebruik word. Moenie rekenkundig onkundig in die “boskos” bedryf betrokke raak nie.


EN NOU PRAAT ONS BEESTE!

KI & Impak op produksie
Ek het nie vergeet dat dit die Boeredag eintlik oor beeste moet gaan nie - maar hulle vreet graag “boskos”!

Ons bring die heel nuutste KI tegnologie na die Boeredag asook data oor die impak wat dit op produksie het. Jy gaan diere sien wat vir jare lank al net kalf van KI. Soos met alle onderwerpe wat op Hartebeestloop bespreek word, sal die kostes, tekortkominge en kundigheid benodig, ook bespreek word. Dit is die totale KI- prentjie!


VEILINGSDIERE

Ons het nog nooit die wetenskap van veeteling geskei van die omgewing waarin diere moet presteer nie. Dit is nie die een of die ander nie – dit is vermoë om diere te teel wat die potensiaal het om optimaal te presteer in die omgewing waar daar geboer word.

In die ekstensiewe toestande is eienskappe soos raamtipe, gehardheid, aanpasbaarheid en lae insetkoste, nie onderhandelbaar nie! Dit is hoekom die diere wat op die veld getoets word met die Veldbulprogram baie gewild is.

Oormatige bespiering, Taurus tipe Bonsmaras en uitermatige hoë teelwaarde indekse is nie geskik is vir ekstensiewe Namibiese omstandighede nie. Hulle presteer gewoonlik ondergemiddeld by ons. Sulke diere is geteel vir die toestande waarvandaan hulle kom en waar daar met hulle geboer word, wat omtrent altyd radikaal verskil van die ekstensiewe Namibiese toestande.

Dit eindig gewoonlik waar jy uit jou sak vir hulle moet sorg in plaas van hulle vir jou!

Een ding is verseker – jy gaan ‘n "droogte taai" lae insetkoste bul op die veiling kry wat gehard, aangepas en veldgetoets is en wat aan jou vereistes voldoen!

Dit sal vir die Hartebeestloop span baie aangenaam wees om hierdie tipe diere vir jou te wys en ek nooi jou hartlik uit na ons "Bos-kos" Boeredag (16 Mei, 8H30) asook ons "Droogte-Taai" Veiling op 17 Mei, 11H00.

Vriendelike groete

Joggie Briedenhann


Back to Top
Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap