Hartebeestloop

Hartebeestloop
Auction 2019

Index  |  Overview  |  Newsletter 2019 | Animals | General |  All Auctions
Auction
Bulls 2019


LOT 01: HART 16-0010

    


Soos altyd, maak ons plek vir 'n sterk bul om die veiling te begin!

HART 16-0010 is ‘n baie goeie mediumraam bul geteel uit HART 08-0062. Hy is hoofsaaklik gebruik as kalfgemak bul (en so ook baie ander bulle uit sy nageslag) en HART 16-0010 is ook ‘n eerste kalf van HART 13-0283. Sommige bulle het net die vermoë om goeie kalwers uit verse te teel en sommige eerste kalf koeitjies (HART 13-0283 speen gemiddeld 49,8% van haar liggaamsmassa) het net die vermoë, om op die veld, uitstekende eerste kalwers te speen. Dit is presies wat met HART 16-0010 se teling gebeur het. Ons het ‘n betekenisvolle aantal bulle en koeie uit die bloedlyne aan stoettelers en kommersiële boere regoor Namibië verkoop.

HART 16-0010 is ‘n donker, mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is ‘n tipiese voorbeeld van die diere wat ons probeer teel – regte raamtipe, uitstekende bouvorm, genoegsame bespiering, vol vleis, goeie diepte en “easy fleshing”. Die konsepte van “easy fleshing” en vroeë vetneerlegging het oor die afgelope paar jare van nog groter belang geword. Boere besef dat die 2 eienskappe van groot ekonomiese belang is – ongeag watter produksiestelsel jy toepas. Bulle soos HART 16-0010 bring hierdie eienskappe na jou kudde. Orals waar ons op plase kom, is dit hierdie tipe diere en hul nageslag wat deurgaans bogemiddeld presteer. Ek haal net die 3 belangrike genomiese verrykte Seleksie Teelwaarde indekse aan – Koeiwaarde (100), Groei Waarde (103) en Produksie Waarde (100). Gebalanseerde teling en boerdery vra vir gebalanseerde teelwaarde indekse.

Sy sterk manlikheidseienskappe, pragtige verdonkering, sterk kop en goeie oogbanke en skrotumomtrek van 39cm is opvallend. Boere besef die belangrike rol van aanpasbaarheid in die suksesse van hulle kudde, veral in die ekstensiewe toestande. Vergelyk gerus hierdie bul se aanpasbaarheidseienskappe met dit wat jy as belangrik beskou. Dit is moeilik om hulle “meer aangepas” te teel – Veldbulindeks is 106.

HART 16-0010 is ‘n uitstekende bul en het diè eienskappe wat belangrik is vir suksesvolle beesboerdery.

Ek beveel hom sterk aan as uitstekende bul wat in enige kudde, sy baie goeie eienskappe sal vestig.




LOT 01: Read this first

    


LEES ASB EERS HIERDIE BELANGRIKE INLIGTING OOR DIE BULBESKRYWINGS DEUR VOORDAT JY VERDER GAAN

Hierdie is die 12de Hartebeestloop Produksie Veiling en deur die jare is daar ‘n sekere standaard gevestig. Dit is nie meer nodig om die standaard met elke bulbeskrywing te herhaal nie. Die beskrywings word tè omslagtig, bevat tè veel inligting en lees tè moeilik. Ek gee jou die versekering dat geen bul wat nie aan die onderstaande voldoen, op die veiling is nie.

A. PRESTASIETOETSING OP DIE VELD EN IN DIE ALGEMEEN:

  1. Pelvismetings
    Die eienskap is oorerflik en daar is genoeg variasie in pelvisgrootte om daarvoor te selekteer. Streng seleksie onder die veilingsbulle bring kalfgemak na jou kudde. As ‘n bul nie voldoen aan die norme vir pelvisgrootte nie, is dit nie op die veiling nie. Ek dui nie pelvisdata aan in die bulbeskrywings nie maar, dit is gedoen en beskikbaar.

  2. VERSKEIE ANDER METINGS EN EIENSKAPPE Kondisietellings, temperament, kwaliteit vel en haar, klou kwaliteit en uier en speen evaluering van die vroulike diere in die bul se stamboom.
    Hierdie eienskappe is deurlopend geëvalueer – dit is vir ons en jou van dieselfde ekonomiese waarde as amptelike prestasietoetsing. Ons ken die finansiële verlies van ‘n swak kalf weens dopspene of ‘n swak uier by die koei. So ook die probleme met hans kalwers grootmaak. Ons doelwit is om langtermyn genetiese voordeel na jou kudde te bring met behoud van goeie kondisie op die veld, mak en hanteerbare beeste, goeie aanpasbaarheid, goeie loopvermoë en fantastiese spene en uiers wat hou-en-hou. Hierdie data is beskikbaar vir alle veilingsbulle.

  3. Aanpasbaarheid en groeivermoë op die veld
    Aanpasbaarheid word gemeet as deel van die amptelike prestasietoetsing. Ons gee egter die ekstra tree en doen ook ‘n VeldPrestasie toets op die plaas onder ekstensiewe toestande. Al die eienskappe wat aanpasbaarheid, gehardheid, veldvoeromset en groeivermoë op die veld bepaal, word saamgevoeg in die Hartebeestloop VeldPrestasie Indeks. Die veilingsbulle het almal die toets deurgegaan en genoegsaam presteer om te voldoen aan die kriteria om op die veld suksesvol te presteer. Dit is wêreldwyd ‘n neiging om alle belangrike eienskappe saam te vat in ‘n gesamentlike indeks. In die bulbeskrywings word nie verwys na die Hartebeestloop VeldPrestasie Indeks of na die individuele komponente wat die indeks opmaak nie.

  4. Veldbultoets
    Onderstaande is ‘n kort beskrywing van die redes en ons toepassing van Veldbultoetse op Hartebeestloop. Ek verwys nie meer na die individuele bulle se Veldbulprestasies as deel van die bulbeskrywings nie. Bulle wat nie presteer het onder veldtoestande nie, is alreeds uitgeskot en nie deel van die veiling nie. Die Hartebeestloop Ekonomiese Indekse vir individuele bulle is wel beskikbaar op aanvraag.

    Tom Lasater (stigter van die Beefmasters) het die volgende gesê en met groot sukses toegepas: “Livestock should be bred, born, raised, performance tested and sold under the conditions they will produce.” Op Hartebeestloop pas ons die filosofie streng toe en glo dat die uitgroei van bulle op ruvoer vir ordentlike ontwikkeling van voormae, ‘n sleutelfaktor is vir die latere goeie prestasies onder veldtoestande.

    Ons stel net belang in die eienskappe wat vir ons kliënte meer geld in die sak bring en daarom toets ons in samewerking met Veldbul SA die volgende:
    • Groei op die veld as indikasie van lae insetkoste beeste
    • Doeltreffendheid van veldweidingomset na vleis en gewig
    • Handhawing van kondisie op die veld as indikasie van lae insetkoste en aanpasbaarheid
    • Temperament om maklik en veilig te boer
    • Pelvisgrootte vir maklike kalwing
    • Haarkleed vir aanpasbaarheid
    • Skrotumomtrek as indikasie van vrugbaarheid van vroulike nageslag

    Hiervolgens word dan ‘n Hartebeestloop Veldbul Ekonomiese Indeks uitgewerk en aan elke bul toegeken.

  5. Ultrasoniese skandering en die potensiaal vir goeie vleisopbrengs en hoë uitslagpersentasie
    Ons doen ultrasoniese skanderings vir so lank as wat ek kan onthou. Hierdie data word gebruik om vleisopbrengs en uitslagpersentasie binne gebalanseerde perkte te verbeter as deel van ons teelbeleid. Die Hartebeestloop slagbees prestasies by Meatco is ‘n bewys dat daar wel suksesvol vir die 2 eienskappe geselekteer kan word. Ek gebruik soms algemene boere-terme soos volvleis bul, gepak met vleis ensomeer as deel van die bulbeskrywing – dit is net om die vleiseienskappe van ‘n spesifieke dier te beklemtoon. Die vleisdraende vermoë van die bulle en die genetiese potensiaal om dit oor te dra na die nageslag is ‘n belangrike teeldoelwit op Hartebeestloop. Ons wil graag die hoeveelheid “vleis” in jou kudde verbeter. Ek gee egter nie meer die verwagte uitslagpersentasie en karkasopbrengs in die bulbeskrywings nie. Dit raak net tè veel inligting.

  6. Ultrasoniese skandering, grootte van oogspieroppervlakte en vroeë vetneerleggingsvermoë
    Bespiering in vleisbeeste is ‘n belangrike ekonomiese produksie eienskap. Dit is hoekom oogspieroppervlaktes gemeet word want dit gee ‘n baie goeie indikasie van die algehele bespiering van die dier. Oormatige bespiering het egter ‘n negatiewe invloed op vrugbaarheid en reproduksievermoë. Die vermoë van diere om vroeg genoeg vet neer te lê, is ‘n noodsaaklikheid vir vroeg vrugbaar en vroeg in kondisie kom, om bul te vat. Die waarde van “kombinasie diere” wat genoegsame bespiering het èn die vermoë besit om vroeg in kondisie te kom – is die “ultimate smart partnership” tussen produksie en reproduksie. Vir my is dit ‘n vereiste vir suksesvolle beesboerdery. Hierdie data is weereens beskikbaar vir alle veilingsbulle en ek verwys in die soms in die bulbeskrywings na spesifieke diere wat uitstaande is vir hierdie 2 eienskappe.

  7. Manlikheid, sekondêre manlikheidseienskappe, geslagsegtheid, skrotumomtrek, vrugbaarheid en libido
    Die veilingsbulle is verskeie kere en weer-en-weer geëvalueer op die visuele eienskappe wat manlikheid en potensiële libido aandui. Vanaf welige stertkwas tot kaal voorkoppe! Skrotumomtrekke is gemeet en skrotums en geslagsorgane is klinies ondersoek en voldoen aan die Bonsmara en Veeartseny standaarde. Alle bulle is vrugbaar getoets deur die veearts en van geselekteerde bulle is mikroskopiese video opnames gedoen van die semenontleding. Die veilingsbulle is reg om te werk! Die data is alles beskikbaar maar word nie onder elke bulbeskrywing bespreek nie.



B. AMPTELIKE PRESTASIETOETSING Ek probeer om die bulbeskrywings te vergemaklik vir die boere deur die prestasietoets data in ‘n makliker vorm met Teelwaarde Indekse en Logix Seleksie Waardes deur te gee. Onderstaande is die verduideliking oor hoe die Teelwaarde Indekse en Logix Seleksie Waardes bepaal word en hoe dit verstaan en gebruik moet word.

  1. Hoekom word Teelwaarde Indekse gebruik in die bulbeskrywings en nie die individuele Teelwaardes nie?
    Die teelwaarde indeks is makliker om te verstaan as ‘n teelwaarde, veral vir die kommersiële boere. Die basis van ‘n teelwaarde indeks is 100, wat die gemiddelde teelwaarde van die lewendige diere in die ras aandui. Waardes bo 100 is altyd in die meer gewenste rigting en dit dui aan dat die dier ‘n bogemiddelde genetiese potensiaal het vir ‘n spesifieke eienskap ten opsigte van die lewendige diere in die ras. Daar is egter heelwat kere wat waardes tussen 80 - 100 aanvaarbaar is, afhangende van die prioriteit van die eienskap wat jy wil aanspreek in jou kudde. Vra gerus hulp by een van die veilingskonsultante as jy onseker oor dit is.

  2. Hoekom word die Logix Seleksie Waardes (Logix Groei Waarde en Logix Produksie Waarde) gebruik in die bulbeskrywings?
    Die Logix Seleksie Waardes is die kombinasie van die teelwaardes in ‘n enkele waarde. Dit gee ‘n vinnige en maklike indikasie van die gekombineerde genetiese waarde van die dier ten opsigte van sy ras. Dit maak dit onnodig om elke teelwaarde afsonderlik vir elke eienskap vir elke dier te bespreek. Die kombinasie genetiese waardes saamgevat in ‘n Groei Waarde en ‘n Produksie Waarde dui die genetiese meriete van die dier aan. Die basiswaarde is 100 en is waardes bo 100 in die gewenste rigting. Onthou hierdie Logix Seleksie Waardes word uit verskeie subwaardes opgebou en weereens is waardes tussen 90 en 110 baie aanvaarbaar. Dit is tans die neiging om verskeie teelwaardes saam te vat in een waarde om verstaanbaarheid en besluitneming te bevorder. Hierdie data is vir elke bul beskikbaar maar word nie in die bulbeskrywings aangedui nie.



C. LOGIX SELEKSIE WAARDES

As daar enige onduidelikheid oor die Logix Seleksie waardes is, kan jy my enige tyd kontak.




LOT 02: HART 16-0003

    


Hier is ‘n sterk mediumraam bul wat op verse en koeie gebruik kan word.

Hy is geteel uit baie goeie moederlyne in ons kudde. Die koeilyne gaan terug na Arcadia Bonsmaras en Hakplaas Bonsmaras – beide lyne wat goed presteer het in ons kudde. Kyk gerus na die ouma aan vaderskant HART 07-0183 (OEK 26 mnde, TKP 336 dae/9 kalwers), ouma aan moederskant GBS 06-0113 (OEK 26 mnde, TKP 360 dae/8 kalwers en moeder HART 10-0259 (OEK 26 mnde, TKP 382 dae/5 kalwers. Herhaalde goeie vrugbaarheid en hoë reproduksievermoë deur geslagte heen! Daar is 2 uitstekende seuns van haar by Dr Adolf Kaura en Dr Richard Kamwi onderskeidelik.

HART 16-0003 is ‘n bul met baie goeie bouvorm en uitstekende balans. Daar is goeie breedte, mooi lengte (hoogte:lengteverhouding van 1:21), goeie kapasiteit en baie diepte deur die voorlyf. Hy is struktureel korrek met sterk toplyn, goeie kruishelling en stertaanhegting. HART 16-0003 kombineer goeie bespiering (oogspieroppervlakte TWI (102) met goeie en vroeë vetneerlegging TWI (105) – my tipe dier! Dit is nie ‘n klipharde, dikgat, dubbelspierde geendraende bul of ‘n papsak, hoë melkwaarde bul nie. Hy dra genoeg bespiering, vroeë vet en genoeg melk (106) – maar alles in balans! Die kleinvee stoetboere het ‘n mooi woord vir vroeë vetneerlegging – “Lyfvet”.

Sy manlikheid is baie goed – sterk kop, dik oogbanke, breed tussen die oë met dik en donker nek en skrotum wat mooi hang en 40.5cm in omtrek meet. Hy maak ‘n baie goeie eerste indruk met sy manlikheid en baie goeie balans.

Jy kan nie beter aanpasbaarheid kry nie. Van die uitstekende vel en haar, lang stert, goeie skof, skoon onderlyn en sterk bene – en dit is hoekom hy so uitstekend doen op die veld met ‘n Veldbul Indeks van 106 en ‘n Onderhoudskoste Teelwaarde Indeks van 108.

Ek is beïndruk met HART 16-0003. Ek het al deur genoeg goeie en slegte tye geboer om te weet watter tipe diere presteer beter as ander in die moeilike tye.

As jy twyfel oor watter bul op die veiling jy huis toe moet vat – vat hom!




LOT 03: HART 16-0032

    


Die bul is geteel uit HART 09-0329 en HART 07-0177. Sy is ‘n voortreflike koei met OEK 26 mnde, TKP 363 dae/8 kalwers, Reproduksie Indeks van 118 en sy speen haar 8 kalwers teen 45,6% van haar liggaamsmassa. Uit haar verkoop ons ‘n uitstekende bul aan Haikali Bonsmaras en al haar verskalwers is nog steeds in die kudde behalwe, een wat as stoetvers aan Jungfrau Bonsmaras verkoop is. Sy voldoen aan die definisie van ‘n volwaardige en doeltreffende stoetkoei!

HART 16-0032 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op koeie en verse gebruik kan word. Hy het goeie bouvorm, genoegsame bespiering en mooi diepte deur die voorkwart. Tipies van kalfgemakbulle is die bespiering meer soepel en nêrens knopperig of uitermatig nie. Toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is goed en bene is sterk. Struktureel korrek met baie goeie vleiseienskappe – teelwaarde indekse vir uitslag% is 102 en Vleisopbrengs 120. Kyk maar mooi na die vorige 2 waardes – ons doen al dekades lank “Real-Time” Ultrasoniese skanderings en het dit nou komplimenteer met genomiese ontledings. Die betroubaarheid en akkuraatheid van ons data is uitstekend en dit is soos hierdie bul se os nageslag sal uitslag. Hy presteer uitstekend tydens prestasietoetsing met Speenindeks (99), GDT indeks (111) en Kleiberindeks (108). Kleiberindeks gee ‘n baie goeie indikasie van die dier se vermoë om veldweiding in vleis en gewig om te sit. Dit is ‘n belangrike teelwaarde vir almal wat boer onder ekstensiewe veldtoestande.

Hy wys goeie manlikheid met sterk oogbanke en wakker oë. Sy skrotum hang baie mooi, is simmetries en meet 44 cm.

Sy teelwaarde indekse is baie goed oor die algemeen maar die melkwaarde kon beter wees.

Kommersiële boere moet goed na hom kyk! Kalfgemak, bogemiddelde voorspeense en naspeense groeivermoë, baie goeie GDT en groot skrotumomtrek is sy sterkste eienskappe.

Dit is die eienskappe wat geld in die sak bring en meeste boere selekteer en koop gebruiksbulle wat sterk op die eienskappe is.




LOT 04: HART 16-0248

    


Soos meeste stoettelers, word ek ook van tyd-tot-tyd gekonfronteer met inteling en die inbring van nuwe genetika. Ek koop in samewerking met Dirk Spaargaren FCT 11-0285 op wyle Kit Thompson se uitverkoopveiling – en het nog nie ‘n dag teruggekyk nie. Hy teel uitstekend!

Ek is opgewonde oor HART 16-0248. Hy is geteel uit FCT 11-0285 en HART 12-0053. Interessant is dat haar teling teruggevat word na FCT 00-0065 – die “old timers” sal onthou van die duur bul op Fortress Bonsmaras se uitverkoping. HART 12-0053 is OEK 26 mnde, TKP van 403 dae/5 kalwers en 100% stoetgoedkeuring van haar kalwers. Sy is ‘n mooi en funksionele koei met baie goeie uier en spene.

HART 16-0248 is ‘n mediumraam bul met uitstekende bouvorm, uitstaande kapasiteit, goeie breedte, goeie lengte en baie diepte deur die voorlyf. Hy is goed bespierd en is ‘n vroeër-ryp bul met baie lyfvet. Toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is baie goed, bene, kloue en breedte oor die hakke is baie goed. HART 16-0248 vertoon uitstekende balans en hy beweeg gemaklik.

Opvallend is sy uitstekende manlikheid – sterk kop, goeie breedte tussen die oë, goed ontwikkelde oogbanke, uitstekende verdonkering en perfekte skrotum wat 41 cm meet in omtrek. Hy is goed aangepas vir die warm en droeë Kalahari en presteer uitstekend op die veld en tydens die Veldbultoets met indeks van 115.

Sy genomiese teelwaarde indekse is regdeur uitstekend. Kyk na die 3 belangrike genomiese verrykte Seleksie Teelwaarde indekse– Koeiwaarde (107), Groei Waarde (126) en Produksie Waarde (111).

HART 16-0248 is volgens my een van die beste bulle op die veiling!

Hy is ‘n toonbeeld van die hedendaagse Bonsmara – gebalanseerd in alle opsigte van prestasie en teling. Stoettelers moet baie mooi na hom kyk – hy wys hoë stoetpotensiaal.




LOT 05: HART 16- 0064

    


Hy is geteel uit HART 08-0082 wat aan Edward Hansen van EMOK Bonsmaras behoort. Sy bynaam is Kasupi en hy is seker die bekendste Bonsmara bul in Namibië. In beide die Hartebeestloop en EMOK kuddes het hy uitstekend geteel en sy vers-nageslag is die beste presteerders in beide kuddes. Nageslag van Kasupi is wyd en suid in Namibië versprei en orals waar ons gaan, is boere baie tevrede met die beeste. Die moer is ‘n top stoetkoei BHE 05-0138 en uit haar verkoop ons bulle aan EMOK Bonsmaras (HART 06-0074), Vente Farming van Kathrin en Bernard, Tuauana Bonsmaras van Steve en Christophine Katjiuanjo (HART 09-0251), Uwe Trumpher, Christoph Knye en Gerhard van der Merwe. Daar is ‘n stamboom met uitsonderlike prestasies agter HART 16-0064.

HART 16-0064 is ‘n mediumraam bul met uitstekende bouvorm, kapasiteit, breedte, lengte en goeie bespiering. Sy toplyn, kruishelling en stertaanhegting is baie goed. Hy is ‘n kalfgemak bul en kan met gerustheid op koeie en verse gebruik word.

Sy sterk manlikheid is opvallend – kyk na die sterk kop, breedte tussen die oë, goed ontwikkelde oogbanke en na die dik bulnek met die pragtige verdonkering. Sy skrotumomtrek is 41cm en dit hang perfek. Sy naelvel/skede kombinasie is ook baie goed.

HART 16-0064 is uitstekend aangepas. Daar is baie goeie skofontwikkeling, pragtige glansende vel met kort en blink hare. Hy het daardie tipiese brons kleur in die son wat kenmerkend is van hoogs aangepasde diere. Sy bene is sterk, daar is goeie breedte oor die hakke en die kloue is baie goed – sy stert hang amper op die grond! Sy Veldbulindeks en Onderhoudskoste Waarde is 108 en 124 onderskeidelik. Dit is presies wat jy verwag van ‘n aangepasde dier wat op die veld bogemiddeld presteer.

Sy genomiese teelwaarde indekse is deurgaans goed – Melk Waarde (100), Koei Waarde (97), Groei Waarde (103) en Produksie Waarde (98). Hy presteer uitstekend tydens prestasietoetsing met Speenindeks (99), GDT (123) en Kleiberindeks (121). Hy eindig 2de in sy Groeitoets Groep en dit wys weereens dat die regte raamtipe beeste uitstekend groei op die veld.

HART 16-0064 sal verseker ‘n groot aanwins wees in ‘n stoetkudde en sal sy merk maak in die Bonsmara ras. Ek wil weereens bevestig dat dit die “right-size, right-type” dier is vir ekstensiewe toestande.




LOT 06: HART 16-0081

    


Hy is geteel uit HART 09-0329 en VBB 09-0302 (aangekoop Vaalbos Bonsmaras uitverkoping) met OEK 25mnde en TKP 377 dae/7 kalwers. HART 16-0081 het van jongs af gewys dat daar baie in hom is! Hy was ook deurlopend die beeswerkers se gunsteling.

Doelgerigte teling kort baie keer ook ‘n baie groot dosis van geluk om ‘n bul soos HART 16-0081 te teel. Hy is ook ons “Eye Candy” bul op Facebook wat die meeste aandag nog getrek het van baie jare se bemarking.

HART 16-0081 is ‘n mediumraam bul met baie goeie bouvorm, genoeg bespiering, mooi kapasiteit, goeie sprong van rib en sterk toplyn wat eindig in ‘n baie goeie kruishelling en stertaanhegting. Hy is baie breed regdeur, breed oor die rug met vol buitedye. My aanbeveling is dat hy net op koeie gebruik moet word. Hy is ‘n lang bul en die kombinasie met die goeie breedte en kapasiteit maak ‘n mooi prentjie. Hy dra baie vleis met goeie diepte deur die voorlyf en sterk agterkwart. Sy bene is sterk met goeie breedte oor die hakke. Die bul is werklik goed aangepas vir die ekstensiewe toestande met goeie skofontwikkeling en baie goeie vel en haar. Sy aanpassing, balans en loopvermoë is uitsonderlik. Hy top die Veldbultoets met 119 indeks.

Sy manlikheidseienskappe is baie goed met sterk kop en baie breedte tussen die oë, mooi verdonkering en skrotum wat perfek hang en 42 cm meet.

Sy teelwaarde indekse is reg deur goed en hy kombineer bespiering (oogspieroppervlakte TWI 109) uitstekend met goeie lyfvet (Onderhuidse vetneerlegging TWI 103) en sy Seleksie Teelwaarde Indekse is Koei Waarde (99), Groei Waarde (112) en Produksie Waarde (101).

HART 16-0081 is in alle opsigte ‘n indrukwekkende bul met hoë stoetpotensiaal. Hy behoort na ‘n goeie en ernstige stoetteler te gaan wat die beste maak van sy goeie eienskappe.

Dit was ‘n moeilike besluit vir almal op Hartebeestloop om hom na die veilingstrop te skuif!




LOT 07: HART 16-0041

    


Hy is geteel uit AG 03-0359 en BHE 02-0035. Daar is min bulle wat sulke goeie bouvorm, sterk koppe en goeie melkhoeveelhede geteel het soos AG 03-0359. Sy versretensie is baie hoog in die kudde. Die moer BHE 02-0035 is OEK 31 mnde, TKP 410 dae/11 kalwers met speenindeks van 110 en sy speen teen 54.4% van haar liggaamsmassa. Praat van doeltreffendheid! Sy was ook visueel ‘n mooi vroulike koei met baie goeie uier en spene en het lank “gehou” in die Kalahari.

HART 16-0041 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op koeie en verse gebruik kan word. Hy vertoon goeie balans, goeie bouvorm, mooi breedte regdeur, goeie kapasiteit, mooi sprong van rib en goeie diepte. Dit is ‘n lang bul met sterk toplyn en goeie kruishelling en stertaanhegting. Sy bespiering is goed en hy is vol vleis.

Hy is goed aangepas vir die ekstensiewe toestande. Die skofontwikkeling is goed, bene is baie sterk – daar is goeie breedte oor die hakke, die kloue is goed en dit alles dra by tot ‘n gelukkige dier in sy omgewing wat gou in kondisie kom en dit behou. Sy Veldbulindeks is 100. HART 16-0041 het ‘n uitstekende kombinasie van goeie bespiering en mooi lyfvet bedekking – sy teelwaarde indeks vir vroeë vetneerlegging is 143 en oogspieroppervlakte TWI is 103.

Sy teelwaarde indekse is baie goed met geboortegemak, goeie voor (102) - en naspeense (105) groeivermoë, GDT (114), Voeromsetverhouding (108), melk (117) en skrotumomtrek (104). Sy Seleksie TWI is ook uitstekend met Koei Waarde (103), Groei Waarde (109) en Produksie Waarde (104) - jy kan eintlik nie vir beter en meer gebalanseerde teelwaardes vra nie.

HART 16-0041 is ‘n top kalfgemak bul om verse oop te maak. Hy het oorgenoeg groei met goeie bouvorm en genoegsame bespiering om ook baie goed te doen op koeie. Kyk gerus na hom as jy vervangingsverse vir die mark wil teel – bouvorm, groei, melk en voorkoms is wat jy sal kry.




LOT 08: HDT 15-0040 (POENA)

    


Top poena bul geteel deur Dr Gustav Trumpelmann van Bostrum Bonsmaras. Hy is DNA bevestig as PcH – alhoewel hy “scurs/horingmerke” wys. Sy vaar is MCU 12-0032 wat met DNA bevestig is as PcH (dra een poena geen) en sy moeder HDT 03-0085 het konstant poena kalwers geteel. Sy is ‘n SA Stamboek ELITE GOUD koei met OEK 24 mnde, TKP 400 dae/11 kalwers en gemiddelde speenindeks van 99/11. Sy speen 11 kalwers teen 47.8% van haar eie gewig. Uitstaande reproduksie en doeltreffenheid syfers.

HDT 15-0040 kan met enige horing bul kompeteer as na bouvorm, aanpasbaarheid, teelwaardes en prestasies gekyk word. Baie goeie bouvorm, sterk bespiering, baie breedte met goeie kapasiteit en mooi diepte deur die voorlyf. Hy is ‘n lang bul met hoogte/lengte verhouding van 1:22. Sy skede/naelvel kombinasie is baie goed. Hy moet net op koeie gebruik word aangesien sy bouvorm en bespiering nie geskik is om verse oop te maak nie.

Hy is uitstekend aangepas vir die ekstensiewe en warm toestande – blink, gladde vel, goeie skofontwikkeling met sterk bene en kloue. Jy sal hom sien op die veiling en dadelik weet dat hy orals sal aanpas. Onthou hy is van Nylstroom se erge suurveld na Namibiese Kalahari duineveld.

Hy wys baie manlikheid met pragtige verdonkering, simmetriese skrotum wat mooi hang en 42 cm in omtrek meet.

Die teelwaardes is deurgaans uitstekend met baie goeie voorspeense (113) en naspeense (112) groeivermoë en goeie melk (102).

Goeie PcH poena bulle soos HDT 15-0040 is skaars en hy is eintlik ‘n “hou bul” wat ons self nog meer moet gebruik. Hy dra geen een van die swak punte van die poenateling waarmee almal sukkel nie. My opinie is dat die poena Bonsmara nie deur een, twee of ‘n klein aantal telers suksesvol gedryf kan word nie. Goeie poena bulle moet konstant beskikbaar gestel word sodat die genepoel wyd verspreid en beskikbaar is vir alle telers en boere.

Vir presies die rede is HDT 15-0040 beskikbaar as LOT 8 op die veiling.




LOT 09: HART 16-0063

    


Hy is suiwer Arcadia Bonsmara geteel met beide ouers uit die AG stal. Die vaar is AG 03-0359 en moer is AG 03-0269. Sy het baie goed aangepas in die Kalahari met OEK 23 mnde, TKP 419 dae/10 kalwers en Reproduksie Indeks van 109.

HART 16-0063 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat gemaklik op verse en koeie gebruik kan word. Hy is geteel uit AG 03-0359 wat deurgaans goeie bouvorm, baie melk, sterk koppe en goeie “vroeg ryp – easy fleshing” nageslag geteel het.

Hy vertoon goeie bouvorm, mooi kapasiteit, sterk toplyn, genoeg bespiering en mooi diepte. Hy het goeie breedte met mooi binne en buite dye – en hy hou kondisie op die veld. Dit is die voordeel van jare-lange seleksie vir diere wat onder veldtoestande presteer. Hy is struktureel baie korrek, het baie goeie balans en beweeg baie gemaklik in die Kalahari sand. Hy dra baie vleis en die lendes, kruishelling en agterkwart is goed gevul.

Sy aanpasbaarheidseienskappe is ook goed – gladde, blink en dik vel met kort, glansende haar, goeie skofontwikkeling, lang stert, goeie bene met sterk kloue. Tipies vertoon hy ‘n goeie los keelvel en dik velvoue in die nek. HART 16-0063 is baie manlik met ‘n wakker kop-op houding, sterk kop met goeie oogbanke, pragtige verdonkering en goeie skrotum wat mooi hang en 36.5cm omtrek meet.

Sy se teelwaardes is mooi in balans en regdeur goed.

HART 16-0063 is die gevolg van jarelange seleksie vir veilige teling – aangepas, gehard, lae onderhoudskoste, “easy-fleshing”, behou kondisie en konstitusie, manlik, vrugbaar, fenotipies doeltreffend en struktureel korrek. In boeretaal – dit is die tipe bulle wat jy moet gebruik! Hy behoort goeie vervangingsverse te teel met baie melk, mooi bouvorms en lae onderhoudskoste.




LOT 10: HART 15-0170

    


Hy is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat ons self in die kudde gebruik het om verse oop te maak. Hy is geteel uit beproefde kalfgemak bloedlyne vanuit beide moeder- en vaderlyne. Aan vaderskant uit HART 09-0014 en moederskant uit AG 01-152. Dit is belangrik dat verse moet kalf sonder spesiale toesig en hulp onder ekstensiewe toestande. Dit is nie weiding-effektief om verse om die huis aan te hou nie en ook nie koste-effektief om 2 keer per dag na die beespos te ry nie.

Beide hierdie bulle het die vermoë om baie goeie verkoopbare kalwers uit verse te teel. HART 15-0170 is geteel uit HART 09-0014 en HART 13-0157. Sy kalwers se gemiddelde geboortegewig is 33 kg en die kwaliteit is baie goed. Hy is gebruik in ‘n meerbulparing en die meeste kalwers is van hom.

Sy bouvorm is uitstekend met genoegsame bespiering, baie vleis, goeie breedte en kapasiteit en mooi diepte deur die voorlyf. Diep middelstukke en goeie sprong van rib bly belangrike eienskappe vir beesboerdery – veral waar die koeikudde onder ekstensiewe toestande moet presteer. Dit is 2 van die redes hoekom ons op hom besluit het as gebruiksbul in die kudde.

Hy is struktureel korrek en fenotipies doeltreffend en daar is werklik nie enige iets waarop hy fouteer kan word nie. Dit is belangrik in die keuse van gebruiksbulle om nie negatiewe eienskappe in die kudde te bring nie. Sy manlikheid en aanpasbaarheid is uitstekend en sy Veldbulindeks is 114.

Sy genomiese verrykte teelwaarde indekse is regdeur uitstekend. Vanaf kalfgemak, groeivermoë, melk, voerdoeltreffenheid, reproduksie, vleiseienskappe soos uitslag% en karkasopbrengs asook bespiering en vetneerlegging, is alles presies waar ons dit wil hê. Seleksie Teelwaarde indekse is Koei Waarde ( 104), Groei Waarde ( 114) en produksie Waarde ( 106).

Dit is belangrik om die uitsoekverse of “hou verse” soos dit op Hartebeestloop bekend staan met die beste moontlike bul te paar – beste moontlik in alle opsigte vanaf stamboom-tot-kalfgemak-tot-bouvorm-tot-prestasie-tot-teelwaardes!

Die beste is dat jyself kom kyk na HART 15-0170 op die veiling! My beskrywing en foto van die bul vertel nie die hele storie nie. Die bul bied baie meer as dit.

Ek beveel hom met die grootste vrymoedigheid aan as moontlike stoetbul om op verse en koeie te gebruik.




LOT 11: HART 16-0161

    


Hy is geteel uit van die beste moederlyne op Hartebeestloop. Aan vaderskant uit die ouma HART 05-0044 wat ‘n GOUD ELITE koei is en uit moederskant is die ouma BHE 94-0120 met 15 kalwers op 19 jr ouderdom en TKP van 428 dae. Die moeder is BHE 05-0006 met OEK 28 mnde, TKP van 353 dae/10 kalwers en sy speen teen 60% van haar liggaamsmassa. Uit haar verkoop ons uitstekende seuns aan André du Plessis van Alaska Boerdery en die Coleman-familie van Nabibis Bonsmaras. Kenmerkend van HART 05-0044 en BHE 05-0006 was die baie doeltreffende uiers en spene, wat tot met uitskot op tande/ouderdom nog steeds 100% funksioneel was.

Die vaar is ‘n spesialisgroeier (HART 11-0213), wat uitstekende groeivermoë geteel het. HART 16-0161 wys baie goeie lengte, mooi bouvorm, goeie kapasiteit en breedte met baie mooi diepte deur die voorlyf. Sy sekondêre manlikheidseienskappe is van die heel beste – met sterk kop en baie mooi verdonkering in die nekgedeelte. Sy skrotumomtrek is 39.5 cm en dit hang simmetries en is baie goed gevorm. Kyk gerus ook na die pragtige aanpasbaarheidseienskappe van die bul – hy sal op enige plek onder moeilike ekstensiewe omstandighede, goed aanpas en presteer. Ons het hierdie tipe bulle oralsoor in Namibië, Botswana en Angola verkoop sonder enige “come-backs” of klagtes.

Sy teelwaarde indekse is regdeur uitstekend – swaarder op geboortegewig, uitstekende voorspeense (123), en naspeense (118) groeivermoë, oorgenoeg melk (113), GDT (111) en skrotumomtrek (107). Die osboere moet gerus na uitslag% (115) en vleisopbrengs (123) teelwaarde indekse kyk, tesame met die uitstekende naspeense groeivermoë (117). Dit is mos waar julle geld verdien! Vir die speenkalfprodusent – kyk gerus na die uitstekende voorspeense groeivermoë en die hoeveelheid melk wat hy oordra na sy vroulike nageslag. Dit is mos waar julle geld verdien!

HART 16-0161 kan sekerlik in enige produksiestelsel suksesvol gebruik word. Maar meeste bulle het ‘n “spesialis” aanwending – en hy is ‘n spesialisgroeier! Indien jy groei en melk in jou kudde benodig, behoort hy op jou kortlys te wees.

Nieteenstaande sy bogemiddelde prestasies is hy mediumraam, baie goed aangepas met goeie prestasies op die veld.




LOT 12: HART 16-0044

    


Hy is geteel uit HART 09-0329 en GBS 06-0071. Haar OEK is 38 mnde, TKP 376 dae/8 kalwers met speenindeks van 104/8 en Reproduksie Indeks 106. Kyk gerus na die ander seuns van HART 09-0329 op die veiling - Lotte 3, 6, 16, 20, 34 en 37.

Hy teel konstant baie goeie bouvorm, lengte, bespiering, raamtipe en uitstekende groeivermoë.

Hy is ‘n mediumraam bul wat net op koeie gebruik moet word. HART 16-0044 vertoon uitstaande bouvorm, kapasiteit, bespiering, breedte en ‘n baie sterk toplyn. Hy was ‘n TOP PRESTEERDER tydens prestasietoetsing met Speenindeks (105), GDT (114) en Kleiberindeks (111). Kyk gerus na die hoogte/lengte verhouding van 1:24 – soos bogenoem het hy konstant baie goeie lengte geteel. Nieteenstaande sy uitstekende teelwaarde indekse vir groei (voorspeen 112 en naspeen 115, is hy nog steeds mediumraam met uitstekende balans. Hy dra baie vleis – oor sy lende, kruishelling, vol agterkwart en beide binne en buite dye, is mooi gevul met vleis. Sy skoon onderlyn en skede/naelvel kombinasie is van die beste.

Hy wys goeie manlikheid met sterk kop, baie goeie breedte tussen die oë, goeie oogbanke, breë bek, pragtige verdonkering en ‘n perfekte skrotum wat 41cm in omtrek is. Hy is ‘n trotse bul met ‘n baie mooi kop-op houding. Wat beïndruk van HART 16-0044, is sy uitstekende aanpasbaarheidseienskappe. Dit is broodnodig indien diere op die veld moet presteer. Blink, gladde, dik vel met baie velvoue en ‘n los keelvel. Daar is goeie skofontwikkeling, sterk bene met goeie kloue en ‘n stert wat op die grond hang.

Hy is in alle opsigte ‘n bul wat beïndruk. Ek het hom hoog gepunt as potensiële stoetbul en so ook die stoetvee konsultante. HART 16-0044 is een van die beste bulle op die veiling en behoort stoettelers se aandag te trek. Hy “tick all the boxes” wanneer dit kom by seleksie as potensiële stoetbul!




LOT 13: HART 16-0163

    


Hy is geteel uit HART 11-0213 en HJB 04-0266 09 – sy is aangekoop op die Benchmark Bonsmara Uitverkoopveiling “many moons” terug. Weereens ‘n geval van ‘n hoogspresterende ingekoopte koei wat uitstekend kombineer het met die Hartebeestloop diere. Haar OEK is 32 mnde en TKP van 390dae/9 kalwers. Ons het baie goeie nageslag van haar verkoop aan Dr Christo Burger van Mytilus Boerdery, oom Leopoldt Visser, Piet du Toit en Andrè Rossouw van Maltahöhe. Kyk gerus ook na die ouma aan vaderskant HART 05-0008 – ELITE GOUD Koei met OEK 28 mnde en TKP 375 dae/8 kalwers.

HART 16-0163 is ‘n mediumraam bul met goeie bouvorm, baie goeie bespiering, goeie breedte, sterk toplyn, genoegsame kapasiteit en goeie lengte. Hy moet net op koeie gebruik word – sy bespiering, bouvorm en diepte deur die voorlyf is nie geskik om verse oop te maak nie. Sy kruishelling, stertaanhegting en onderlyn is baie goed – perfekte skede/naelvel kombinasie. Hy het baie goeie vleiseienskappe en dit is een van sy sterkste punte. Hy is ‘n toonbeeld van aanpasbaarheid – mooi skof, blink van vel en haar, lang stert, sterk bene met baie goeie kloue en los vel.

Sy manlikheidseienskappe wys ‘n sterk kop wat hy mooi dra, sterk oogbanke en bek, goeie breedte tussen die oë en kort, dik bulnek met mooi verdonkering. Hy wys ook baie mooi swart pigment op die neusspieël. Skrotumomtrek is 41cm, is netjies gevorm en dit hang baie mooi.

Sy teelwaarde indekse is goed gebalanseerd – hoër op geboorte (87), voorspeense en naspeense groeivermoë (113) en (104) onderskeidelik en GDT (103). Sy melkwaarde is 90.

HART 16-0163 se plek in die beesvleisindustrie is waar groei, gewig en vleis benodig word. Sy teelwaarde indekse vir Uitslag% en Vleisopbrengs is 114 en 105 onderskeidelik – op die hoef, op die veld, vol vleis - of aan die hak, by die slaghuis, bouvorm 4 karkas – dit is waar sy waarde is. As jy ‘n kombinasie speenkalf/os produsent is, sit hom op jou kortlys van bulle wat gaan werk!




LOT 14: HART 16-0065

    


Hy is sekerlik die beste Kasupi (HART 08-0082) seun wat in ‘n lang tyd geteel is. Die moer is GBS 06-0049 met OEK 36 mnde, TKP 417 dae/7 kalwers en sy speen gemiddeld teen 46,2% van haar liggaamsmassa. Sy was op ‘n stadium baie siek en dit het haar reproduksiesyfers beïnvloed. Uit haar verkoop ons 2 uitstaande bulle aan Jungfrau Bonsmaras ( HART 10-0116) en Dr Stephanie van der Walt (HART 12-0160). Bogenoemde is van die beste bulle wat Hartebeestloop nog geteel het. En nou teel sy HART 16-0065!

HART 16-0065 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy vertoon uitstekende bouvorm, is baie breed met goeie buite dye, genoegsame bespiering, goeie kapasiteit en goeie diepte deur die voorlyf. Die toplyn sterk en breed en sy kruishelling en stertaanhegting baie goed. Hy dra baie vleis en gee daardie tipiese indruk van ‘n dik en kompakte bul.

Hy is ‘n baie manlike bul met uitstekende sekondêre geslagseienskappe – baie sterk kop en oogbanke, dik en breë bulnek met baie mooi verdonkering en ‘n skrotumomtrek van 38cm. Sy voorkop is kaal baklei! Die bul se hele houding is manlik en trots!

Hy is sekerlik een van die bulle op die veiling wat die beste aanpasbaarheidseienskappe wys. Van sy baie goeie skofontwikkeling tot die lang stert wat op die grond hang, sterk bene en kloue en uitstaande vel en haar kwaliteit. Hy is werklik in alle opsigte ‘n aangepaste dier wat orals sal presteer.

HART 16-0065 het goed gebalanseerde teelwaarde indekse – daar is niks wat uitskiet na bo of onder. Die teelwaarde indekse reflekteer ook die bul – mediumraam (tipe 2,5) wat uitstekend doen onder ekstensiewe toestande.

Hy behoort na ‘n ernstige teler te gaan wat graag bouvorm, raamtipe, aanpasbaarheid en manlikheid in die kudde wil vestig. Waarheen hy ookal gaan, sal hy ‘n betekenisvolle bydrae maak.

Hy is een van die sterkste bulle op die veiling!




LOT 15: HART 16-0103

    


Hy is geteel uit HART 11-0213 en WCS 02-0109 – sy is aangekoop op wyle Wally Stay se uitverkoopveiling en het uitstekend gedoen in die warm Kalahari met OEK 35 mnde, TKP 419 dae/10 kalwers en sy speen haar 10 kalwers teen gemiddeld 45.1% van haar liggaamsmassa. Dink net die aanpassing vanaf die Oos- Kaap na die Kalahari, maar sy presteer en “hou” lank by ons.

HART 16-0103 is ‘n raamtipe 3,5 bul wat net op koeie gebruik moet word. Hy het goeie bouvorm, genoegsame bespiering, breedte, kapasiteit en hy is mooi diep deur die voorlyf. Daar is klomp vleis aan die bul – van sy agterkwart, dye, lende, kruishelling regdeur tot die diep voorkwart is hy goed gevul. Toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is goed en sy bene is sterk. Hy het goeie breedte oor die hakke en loop baie gemaklik in die Kalahari dik sand.

Sy teelwaarde indekse wys presies wat ons in die bul sien. Swaarder op geboorte (83) – vandaar af is alle teelwaarde indekse baie goed in balans met voorspeense (107) en naspeense groeivermoë (105), GDT (99) en skrotum (106). Sy Seleksie Indekse is ook goed met Koei Waarde (98), Groei Waarde (109) en Produksie Waarde (100). Hy het baie goed presteer in sy groeitoetsgroep met Speenindeks (100), GDT (111) en Kleiberindeks (110).

Hy is goed aangepas vir die ekstensiewe toestande met sy blink, gladde vel en kort hare. Die skofontwikkeling is goed, vel is los en die velvoue is breed.

Daar is goeie manlikheid met sterk kop, goeie oogbanke, breed tussen die oë en mooi verdonkering van die nek. Sy skrotum hang mooi simmetries en meet 40cm.

HART 16-0103 is ‘n goeie bul en het baie eienskappe waarmee die Bonsmara goed kan doen. Hy is nie te groot om onder ekstensiewe omstandighede suksesvol mee te boer nie – inteendeel hy sal uitstekend doen. Op Hartebeestloop doen ons al ‘n geruime tyd weg met ultra-ligte geboortegewigte, swak groeiers en lae veldvoeromsetsyfers. Ons kliënte kry nie die optimale voordeel van die Bonsmara as ons nie ook na daardie eienskappe kyk nie.




LOT 16: HART 16-0088

    


Uitstekende bul geteel uit HART 09-0329 en HART 07-0122. Sy is ‘n ELITE GOUD koei met OEK 29 mnde, TKP van 369 dae/8 kalwers en sy speen 8 kalwers met gemiddelde speenindeks van 109 en teen 49% van haar eie gewig. Haar ma BHE 05-0059 is ook ‘n ELITE SILWER koei met uitstekende prestasies. Uit vaderskant kom HART 16-0088 uit een van die beste bulmoeders op Hartebeestloop - HART 06-0098. Kyk gerus na haar prestasies op die katalogus. Uit HART 07-0122 verkoop ek ‘n top bul aan Harry Erasmus van Erasmus Bonsmaras (HART 15-0094). Uit en uit haar geld werd as stoetkoei.

HART 16-0088 is ‘n effe groter raam bul met baie goeie bouvorm, kapasiteit, bespiering, breedte en ‘n baie sterk toplyn. Ek sal hom net op koeie gebruik. Hy was ‘n TOP PRESTEERDER tydens prestasietoetsing en het uitstaande teelwaarde indekse. Voorspeense (140), naspeense (138) groeivermoë, melk (106) en GDT (104). Sy skrotumteelwaarde is (108) en sy hoogte/lengte verhouding is uitstekend op 1:22. Hy dra baie vleis en is in uitstekende balans.

Hy wys goeie manlikheid met sterk kop, baie goeie breedte tussen die oë, goeie oogbanke, breë bek, pragtige verdonkering en ‘n perfekte skrotum wat 41,5 cm in omtrek is. Hy het ‘n baie goeie temperament. Wat my baie beïndruk, is sy uitstekende aanpasbaarheidseienskappe. Blink, seepgladde, dik vel met baie velvoue en ‘n goeie los keelvel. Daar is goeie skofontwikkeling, sterk bene met goeie kloue en ‘n stert wat amper die grond raak. Sy Veldbulindeks is 116. Die Hartebeestloop Veldbultoets is nie vir sissies nie – ons toets, weeg en meet alles en tog kom hy tops uit.

As stoettelers soek ons baie keer spesifieke bulle om sekere eienskappe in die kudde te versterk. Ander kere, soek ons ‘n bul wat alle eienskappe in die kudde behou of versterk. HART 16-0088 bring ‘n groot klomp van hierdie eienskappe saam met hom en dan wys hy nog baie goeie stoetpotensiaal ook!




LOT 17: HART 16-0099

    


Weereens ‘n bul wat uit ‘n top presterende moederlyn geteel is – ELITE GOUD koei NGO 02-0010 met OEK 33 mnde, TKP 375 dae/12 kalwers en speenindeks van 99/11 kalwers. Uit haar verkoop ons baie goeie seuns aan Werner en Anita Schroër (HART 08-0147), Hannes Maritz (HART 11-0170), Johann Human (HART 14-0081) en Tim Miller (HART 14-0419).

HART 16-0099 is ‘n “easy fleshing”, mediumraam (raamtipe 2,5), kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Ek ken my medeboere en hulle gaan dadelik sê die bul is te klein. Hy is egter PRESIES die regte raamtipe vir ons warm, droeë ekstensiewe toestande waar meeste van die koeikuddes oorwegend bestaan uit later ryp, groter raam en platsydig kruiskoeie. HART 16-0099 is PRESIES die tipe bul wat gebruik moet word om die raamtipes op meeste plase reg te teel sodat beter kilogramme en Namibiese dollars/hektaar geproduseer word. Die langdurige droogte het nou weer baie duidelik gewys watter diere optimaal presteer. In die grootste gedeelte van Namibië is daar nie genoeg kos om die groter raam diere te onderhou nie.

HART 16-0099 vertoon goeie bouvorm, kapasiteit, breedte, diepte en bespiering is baie goed. Sy toplyn is sterk en die kruishelling en stertaanhegting is ook baie goed. Die bul dra goeie vleis en is geteel uit bloedlyne wat vir ons hoë uitslagpersentasies en vleisopbrengste gegee het. Sy teelwaarde indekse vir Uitslag% en Vleisopbrengs is 106 en 101 onderskeidelik. Hy wys ook ‘n goeie kombinasie tussen genoegsame bespiering (oogspieroppervlakte TWI van 104) en vroeë vetneerlegging van 121.

HART 16-0099 se veldaanpasbaarheid is uitstekend. Hy kom gou in kondisie (pak maklik vleis en vet aan), behou sy kondisie goed (het mos die vetreserwes om te gebruik) en het ‘n lae Onderhoudskoste teelwaarde indeks van 108. Sy Veldbulindeks is 109. Eintlik behoort bogenoemde seleksie kriteria mos vir al ons diere te geld – maar ons gee meer waarde daaraan by die vroulike diere. Want hulle vat bul op kondisie en dit is waar ons geld is! Die visuele eienskappe van goeie aanpasbaarheid is baie duidelik op die bul te sien maar ek lig net die gladde vel en blink hare uit.

HART 16-0099 het ‘n spesifieke rol en gebruik in die beesvleisbedryf. Sy sterk punte is bouvorm, “easy fleshing”, vol vleis en aanpasbaarheid. Hy is die regte raamtipe vir ekstensiewe boerdery veral waar die weiding en voer beperk is. Kyk goed na hom as jy enige van die eienskappe wil versterk in jou kudde of as jou koeikudde in die klas val soos bo bespreek is.




LOT 18: HART 16-0228

    


Hy is geteel vanuit een van die beste en mees vrugbaarste moederlyne op Hartebeestloop. Die moer is HART 12-0279 met OEK 23 mnde, TKP 357 dae/5 kalwers en speenindeks van 102/4 kalwers. Sy speen teen 45.3% van haar liggaamsmassa. Sy is ‘n 4 ster koei. Haar ma is die ELITE PLATINUM KOEI, AEJ 06-0163 van 2016 en sy is nog steeds aktief in die kudde. Haar OEK 24 mnde, TKP 359 dae/11 kalwers en speenindeks van 102/11 kalwers. Sy is ‘n 4,5 ster koei. Die blou bloed loop dik deur hierdie moederlyn.

Die vaar is FCT 11-0285 en kyk gerus na sy ander seuns op die veiling. Hulle is lotte 4,18, 22, 24,25,28,30,35 & 40. Sommer ‘n dik span!

HART 16-0228 is ‘n mediumraam bul met goeie bespiering, baie goeie kapasiteit en sprong van rib, breed en met baie goeie diepte deur die voorlyf. Hy is seker een van die breedste bulle op die veiling. Toplyn is sterk, breed en die breedte gaan regdeur tot in die skof. Hy dra baie vleis – vanaf die voorkwart regdeur tot by die agterkwart met die lendes en kruishelling wat baie goed gevul is. Hy is baie sterk agter die blad – dit is ‘n eienskap wat aandag kort in die Bonsmara.

Sy genomiese verrykte teelwaarde indekse is uit die boeke – lig op geboortegewig (105) en daarna uitstekend oor die hele spektrum van eienskappe wat gemeet word. Die kombinasie van goeie bespiering en groot oogspieroppervlakte (114) en goeie lyfvet (vroeë vetneerlegging 112) maak hom die ideale bul in enige produksiestelsel. Kyk gerus na die Seleksie Indekse Koei Waarde (110), Groei Waarde (125) en Produksie Waarde (114).

Sy aanpasbaarheid is uitstekend – blink, gladde vel met kort haar, baie los keelvel met goeie velvoue, mooi skofontwikkeling, lang stert met sterk bene, goeie breedte oor die hakke en goeie kloue. Veldbulindeks is 103.

HART 16-0228 wys baie goeie sekondêre manlikheidseienskappe – kop is sterk, wakker oë, goeie oogbanke en breedte tussen die oë, mooi verdonkering en skrotum van 36 cm wat baie mooi gevorm is en hang.

HART 16-0228 wys hoë stoetpotensiaal. Hy is die Hartebeestloop beesmanne se bul van die veiling. Met so ‘n klomp sterk bulle op die veiling is dit moeilik as teler om ‘n paar uit te sonder maar, hy is hoog op my lys van moontlike stoetbulle.




LOT 19: HART 16-0129

    


Hy is geteel uit HART 11-0050 wat baie suksesvol as spesialis groeibul in die kudde gebruik is. Die moeder is HART 12-0129 en sy kom uit ‘n baie vrugbare en hoogspresterende moederlyn. Sy is ‘n 5 STER ELITE BRONS koei met OEK 25 mnde, TKP 351 dae/5 kalwers met speenindeks van 106/5 kalwers en sy speen die 5 teen 56% van haar liggaamsmassa. Haar ma is HART 08-0249 met OEK 26 mnde en TKP 392 dae/8 kalwers. Aan vaderskant is HART 16-0129 geteel uit BHE 04-0201 wat ‘n ELITE GOUD koei was. Kyk gerus na haar prestasies op die katalogus.

HART 16-0129 is ‘n effens groter raam bul (Tipe 3.5) wat uitstekende balans, goeie bouvorm, goeie bespiering, lengte, breedte en kapasiteit vertoon. Daar is baie goeie diepte deur die voorlyf, toplyn is sterk en breed nieteenstaande, die baie goeie lengte. Die kruishelling en stertaanhegting is uit die boeke. Hy is struktureel baie korrek. Hy dra baie vleis en dit is presies waarvoor hy geteel is.

Sy genomiese verrykte teelwaarde indekse wys presies hoekom hy ‘n spesialis groeier is – voorspeense (119) en naspeense (116) groeivermoë met GDT (112). Uitslag% is (116), Vleisopbrengs (120) en oogspieroppervlakte (114). Koei Waarde (107), Groei Waarde (115) en Produksie Waarde (109) – en dit kan jy alles in die bul sien. Sy goeie hoogte/lengte verhouding van 1:19 dra ook by tot ekstra vleis en gewig.

Hy wys baie goeie manlikheid met sterk kop, breë bek, sterk oogbanke en mooi verdonkering in die nek. Sy skrotumomtrek is 43 cm, dit is mooi gevorm en hang simmetries.

Hy is ook uitstekend aangepas met goeie skofontwikkeling, uitstaande kwaliteit vel en blink, kort haar. Die bul se stert raak amper die grond. Hy het baie goed gedoen met prestasietoetsing op die veld en sy Veldbulindeks is 100.

HART 16-0129 het baie ander goeie eienskappe wat ek nie na verwys nie. Kom kyk self na die bul! Ons almal is in ‘n mark wat gewig in die vorm van vleis verkoop en goeie groei, sterk bespiering en hoë uitslag% en vleisopbrengs is onder andere van die faktore wat ons winste dryf.

Hy sal ‘n betekenisvolle bydrae tot die gewigte van jou speenkalwers en osse maak sonder om aanpasbaarheid, bouvorm of raamtipe prys te gee.




LOT 20: HART 16-0299

    


Hy is geteel uit HART 09-0329 wat oor die algemeen uitstekende bouvorm en baie goeie groei in die Hartebeestloop kudde ingebring het. Dit is belangrik om te besef dat ons kliënte wissel tussen speenkalf en os produsente afhangende van die pryse. Hulle soek goeie groeivermoë (voor en naspeen), goeie GDT en ‘n bogemiddelde veldweidingomset (Kleiberindeks) om die beste produksie uit hulle diere op die veld te kry. Die uitdaging vir stoettelers is om bulle teel en te gebruik wat aan alle vereistes van ‘n volwaardige stoetbul voldoen maar ook die groeivermoë het om aan die kommersiële mark se behoeftes te voldoen.

HART 16-0299 is so ‘n bul! Hy vertoon uitstekende bouvorm, baie goeie lengte met ‘n hoogte/lengte verhouding van 1:23 wat ver beter as die rasgemiddeld is, uitstekende kapasiteit en sprong van rib, hy is baie breed met uitstekende bespiering, sterk toplyn en mooi diepte deur die voorlyf. Sy vleiseienskappe is uitstekend en teelwaarde indekse vir Uitslag% en Vleisopbrengs is ver bo die gemiddeld.

Sy aanpasbaarheid is baie goed – Veldbulindeks is 103 en jy kan sien hoekom. Vel en haar is baie goed, hy blink, skofontwikkeling is sterk, stert is lank, bene is baie sterk met goeie breedte oor die hakke en kloue is goed.

Hy wys baie goeie sekondêre manlikheidseienskappe – kop is sterk met goeie breedte tussen die oë, wakker kop-op houding, mooi oogbanke en dan natuurlik die baie goeie verdonkering van die nek en voorkwart – so tipies BUL! Sy skrotumomtrek is 37 cm en dit hang perfek.

HART 16-0299 wys hoë stoetpotensiaal en met sy kleur, bouvorm, bespiering, raamtipe, uitstekende vleiseienskappe en baie goeie groeivermoë behoort hy ‘n “keuse bul” onder die stoettelers te wees. Die Hartebeestloop span is trots op sy teling en hoe hy presteer het - en nou vertoon as veilingsbul.




LOT 21: HT 16-0020 (POENA)

    


Die HT kuddekenmerk is die poenas op Hartebeestloop en hulle staan bekend as Kalahari Bonsmaras. Daar word egter geen bestuurs-onderskeid gemaak tussen Hartebeestloop en Kalahari Bonsmaras nie. Poena beeste word direk met horingbeeste vergelyk in dieselfde groepe. Dit is nog altyd ons beleid dat poenas nie afsonderlik getoets moet word nie.

Hy is geteel uit LES 12-0016 (PcH) en MPE 13-0155. Sy is soos alle ander poena beeste van Kalahari Bonsmaras, orals oor in Suid-Afrika opgekoop en dan na Namibië verskuif. Ongelukkig is die verskuiwing gedoen gedurende die RSA droogte van 2015/2016 na nog ‘n droër Namibië! Sy is visueel poena en al 2 haar kalwers is poena.

Haar OEK is 33 mnde, TKP van 415 dae/2 kalwers en sy speen teen 57,2% van haar liggaamsmassa. Sy hou mooi in die Kalahari.

HT 16-0020 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Daar is goeie bouvorm, genoeg breedte en bespiering, genoegsame kapasiteit en mooi diepte deur die voorkwart. Hy dra goeie lyfvet met ‘n vroeë vetneerlegging TWI van 123 – en dit kan jy maklik aan die bul sien. Tipiese bees wat gou in kondisie kom. Sy hoogte/lengte verhouding van 1:27 is opvallend en heelwat beter as die rasgemiddeld. Hy is manlik, met goeie kop, mooi verdonkering en ‘n skrotumomtrek van 36,5 cm wat mooi gevorm is en goed hang.

HT 16-0020 vertoon baie goeie aanpasbaarheid – gladde blink vel met kort haar, goeie skof, genoeg keelvel, lang stert, sterk bene en goeie kloue. Sy Veldbulindeks van 106 is ‘n goeie aanduiding van ‘n bul wat op die veld presteer.

Hy spreek van die grootste tekortkominge in die poena-teling baie goed aan:

  • sy skede/naelvel kombinasie is uitstekend met geen prolaps
  • sy kop is sterk met goeie oogbanke en genoeg manlikheid
  • bouvorm is goed met genoeg bespiering en breedte
  • sy melk teelwaarde indeks is 95.

Stoettelers of kommersiële boere wat ‘n opteel program wil begin om poenas te teel, moet goed na die bul kyk. Jy begin dan reg en die saamgestelde effek van alles in die bul, sal jou baie baat in die toekoms. As jy enigsins oorweeg om poenas te teel, of as kommersiële boer nie meer wil onthoring in die toekoms nie, oorweeg HT 16-0020 sterk!




LOT 22: HART 16-0272

    


Sy vaar is FCT 11-0285. Kyk gerus na van die vorige beskrywings oor die bul (by LOT 18:HART 16-0228) en sy teling by ons. Die moer is HART 12-0185 met OEK 27 mnde, TKP 370 dae/5 kalwers met speenindeks van 107/5. Sy speen haar 5 kalwers teen 45,2% van haar liggaamsmassa.

HART 160-0272 sal sommer dadelik jou oog vang op die veiling. Dik, mediumraam bul met baie goeie bouvorm, mooi kapasiteit met goeie sprong van rib, goeie breedte regdeur en mooi diepte deur die voorlyf. Sy toplyn is sterk, kruishelling is mooi, bene is sterk met baie goeie breedte oor die hakke en goeie kloue. Hy dra baie vleis, is goed bespierd met ‘n sterk agterkwart en spiere wat laag aanheg. Sy teelwaarde indekse vir Uitslag% en Vleisopbrengs is bo die rasgemiddeld. Hierdie is 2 eienskappe wat met groot deeglikheid getoets word op Hartebeestloop deur “Real-Time” Ultrasoniese skanderings, Genomiese analises en data wat vanaf Meatco ontvang word as deel van slag- en karkasontledings. Dit is belangrik vir ons kliënte.

Hy wys sterk manlikheid, met goeie kop, goeie breedte tussen die oë, dik en sterk bulnek met baie goeie verdonkering en ‘n skrotum wat 37 cm in omtrek is en baie goed gevorm is en ook baie mooi hang. Die onderlyn is skoon met ‘n baie goeie skede/naelvel kombinasie.

Sy haarkleed is uitstekend – blink, glad en kort haar. Hy is baie goed aangepas met los keelvel, goeie skof en ‘n Veldbulindeks van 99.

Sy teelwaarde indekse is regdeur baie goed. Daar is genoeg groeivermoë, melk, GDT en skrotumomtrek is groot. Die 3 belangrike Seleksie teelwaarde indekse is Koei Waarde (107), Groei Waarde (109) en Produksie Waarde (108). Wat jy lees in hierdie waardes, is presies wat jy sien in die bul!

HART 16-0272 is vanuit ‘n vleis oogpunt sekerlik een van die sterkste bulle op die veiling! Hy is egter ook struktureel korrek, fenotipies doeltreffend en wys presies wat ons teelbeleid op Hartebeestloop is. Hy kan enige tyd in ‘n stoetkudde met groot sukses gebruik word.




LOT 23: HT 16-0014 (POENA)

    


Hierdie is nog een van die Kalahari Bonsmara poena bulle op die veiling. Voornemende kopers moet daarop let dat hy ‘n B- Generasie bul is. Ons opteelprogram met poenas om beter en ook onverwante genetika in te bring, is welbekend. Daar is baie van die B-Generasie poena bulle wat uit die opteelprogram kom wat bitter, baie sterk is en ‘n groot bydrae sal maak in kuddes! Daar is werklik nie ‘n kwaliteitverskil tussen hulle en die horingbulle nie.

Hy is geteel uit HDT 12-0020 (PcH) wat ons aanvanklik saam met Jan Boshoff van Boshoff Bonsmaras gedeel het. Die moer HT 08-0291 (PcPc) is ‘n A-generasie koei en al haar kalwers is poena.

HT 16-0014 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat gemaklik op koeie en verse gebruik kan word. Hy vertoon genoeg breedte, baie goeie bespiering, mooi middelstuk en goeie diepte deur die voorlyf. Die toplyn is sterk, hy is goed breed oor die rug, kruishelling en stertaanhegting is baie goed en sy onderlyn is mooi skoon met ‘n goeie skede/naelvel kombinasie. Hy dra baie vleis – lendes, kruishelling, binne en buite dye is goed gevul met vleis en hy is swaar in die voorlyf wat goeie gewig sal gee.

Hy wys baie goeie manlikheid met sterk kop, genoeg breedte tussen die oë, goeie sterk bulnek met baie mooi verdonkering van die nek, goeie skrotum (38,5 cm) wat mooi aangeheg is en goed hang.

HT 16-0014 se aanpasbaarheid is uitstekend – blink, gladde vel met kort haar, goeie velvoue, los keelvel, goeie skofontwikkeling, lang stert en baie sterk bene met goeie kloue. Sy Veldbulindeks van 120 is van die beste in sy groep. Hy kom gou in kondisie en presteer baie goed op die veld met minimum insetkostes. Sy aanpasbaarheid is werklik een van sy sterk eienskappe.

Sy teelwaarde indekse is deurgaans baie goed en op rasgemiddeld of beter. Ek verwys net na die 3 belangrike ekonomiese Seleksie teelwaarde indekse – Koei Waarde (104), Groei Waarde (108) en Produksie Waarde (105). Hierdie 3 waardes gee ‘n baie goeie prentjie van die algehele waarde van die bul.

HT 16-0014 is ‘n baie goeie kwaliteit en veilige poena bul om in jou kudde te bring. Die poenagene moenie die oorweging wees om hom te koop nie. Koop hom oor sy baie goeie kwaliteite en waarde wat hy toevoeg in die beesvleisindustrie en jou sak. Die poena-gene is net ‘n bonus!




LOT 24: HART 16-0320

    


Hy is geteel uit FCT 11-0285 en HART 12-0060. Sy is ‘n uitstekende koei met OEK 29 mnde, TKP 370 dae/5 kalwers met speenindeks van 107/5 en sy speen haar 5 kalwers teen 54% van haar liggaamsmassa. Sy is deel van ‘n baie vrugbare en hoogspresterende moederlyn op Hartebeestloop en haar ma BHE 04-0150 was ‘n toonsetter koei in die kudde. Kyk gerus na haar syfers en prestasies op die katalogus.

HART 16-0320 is ‘n bul met uitsonderlike goeie bouvorm, baie goeie bespiering, goeie breedte regdeur en veral op die rug, sterk toplyn, baie goeie kapasiteit en sprong van rib en goeie diepte deur die voorlyf. Struktureel is hy baie korrek met mooi kruishelling, goeie stertaanhegting, skoon onderlyn met goeie skede/naelvel kombinasie en uitstekende balans. Lanklaas is ‘n bul gesien wat so gemaklik beweeg in die dik en los Kalahari sand. Hy dra baie vleis en dit is presies die indruk wat hy gee.

Hy is uitstekend aangepas vir die ekstensiewe toestande met sy pragtige vel en haar, lang stert, baie sterk bene met sterk en droë hakke, goeie kloue en ook goeie skofontwikkeling. Sy Veldbulindeks van 108 wys sy goeie prestasies op die veld.

Hy is manlik met sterk kop, goeie oogbanke, goeie breedte tussen die oë, kort, dik bulnek met uitstekende verdonkering, skrotumomtrek van 36 cm wat mooi gevorm en baie goed hang.

Sy teelwaarde indekse is deurgaans uitstekend en ek haal net ‘n paar aan wat belangrik is en nie op die Bonsmara katalogus verskyn nie: Oogspieroppervlakte (137), Vroeë vetneerlegging (100), Uitslag% (137), Vleisopbrengs (116), Koei Waarde (108), Groei Waarde (123) en Produksie Waarde (112).

HART 160-0320 wys baie hoë stoetpotensiaal en stoettelers moet ernstig na hom kyk. Op Hartebeestloop is ons beïndruk oor hoe hy presteer onder veldtoestande en hoe goed hy ontwikkel het. Hy is ‘n “trendsetter” bul en wys hoe die Bonsmara van die toekoms moet lyk en presteer.

Ek gaan nie verder iets oor die bul sê nie – kom kyk self!




LOT 25: HART 16-0339

    


HART 16-0339 is geteel uit FCT 11-0285 en HART 13-0187. Sy kom weer uit ‘n baie goeie ELITE BRONS koei ( HOT 05-0292) wat ons aangekoop het op die 50 jaar Badeveen Bonsmara veiling. HART 13-0187 is aan vaderskant geteel uit HART 09-0055 wat seker een van die beste bulle is wat ons nog geteel en gebruik het. HART 13-0187 se OEK 26mnde, TKP 370 dae/4 kalwers, speenindeks van 109/4 en die HEEL BESTE statistiek – sy speen 4 kalwers teen 61% van haar eie gewig. Vir die Kalahari duineveld is dit koeidoeltreffenheid in die oortreffende stap.

HART 16-0339 is ‘n mediumraam bul met baie goeie bouvorm, genoeg bespiering, mooi kapasiteit, goeie sprong van rib en sterk toplyn wat eindig in ‘n baie goeie kruishelling en stertaanhegting. Hy het goeie breedte en is breed oor die rug al die pad tot in sy skof. Hy dra baie vleis met goeie diepte deur die voorlyf en sterk agterkwart. Sy bene is baie sterk met goeie breedte oor die hakke en die kloue is goed. Die bul is werklik goed aangepas (Veldbulindeks 105) vir die ekstensiewe toestande met goeie skofontwikkeling en baie goeie vel en haar. Sy balans en loopvermoë is baie goed – so nodig vir die moeilike terreine waar daar oorwegend met Bonsmaras geboer word.

Die manlikheidseienskappe is baie goed met sterk kop en goeie breedte tussen die oë, mooi verdonkering en skrotum wat perfek hang en 38,5 cm meet.

Sy teelwaarde indekse is baie goed met baie goeie voorspeense (118) en naspeense (114) groeivermoë, genoeg melk (101), baie goeie GDT (110) en skrotum (121). Hy het ook baie goed presteer in sy groep tydens die Groeitoets met Speenindeks (121), GDT (107) en Kleiberindeks (102). Sy Seleksie Indekse is uitstekend: Koei Waarde (114), Groei Waarde (121) en Produksie Waarde (117). Hierdie teelwaarde indekse praat vir hulself en die bul.

HART 16-0339 wys alles wat tipies is van ‘n goeie bul – kom uit uitstekende vader en vrugbare moederlyne, sy eie prestasietoetsdata is bogemiddeld, hy is aangepas en het presteer op die veld, is gehard vir moeilike toestande, sy teelwaarde indekse is bogemiddeld goed, hy is struktureel korrek en fenotipies doeltreffend en dan is hy boonop nog sag op die oog ook! Merk hom in die katalogus!




LOT 26: HART 16-0334

    


Hy is geteel uit HART 08-0082 en HART 14-0092. Sy het bietjie swaar getrek tussen haar 1ste en 2de kalf met 512 dae TKP maar gou reggeruk met laaste TKP van 394 dae. Haar OEK is 30 mnde, TKP 453 dae/3 kalwers en speenindeks van 108/2 kalwers. Sy speen die 2 kalwers teen 59,6% van haar liggaamsmassa.

HART 16-0334 is ‘n uitstekende vroegryp mediumraam bul wat met gerustheid op koeie en verse gebruik kan word. Sy bouvorm is baie goed, genoegsame bespiering, mooi middelstuk en sprong van rib en goeie diepte deur die voorlyf. Die bespiering is soepel sonder om enigsins oormatig of knopperig te vertoon. Hy het ook genoegsame breedte met goeie binne en buite dye. Die toplyn is sterk en eindig in goeie kruishelling met ‘n goeie stertaanhegting.

Hy is uitstekend aangepas vir die warm, ekstensiewe toestande. Sy vel is blink, glad met goeie velvoue in die nekarea, keelvel is los en beweeglik, bene is sterk vir goeie loopvermoë – enige klein afwyking of gesukkel om goed te loop is ‘n “no-go” in die Kalahari. Die beenstruktuur is egter fyn genoeg vir kalfgemak. Tipies van sy raamtipe en bouvorm is hy altyd van die eerstes wat in kondisie kom en hy behou sy kondisie baie goed op die veld. Sy Veldbulindeks van 108 bevestig sy baie goeie prestasies op die veld.

Hy wys baie manlikheid met baie goeie breedte tussen die oë, sterk oogbanke en ‘n sterk, manlike kop. Die nek is stewig, dik en het baie goeie verdonkering wat sy sekondêre manlikheidseienskappe baie mooi wys. Sy skrotumomtrek is 37,5 cm en dit is goed gevorm en hang mooi.

Hy het goed gedoen tydens prestasietoetsing in sy groep met alle waardes bo die groepsgemiddeld: Speenindeks (110), GDT (109) en Kleiberindeks (104).

HART 16-0334 is ‘n baie goeie vroegryp, mediumraam bul wat hierdie eienskappe in kuddes sal vestig. Hy sal uitstekend doen in ‘n kruisteelstelsel met later ryp, groter raam kruiskoeie – soos waaruit die meeste kommersiële kuddes opgebou is. Hy sal ook uitstekende vervangingsverse teel met goeie raamtipe, bouvorm, vrugbaarheid en aanpasbaarheid.




LOT 27: HT 16-0043 (POENA)

    


Hy is geteel uit HDT 12-0020 (PcH Poena) en HT 09-0038 (PcH Poena) . Voornemende kopers moet daarop let dat hy ‘n B-Generasie bul is. Ek het alreeds by die vorige poena bulle presies beskryf wat B-generasie behels en hoe die poena opteelprojek op Hartebeestloop werk.

HT 16-0043 is ‘n mediumraam bul wat op koeie en goed uitgegroeide verse gebruik kan word. Sy bespiering is goed, bouvorm is mooi en hy het genoeg kapasiteit en mooi diepte deur die voorlyf. Die toplyn is sterk en eindig in ‘n mooi kruishelling met goeie stertaanhegting en ‘n lang stert. Die vleiseienskappe is goed en hy is ‘n goeie vol-vleis bul.

Ek noem graag die volgende 2 goeie eienskappe van die bul wat in poenateling belangrik is:

  • Hy is baie manlik met ‘n sterk kop en goeie breedte tussen die oë. Ek weet nie hoeveel horing-gene bydra tot manlikheid nie maar dit bly ‘n uitdaging om goeie manlikheid in poenas te teel.
  • Sy onderlyn is baie goed met baie goeie skede/naelvel kombinasie en geen prolaps. Almal is bewus van die verwantskap tussen prolaps en poenas. Ongeag die ander goeie kwaliteite van poena bulle, prolaps is ‘n ongewenste eienskap wat nie in die Bonsmara ras hoort nie.

HT 16-0043 is baie goed aangepas vir die ekstensiewe omgewings met ‘n blinkgladde vel en baie mooi haarkleed. Sy skofontwikkeling is goed, daar is genoeg keelvel, bene is sterk en kloue is goed. Die swart pigment om die oë en neusspieël maak ‘n mooi prentjie. Sy aanpassing in die warm en droë Kalahari is uitstekend.

Sy sekondêre manlikheidseienskappe is ook baie goed ontwikkel – goeie verdonkering in die nekgedeelte, mooi wakker houding en skrotumomtrek van 37 cm. Skrotum is goed gevorm en hang simmetries.

Die teelwaarde indekse is goed gebalanseerd met goeie groeivermoë.

HT 16-0043 is nog ‘n goeie byvoeging tot die battery van goeie poena bulle wat nou op die mark kom. Stoettelers sal heel moontlik nie belangstel in ‘n B-generasie bul nie en dit maak hom beskikbaar vir die kommersiële teler. Hierdie is die geleentheid om ‘n goeie poena bul teen ‘n baie bekostigbare prys te bekom. Ek sien op Hartebeestloop die verskil in arbeid tussen die poenas en horingbeeste en die feit dat jy nooit hoef terug te gaan en ‘n tweede keer “ordentlik” te onthoring nie.




LOT 29: HT 16-0060 (POENA)

    


Hy is geteel uit HT 13-0010 (PcH) wat op die 2018 veiling aan Nic en Sunja van Heerden van Zunica Bonsmaras verkoop is. Sy kalwers kom nou sterk deur en ons is baie tevrede met die kwaliteit. Die moer is MPE 10-0055 (PcH) en haar OEK is 34 mnde, TKP van 409 dae/6 kalwers met speenindeks van 103. Die ingevoerde poenakoeie van die RSA het ongelooflik swaar gekry aangesien hulle in ‘n erge droogte op Hartebeestloop aangekom het en nog steeds die ergste droogte ooit beleef! Net die feit dat hulle dragtig word, kalf, en ‘n kalf speen, wys op die ongelooflike gehardheid, oorlewingsvermoë en aanpasbaarheid van die Bonsmara.

HT 16-0060 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op koeie en verse gebruik kan word. Sy bouvorm is goed, bespiering is sterk, middelstuk en sprong van rib is goed ontwikkel en daar is goeie diepte deur die voorlyf. Toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is baie goed, bene is sterk en die kloue is goed. Onderlyn is mooi en hy het ‘n baie goeie skede/naelvel kombinasie. Hy het goeie vleiseienskappe en is orals goed en vol vleis. Hy is baie goed aangepas vir die ekstensiewe toestande met ‘n baie gladde en glansende vel, kort en blink haar, goeie skof, los keelvel en breë velvoue in die nekgedeelte.

HT 16-0060 wys baie goeie manlikheid, sterk kop, dik en sterk oogbanke, goeie breedte tussen die oë, mooi verdonkering in die nek en ‘n skrotum wat 38 cm meet en baie goed hang. Hy is seker een van die poena bulle met die sterkste kop.

HT 16-0060 is ‘n kalfgemak bul en dit is waar hy aangewend moet word. Hy sal ook kwaliteit vervangingsverse teel met goeie bouvorm, baie vroulikheid en poena. Daar is ‘n baie groot aanvraag in die mark vir poena vroulike diere en ernstige kommersiële boere kan gerus na die poena vervangingsvers mark kyk. Dr Christo Burger van Mytilus Boerdery het alreeds ‘n dik span hoogstaande kwaliteit poena verse geteel en dit is die moeite werd om na sy diere te gaan kyk.

HT 16-0060 is ook geskik vir kruisteling.




LOT 30: HART 16-0305

    


Hy is geteel uit FCT 11-0285 en HART 12-0072 – en sy is OEK 25 mnde, TKP 409 dae/5 kalwers met speenindeks van 101/5 kalwers.

HART 16-0305 is ‘n mediumraam bul met goeie breedte, goeie bouvorm, sterk bespiering, mooi middelstuk en genoeg diepte deur die voorlyf. Hy dra baie vleis en sal uitstekend doen in speenkalf en os produksiestelsels. Verhoogde Uitslag% en Vleisopbrengs is sterk punte by hom. Saam met dit het hy ook baie goeie teelwaarde indekse vir voorspeense groei (110), naspeense groei (109), GDT (105), voeromsetverhouding (103) en veldvoeromset Kleiberindeks (103). Dit is waardes wat van groot belang is as jy bulaankope doen om swaarder speenkalwers en osse te produseer. HART 16-0305 moet net op koeie gebruik word.

Hy is baie goed aangepas met ‘n Veldbulindeks van 102. Kom kyk gerus op die veiling na sy baie goeie aanpasbaarheidseienskappe, veral die lang stert – hy sal enige plek met gemak aanpas. Hy het ook weer ‘n goeie kombinasie van algemene bespiering (oogspieroppervlakte TWI van 119) en vroeg in kondisie kom met vroeë vetneerleggings TWI van (111). Vir ekstensiewe boerdery is die vermoë van diere om gou in kondisie te kom en dit te behou, van die mees ekonomiese belangrike eienskappe.

Sy sekondêre manlikheidseienskappe is ook goed ontwikkel met sterk kop, goeie oogbanke, mooi verdonkering en ‘n skrotum wat 34 cm meet.

Ek verwys ook na die Seleksie teelwaarde indekse: Koei Waarde (98), Groei Waarde (110) en Produksie Waarde (100).

HART 16-0305 is struktureel korrek en fenotipies doeltreffend. Oorweeg hom gerus as jy groeivermoë en melk wil verbeter en ook verhoogde produksie per hektaar wil kry. Hy is goed aangepas, baie vrugbaar met skrotumomtrek teelwaarde indeks (99) en oorgenoeg melk wat hy oordra na sy vroulike nageslag. As daar miskien meer Sanga-tipe koeie of later ryp, groter raam kruiskoeie is waar jy reproduksie en produksie wil verbeter, is hy ‘n baie goeie bul om te oorweeg.




LOT 31: HART 16-0294

    


Hy is geteel uit HART 12-0199 wat al die pad teruggaan na die ou Fortress bloedlyne. Sy ouma aan vaderskant is die SA Stamboek ELITE PLATINUM Bonsmara koei vir 2019. Kyk gerus na haar uitsonderlike reproduksie en produksie syfers op die katalogus. Sy moer is HART 13-0371 met ‘n OEK 33 mnde, TKP 393 dae/3 kalwers en sy speen die kalwers teen 58,9% van haar liggaamsmassa. Indien sy hierdie prestasies volhou, is sy eendag in die “Royal Family of Cows” op Hartebeestloop!

HART 16-0294 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is seker een van die beste aangepasde bulle op die veiling – blink en gladde haarkleed met kort haar, lekker los keelvel, breë velvoue in die nek, sterk bene, goeie kloue en ‘n baie gemaklike loopvermoë. Hierdie tipe goed aangepasde Bonsmaras kan jy enige plek in Suidelike Afrika skuif en hulle presteer.

Hy vertoon goeie bouvorm, goeie bespiering, genoeg breedte, goeie diepte deur die voorlyf en ‘n sterk toplyn. Kruishelling en stertaanhegting is goed, bene is sterk en kloue is goed. Hy is struktureel korrek en goed gepak met vleis en vertoon goeie balans.

HART 16-0294 presteer uitstekend tydens prestasietoetsing met Speenindeks (111), GDT (111) en Kleiberindeks (108). Sy teelwaarde indekse is ook deurlopend goed met kalfgemak (101), voorspeense en naspeense groeivermoë (101) en (109) onderskeidelik, melk (96), GDT (109) en skrotum (106). Sy Seleksie teelwaarde indekse is Koei Waarde (101), Groei Waarde (124) en Produksie Waarde (106). Daar het jy dit – uitstekend!

HART 16-0294 sal baie goed doen in speenkalf en os produksiestelsels. Hy het goeie groei, goeie GDT en baie goeie teelwaarde indekse vir Uitslag% (106) en Vleisopbrengs (116). Dit is wat die kommersiële boer benodig om goeie gewig en vleis te lewer aan die mark en goeie geld te verdien. Hy sal ook baie goed doen in ‘n kruisteelstelsel waar groei, GDT, gewig en vleisopbrengs verbeter moet word. Merk hom as jou kudde by die eienskappe kan baat.




LOT 32: HART 16-0178

    


Hy is geteel uit HART 11-0050 en HART 12-0035. Sy is ‘n baie mooi 4- STER koei en teel uitstekend met OEK 24 mnde, TKP 367 dae/6 kalwers en sy speen die 6 kalwers teen 54,5% van haar liggaamsmassa. HART 16-0178 se beide oumas was uitstekende koeie en kyk gerus ook na hulle prestasies op die katalogus. Die Bonsmara ras se sukses is gebou op die vrugbaarheid en baie hoë prestasies van die koeie. Hy kombineer nou 2 sulke baie goeie moederlyne.

HART 16-0178 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Die beenstruktuur is fyner en dit dra by tot kalfgemak. Bouvorm is goed, bespiering is genoegsaam en soepel, goeie middelstuk en ook goeie diepte deur die voorlyf. Die toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is goed en hy het goeie vleiseienskappe. Hy is uitstekend aangepas vir die ekstensiewe toestande en dra baie lyfvet of is “easy fleshing” soos die Amerikaners na sulke tipe diere verwys. HART 16-0178 kom baie maklik en gou in kondisie op die veld met minimale insetkoste – dit is ‘n kenmerk van hierdie tipe bulle.

Sy manlikheid is goed met sterk kop en mooi oogbanke, goeie verdonkering en ‘n goeie skrotum wat 40 cm meet en mooi hang.

Sy teelwaarde indekse is tipies van ‘n kalfgemak bul – goed op geboortegewig (107), goeie voorspeense groeivermoë (100), naspeense groeivermoë is (96), GDT (101), voeromsetvermoë (107) en vrugbaarheid in die vorm van skrotumomtrek (114).

Hy het alles wat ons soek in ‘n kalfgemak bul om verse mee oop te maak. Dit is sy beste aanwending en hy sal ook goed doen wanneer ons in die goeie reënjare dalk bietjie vroeër verse wil paar. Oorweeg hom sterk as jy dalk kruisverse wil oopmaak waar die rasse betrokke nie bekend is vir kalfgemak nie. Dit is nou waar die kalf se groei in die baarmoeder nie so goed beheer en beperk word nie.




LOT 35: HART 16-0306

    


Goeie mediumraam en kalfgemak bul geteel uit FCT 11-0285 en HART 10-0305. Haar OEK is 24 mnde, TKP 416 dae/6 kalwers en speenindeks van 103/5 kalwers. Sy is ‘n mooi en funksionele koei met baie goeie spene en uier.

HART 16-0306 is ‘n breë en kompakte bul met goeie bouvorm, goeie bespiering, mooi lengte, sterk middelstuk en weereens baie goeie diepte deur die voorlyf. Sy balans, loopvermoë en algemene vleiseienskappe is uit die boeke. Sy toplyn is uitstekend en so ook die kruishelling en stertaanhegting. Hy is ‘n vleisbul deur-en-deur en kyk gerus na sy Uitslag% (109) en Vleisopbrengs (107) – hierdie waardes dra baie gewig in ‘n speenkalf of os produksiestelsel. Ons toets dit al dekades lank in die Hartebeestloop kudde. Onthou – ‘n goeie speenkalf word ‘n goeie os!

Sy teelwaarde indekse is werklik baie goed – ligter op geboortegewig (102), goeie voorspeense en naspeense groeivermoë van (101) en (100) onderskeidelik, melk (115), GDT (103), oogspieroppervlakte van (108) en dit gee ‘n baie goeie aanduiding van sy algemene bespiering en vrugbaarheid in die vorm van skrotumomtrek (114). Die 3 Seleksie teelwaarde indekse is ook baie goed: Koei Waarde (109), Groei Waarde (106) en Produksie Waarde (109). Ek wil nie te veel tyd mors op teelwaardes en die wetenskap nie maar, onthou dit is die Genetiese Potensiaal van die bul wat hier ter sprake is. Die boer maak sy winste uit die nageslag wat die bul teel.

Hy is baie goed aangepas met blink en gladde vel, kort haar, mooi skofontwikkeling, lang stert, sterk bene met goeie breedte oor die hakke en goeie kloue.

HART 16-0306 is ‘n baie goeie bul wat ook op uitgegroeide verse gebruik kan word. Hy sal uitstekende vleiseienskappe en gewig in jou kudde bring maar terselfdertyd ook baie goeie bouvorm, baie melk, vrugbaarheid en aanpasbaarheid. Hy sal hierdie eienskappe in stoet en kommersiële kuddes inbring.

Ernstige kommersiële telers moet baie mooi na hom kyk!




LOT 36: HART 16-0255

    


Hy is geteel uit HART 12-0420 en VBB 07-0184 met OEK 29 mnde, TKP 363 dae/9 kalwers en speenindeks van 95/8 kalwers. HART 12-0420 kom uit ‘n lang lyn van kalfgemak bulle al die pad tot by AG 01-0152. Dit was my heel eerste AG-bul en ek pluk nou nog die vrugte van die aankope.

HART 16-0255 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op koeie en goed uitgegroeide verse gebruik kan word. Hy het goeie bouvorm met genoeg bespiering, genoegsame breedte, diep middelstuk en baie goeie diepte deur die voorlyf. Weereens ‘n bul wat baie goeie vleis dra – orals mooi gevul met vleis en baie goeie waardes vir Uitslag% en Vleisopbrengs. Die toplyn is sterk, kruishelling is goed en die stertaanhegting is bietjie hoog ingeplant maar, nog steeds baie aanvaarbaar. Die bene is sterk maar iewat fyner, en dit is een rede hoekom ek dink daar nie probleme sal wees om hom te gebruik op uitgegroeide verse nie.

Hy is uitstekend aangepas vir die warm en harde Namibië met gladde vel, blink en kort haarkleed, baie ekstra vel by die keelvel, goeie velvoue in die nek, mooi skofontwikkeling en lang stert. Hierdie tipe bouvorm, aangepasde beeste met goeie middelstukke floreer orals in ekstensiewe areas.

Daar is goeie manlikheidseienskappe met sterk kop, sterk oogbanke, genoeg breedte tussen die oë en goeie skrotum wat 38.5 cm meet en goed hang. Die skrotum is ook baie mooi gevorm.

HART 16-0255 is ‘n baie goeie kommersiële bul wat uitstekend in ‘n kruisteelstelsel sal doen. Hy dra baie vleis, is aangepas, kan op verse gebruik word, is struktureel korrek en het heel goed presteer tydens prestasietoetsing. Elke ras het sy sterk eienskappe en sou jy graag die sterk eienskappe van die Bonsmaras in jou kudde wil versterk of nuut inbring – kyk gerus na HART 16-0255.




LOT 38: HART 16-0151

    


Hy is geteel uit HART 11-0213 en een van die laaste Benchmark koeie HJB 04-0076 wat nog in die kudde was. Sy het baie goed gehou in die Kalahari met OEK 30 mnde, TKP 400 dae/9 kalwers met speenindeks van 94/9 kalwers. Sy speen die 9 kalwers teen 46,3% van haar liggaamsmassa.

HART 16-0151 is ‘n mediumraam, kalfgemak bul wat op koeie en verse gebruik kan word. Hy vertoon goeie bouvorm, goeie bespiering, mooi breedte en ook goeie kapasiteit en sprong van rib. Daar is goeie diepte deur die voorlyf, sterk toplyn en goeie kruishelling en stertaanhegting. Sy hoogte/lengte verhouding is 1:23. Hy het baie sterk bene met breë hakke, goeie kloue en baie gemaklike loopvermoë. Hy dra baie vleis, is sterk agter die blaaie en sal bouvorms teel wat baie goed gradeer.

Die prentjie van HART 16-0151 is een van ‘n bul wat baie vleis dra.

Hy is uitstekend aangepas met goeie skofontwikkeling en ‘n blink, seepgladde vel met kort en glansende haar. Die velvoue in die nekgedeelte is veelvuldig, breed en word verder gekomplimenteer deur ‘n lang en los keelvel. Die vel maak normaalweg ongeveer 8% van die lewende gewig uit en is van kardinale belang vir hitte regulering. Sy Veldbulindeks is 102. Sy Kleiberindeks wat ‘n goeie aanduiding gee van groei op die veld en indirek dan ook die veldvoeromset is 107. Hy doen uitstekend onder veldtoestande.

HART 16-0151 wys goeie manlikheid met ‘n sterk kop, goeie breedte tussen die oë, mooi verdonkering en ‘n goedgevormde skrotum, wat mooi hang en 36,5 cm meet.

Boere kan maar mooi na hom kyk! Hy het baie goeie eienskappe en die wat veral uitstaan is sy goeie vleis, uitstekende aanpasbaarheid en ook die feit dat hy op verse gebruik kan word. Hy behoort in enige produksiestelsel sy kant te bring en sal ook baie goed doen in ‘n goed beplande kruisteelstelsel.



Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap