Hartebeestloop

Hartebeestloop
Auction 2018

Index  |  Overview  |  Newsletter 2018 | Animals | General  |  All Auctions
Auction
Bulls 2018



    


LEES ASB EERS HIERDIE BELANGRIKE INLIGTING OOR DIE BULBESKRYWINGS DEUR VOORDAT JY VERDER GAAN

Hierdie is die 11de Hartebeestloop Produksie Veiling en deur die jare is daar ‘n sekere standaard gevestig. Dit is nie meer nodig om die standaard met elke bulbeskrywing te herhaal nie. Die beskrywings word tè omslagtig, bevat tè veel inligting en lees tè moeilik. Ek gee jou die versekering dat geen bul wat nie aan die onderstaande voldoen, op die veiling is nie.

A. PRESTASIETOETSING OP DIE VELD EN IN DIE ALGEMEEN:

  1. Pelvismetings
    Die eienskap is oorerflik en daar is genoeg variasie in pelvisgrootte om daarvoor te selekteer. Streng seleksie onder die veilingsbulle bring kalfgemak na jou kudde. As ‘n bul nie voldoen aan die norme vir pelvisgrootte nie, is dit nie op die veiling nie. Ek dui nie pelvisdata aan in die bulbeskrywings nie maar, dit is gedoen en beskikbaar.

  2. Kondisietellings, temperament, kwaliteit vel en haar, klou kwaliteit en uier en speen evaluering van die vroulike voorgeslag(te)
    Hierdie eienskappe is deurlopend geëvalueer – dit is vir ons en jou van dieselfde ekonomiese waarde as amptelike prestasietoetsing. Ons ken die finansiële verlies van ‘n swak kalf weens dopspene of ‘n swak uier by die koei. So ook die probleme met hans kalwers grootmaak. Ons doelwit is om langtermyn genetiese voordeel na jou kudde te bring met behoud van goeie kondisie op die veld, mak en hanteerbare beeste, goeie aanpasbaarheid, goeie loopvermoë en fantastiese spene en uiers wat hou-en-hou. Hierdie data is beskikbaar vir alle veilingsbulle.

  3. Aanpasbaarheid en groeivermoë op die veld
    Aanpasbaarheid word gemeet as deel van die amptelike prestasietoetsing. Ons gee egter die ekstra tree en doen ook ‘n VeldPrestasie toets op die plaas onder ekstensiewe toestande. Al die eienskappe wat aanpasbaarheid, gehardheid, veldvoeromset en groeivermoë op die veld bepaal, word saamgevoeg in die Hartebeestloop VeldPrestasie Indeks. Die veilingsbulle het almal die toets deurgegaan en genoegsaam presteer om te voldoen aan die kriteria om op die veld suksesvol te presteer. Dit is wêreldwyd ‘n neiging om alle belangrike eienskappe saam te vat in ‘n gesamentlike indeks. In die bulbeskrywings word nie verwys na die Hartebeestloop VeldPrestasie Indeks of na die individuele komponente wat die indeks opmaak nie.

  4. Veldbultoets
    Onderstaande is ‘n kort beskrywing van die redes en ons toepassing van Veldbultoetse op Hartebeestloop. Ek verwys nie meer na die individuele bulle se Veldbulprestasies as deel van die bulbeskrywings nie. Bulle wat nie presteer het onder veldtoestande nie, is alreeds uitgeskot en nie deel van die veiling nie. Die Hartebeestloop Ekonomiese Indekse vir individuele bulle is wel beskikbaar op aanvraag.

    Tom Lasater (stigter van die Beefmasters) het die volgende gesê en met groot sukses toegepas: “Livestock should be bred, born, raised, performance tested and sold under the conditions they will produce.” Op Hartebeestloop pas ons die filosofie streng toe en glo dat die uitgroei van bulle op ruvoer vir ordentlike ontwikkeling van voormae, ‘n sleutelfaktor is vir die latere goeie prestasies onder veldtoestande.

    Ons stel net belang in die eienskappe wat vir ons kliënte meer geld in die sak bring en daarom toets ons in samewerking met Veldbul SA die volgende:
    • Groei op die veld as indikasie van lae insetkoste beeste
    • Doeltreffendheid van veldweidingomset na vleis en gewig
    • Handhawing van kondisie op die veld as indikasie van lae insetkoste en aanpasbaarheid
    • Temperament om maklik en veilig te boer
    • Pelvisgrootte vir maklike kalwing
    • Haarkleed vir aanpasbaarheid.
    • Skrotumomtrek as indikasie van vrugbaarheid van vroulike nageslag.

    Hiervolgens word dan ‘n Hartebeestloop Veldbul Ekonomiese Indeks uitgewerk en aan elke bul toegeken.

  5. Ultrasoniese skandering en die potensiaal vir goeie vleisopbrengs en hoë uitslagpersentasie
    Ons doen ultrasoniese skanderings vir so lank as wat ek kan onthou. Hierdie data word gebruik om vleisopbrengs en uitslagpersentasie binne gebalanseerde perkte te verbeter as deel van ons teelbeleid. Die Hartebeestloop slagbees prestasies by Meatco is ‘n bewys dat daar wel suksesvol vir die 2 eienskappe geselekteer kan word. Ek gebruik soms algemene boere-terme soos volvleis bul, gepak met vleis ensomeer as deel van die bulbeskrywing – dit is net om die vleiseienskappe van ‘n spesifieke dier te beklemtoon. Die vleisdraende vermoë van die bulle en die genetiese potensiaal om dit oor te dra na die nageslag is ‘n belangrike teeldoelwit op Hartebeestloop. Ons wil graag die hoeveelheid “vleis” in jou kudde verbeter. Ek gee egter nie meer die verwagte uitslagpersentasie en karkasopbrengs in die bulbeskrywings nie. Dit raak net tè veel inligting.

  6. Ultrasoniese skandering, grootte van oogspieroppervlakte en vroeë vetneerleggingsvermoë
    Bespiering in vleisbeeste is ‘n belangrike ekonomiese produksie eienskap. Dit is hoekom oogspieroppervlaktes gemeet word want dit gee ‘n baie goeie indikasie van die algehele bespiering van die dier. Oormatige bespiering het egter ‘n negatiewe invloed op vrugbaarheid en reproduksievermoë. Die vermoë van diere om vroeg genoeg vet neer te lê, is ‘n noodsaaklikheid vir vroeg vrugbaar en vroeg in kondisie kom, om bul te vat. Die waarde van “kombinasie diere” wat genoegsame bespiering het èn die vermoë besit om vroeg in kondisie te kom – is die “ultimate smart partnership” tussen produksie en reproduksie. Vir my is dit ‘n vereiste vir suksesvolle beesboerdery. Hierdie data is weereens beskikbaar vir alle veilingsbulle en ek verwys in die soms in die bulbeskrywings na spesifieke diere wat uitstaande is vir hierdie 2 eienskappe.

  7. Manlikheid, sekondêre manlikheidseienskappe, geslagsegtheid, skrotumomtrek, vrugbaarheid en libido
    Die veilingsbulle is verskeie kere en weer-en-weer geëvalueer op die visuele eienskappe wat manlikheid en potensiële libido aandui. Vanaf welige stertkwas tot kaal voorkoppe! Skrotumomtrekke is gemeet en skrotums en geslagsorgane is klinies ondersoek en voldoen aan die Bonsmara en Veeartseny standaarde. Alle bulle is vrugbaar getoets deur die veearts en van geselekteerde bulle is mikroskopiese video opnames gedoen van die semenontleding. Die veilingsbulle is reg om te werk! Die data is alles beskikbaar maar word nie onder elke bulbeskrywing bespreek nie.



B. AMPTELIKE PRESTASIETOETSING Ek probeer om die bulbeskrywings te vergemaklik vir die boere deur die prestasietoets data in ‘n makliker vorm met Teelwaarde Indekse en Logix Seleksie Waardes deur te gee. Onderstaande is die verduideliking oor hoe die Teelwaarde Indekse en Logix Seleksie Waardes bepaal word en hoe dit verstaan en gebruik moet word.

  1. Hoekom word Teelwaarde Indekse gebruik in die bulbeskrywings en nie die individuele Teelwaardes nie?
    Die teelwaarde indeks is makliker om te verstaan as ‘n teelwaarde, veral vir die kommersiële boere. Die basis van ‘n teelwaarde indeks is 100, wat die gemiddelde teelwaarde van die lewendige diere in die ras aandui. Waardes bo 100 is altyd in die meer gewenste rigting en dit dui aan dat die dier ‘n bogemiddelde genetiese potensiaal het vir ‘n spesifieke eienskap ten opsigte van die lewendige diere in die ras. Daar is egter heelwat kere wat waardes tussen 80 - 100 aanvaarbaar is, afhangende van die prioriteit van die eienskap wat jy wil aanspreek in jou kudde. Vra gerus hulp by een van die veilingskonsultante as jy onseker oor dit is.

  2. Hoekom word die Logix Seleksie Waardes (Logix Groei Waarde en Logix Produksie Waarde) gebruik in die bulbeskrywings?
    Die Logix Seleksie Waardes is die kombinasie van die teelwaardes in ‘n enkele waarde. Dit gee ‘n vinnige en maklike indikasie van die gekombineerde genetiese waarde van die dier ten opsigte van sy ras. Dit maak dit onnodig om elke teelwaarde afsonderlik vir elke eienskap vir elke dier te bespreek. Die kombinasie genetiese waardes saamgevat in ‘n Groei Waarde en ‘n Produksie Waarde dui die genetiese meriete van die dier aan. Die basiswaarde is 100 en is waardes bo 100 in die gewenste rigting. Onthou hierdie Logix Seleksie Waardes word uit verskeie subwaardes opgebou en weereens is waardes tussen 90 en 110 baie aanvaarbaar. Dit is tans die neiging om verskeie teelwaardes saam te vat in een waarde om verstaanbaarheid en besluitneming te bevorder. Hierdie data is vir elke bul beskikbaar maar word nie in die bulbeskrywings aangedui nie.



C. LOGIX SELEKSIE WAARDES

As daar enige onduidelikheid oor die Logix Seleksie waardes is, kan jy my enige tyd kontak.




LOT 01: HDT 15-0040 (PP)

    


Ons maak plek vir ‘n baie sterk bul om die veiling te begin!

Top poena bul geteel deur Dr Gustav Trumpelmann van Bostrum Bonsmaras. Hy is DNA bevestig as PP wat beteken dat hy BEIDE poena gene dra – alhoewel hy “scurs/horingmerke” wys. Sy vaar is MCU 12-0032 wat met DNA bevestig is as Pp (dra een poena geen) en sy moeder HDT 03-0085 het konstant poena kalwers geteel. Sy is ‘n SA Stamboek ELITE GOUD koei met OEK 24 mnde, TKP 400 dae/11 kalwers en gemiddelde speenindeks van 99/11. Sy speen 11 kalwers teen 47.8% van haar eie gewig. Uitstaande reproduksie en doeltreffenheid syfers.

HDT 15-0040 kan met enige horing bul kompeteer as na bouvorm, aanpasbaarheid, teelwaardes en prestasies gekyk word. Baie goeie bouvorm, sterk bespiering, baie breedte met goeie kapasiteit en mooi diepte deur die voorlyf. Hy is ‘n lang bul met hoogte/lengte verhouding van 1:22. Sy skede/naelvel kombinasie is baie goed. Hy moet net op koeie gebruik word aangesien sy bouvorm en bespiering nie ideaal is om verse mee oop te maak nie.

Hy is uitstekend aangepas vir die ekstensiewe en warm toestande – blink, gladde vel, goeie skofontwikkeling met sterk bene en kloue. Jy sal hom sien op die veiling en dadelik weet dat hy orals sal aanpas. Onthou hy is van Lydenburg se bergagtige en erge suurveld na Namibiese Kalahari duineveld.

Hy wys baie manlikheid met pragtige verdonkering, simmetriese skrotum wat mooi hang en 37,5cm in omtrek meet. Sy kop kon sterker gewees het.

Die teelwaardes is deurgaans uitstekend met baie goeie voorspeense (113) en naspeense (111) groeivermoë en baie melk (106).

My opinie is dat die poena Bonsmara nie deur een, twee of ‘n klein aantal telers suksesvol gedryf kan word nie. Goeie poena bulle moet konstant beskikbaar gestel word sodat die genepoel wyd verspreid en beskikbaar is vir alle telers en boere. Vir presies die rede is HDT 15-0040 beskikbaar as LOT 1 op die veiling.




LOT 02: HART 15-0096

    


Hy is ‘n baie goeie mediumraam bul geteel uit HART 10-0219.

Hoogs reproduserende koeilyne is belangrik vir almal – ongeag of jy kommersieël of stoet boer. Doen moeite asb en kyk na die koeilyne betrokke aan beide vader- en moederskant in die teling van HART 15-0096. Hierdie koeie is van die bestes in die kudde en herhaal uitstekende reproduksiesyfers deur generasies heen – deur nat, gemiddelde en droë jare. Ons het ‘n betekenisvolle aantal bulle en koeie uit die bloedlyne aan stoettelers en kommersiële boere regoor Namibië verkoop. Beide sy moeder en ouma aan vaderskant is nog steeds in die kudde. Bulle uit sulke koeilyne bring vrugbaarheid en hoë reproduksievermoë in jou kudde in. En meer as dit – hierdie koeilyne speen bogemiddeld swaar met ‘n hoë koeidoeltreffenheidsyfer. Dit is nou as hulle vergelyk word met hulle groepe op Hartebeestloop.

HART 15-0096 is ‘n donker, mediumraam, kalfgemak bul wat gerus op verse en koeie gebruik kan word. Hy is ‘n tipiese voorbeeld van die diere wat ons probeer teel – uitstekende bouvorm, genoegsame bespiering, goeie diepte en “easy fleshing”. Die konsepte van “easy fleshing” en vroeë vetneerlegging het oor die afgelope paar jare van nog groter belang geword. Boere besef dat die 2 eienskappe van groot ekonomiese belang is – ongeag watter produksiestelsel jy toepas. Bulle soos HART 15-0096 bring hierdie eienskappe na jou kudde. Ek gaan nie veel sê oor sy teelwaardes nie – dit is van die beste regdeur!

Sy sterk manlikheidseienskappe, pragtige verdonkering, sterk kop en goeie oogbanke en skrotumomtrek van 38.5cm is opvallend. Boere kan nie uitgepraat raak oor die rol van aanpasbaarheid in die suksesse van hulle kuddes nie – en dit is reg so! Vergelyk gerus hierdie bul se aanpasbaarheids eienskappe met dit wat jy as belangrik beskou.

Ek beskou HART 15-0096 as ‘n uitstekende bul wat alle eienskappe wat belangrik is vir suksesvolle beesboerdery in goeie balans het. Jy kan nie verkeerd gaan met hom nie!




LOT 03: HART 15-0125

    


‘n Lang, mediumraam bul wat ‘n seun is van HART 11-0058 wat in 2017 aan Nick Serfontein (Sernick Bonsmaras) verkoop is. Hy trek baie na sy pa met die glansende vel en haar, uitstekende manlikheid en sterk kop. Ek wil julle aandag vestig op die uitstaande koeilyne waaruit die bul geteel is – ‘n kombinasie van HART 05-0004 (SA Stamboek ELITE GOUD ) en die bekende Fortress koeie van Burkhardt Hermann. Jaar-na-jaar handhaaf hierdie koeie se nageslag uitmuntende prestasies in ons kudde – “Like mother, Like daughter”. Dit is hierdie tipe koeie wat die Bonsmara, die moederlyn ras van keuse maak.

HART 15-0125 kan op uitgegroeide verse en koeie gebruik word. Hy vertoon goeie bouvorm, genoegsame bespiering, sterk toplyn nieteenstaande sy lengte en mooi diepte deur die voorlyf. Goeie breedte oor die hakke, sterk bene en goeie kloue tesame met uitstekende aanpasbaarheidseienskappe maak dat hy orals sal aanpas. Kyk gerus na die “happy lines” (onderhuidse spiere) wat so prominent vertoon. Hy is meer geel van kleur wat dalk die boer wat hou van “fancy points” wat niks meer geld in die sak bring nie, sal afskrik. Ons behoort lankal verby die uitkyk van “Selection for Beauty and not Selection for Profit”, te wees.

Hy het deurgaans goeie teelwaardes – groei, melk, GDT, skrotum, liggaammates en so ook is sy Seleksie Indekse wat ‘n samevoeging van baie eienskappe is, ook baie goed. Sy sterk manlikheid is opvallend met sterk kop, goeie oogbanke, mooi verdonkering en simmetriese skrotum wat mooi hang met omtrek van 42cm.

Ek beveel hom met die grootste gerustheid aan ongeag watter produksiestelsel jy het. Ek het hierdie tipe bulle (bietjie meer Sanga) sien “hou” en presteer gedurende die droë jare. As hy in die Kalahari werk en presteer, kan hy net nog beter doen by jou!




LOT 04: HART 15-0349

    


Meeste boere ken die “feel good” gevoel as jy iets baie spesiaal geteel of reggekry het. Nou dit is presies soos ek voel met die teling en voorkoms van HART 15-0349.

Hy is een van die jongste bulle op die veiling – sal 2 jr en 7 mnde op die veiling wees. Sy teling gaan terug na WAT 04-0339 (Frikkie Kruger) en AG 98-0338. Hy is geteel uit baie goeie moederlyne met RCO 03-0003 ‘n SA Stamboek ELITE GOUD koei en sy moeder is HART 12-0433 met OEK 21 mnde, TKP van 423 dae/4 kalwers en sy speen teen 59.8% van haar liggaamsmassa. Sy is ‘n prentjie mooi koei met baie goeie uier en spene. Aan vaderskant was daar ongelukkig ‘n bestuursfout met die ouma HART 07-0124 wat op 17 mnde gekalf het.

HART 15-0349 is ‘n kalfgemak mediumraam bul met uitstekende bouvorm, uitstaande kapasiteit, goeie breedte, goeie lengte en baie diepte deur die voorlyf. Hy is goed bespierd (nie te veel nie) en is ‘n tipiese vroeër ryp “easy fleshing” bul. Toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is baie goed, Bene, kloue en breedte oor die hakke is baie goed. HART 15-0349 vertoon uitstekende balans en hy beweeg gemaklik.

Opvallend is sy uitstekende manlikheid – kop is baie sterk, goeie breedte tussen die oë, goed ontwikkelde oogbanke, uitstekende verdonkering en perfekte skrotum wat 35.5cm meet in omtrek.

Hy is seker een van die bulle met die beste aanpasbaarheidseienskappe op die veiling. Hy presteer ook uitstekend op die veld. Goeie skofontwikkeling, uitstekende kwaliteit vel en haar met dik en loshangende vel. Sy teelwaardes is ook regdeur baie goed met genoeg groei, melk, GDT, voeromsetverhouding en hoogte/lengte verhouding van 1:18.

HART 15-0349 sal vir homself praat as jy hom sien by die veiling - moeilik om ‘n “tekortkoming” by hom te kry. My persoonlike opinie is dat hy ‘n toonbeeld is van die moderne Bonsmara – dit is die tipe bees wat geld in jou sak sit. Hy sal waarde toevoeg by enige stoetkudde.

Definitief een van my gunsteling bulle op die veiling!





LOT 05: HART 15-0313

    


Uitstekende bul geteel uit HART 11-0058 en HART 11-0088. HART 11-0058 is natuurlik een van die “flagship” bulle wat ons geteel het en sy kalwers kom baie sterk deur. Kyk gerus ook na sy ander kalwers op die veiling.

Kyk na die uitstekende moederlyne betrokke by die teling van HART 15-0313 – ELITE GOUD aan vaderskant en die staatmaker Fortress koei BHE 04-0211 aan moederskant. HART 11-0088 se OEK is 26 mnde en sy speen 4 kalwers met gemiddelde speenindeks van 118. Sy speen die 4 kalwers teen 85.8% (jy lees reg) van haar eie gewig.

HART 15-0313 vertoon uitstaande bouvorm, kapasiteit, bespiering, breedte en ‘n baie sterk toplyn. Ek sal hom vir eers net op koeie gebruik en kyk hoe die kalwers lyk. Hy was ‘n TOP PRESTEERDER tydens prestasietoetsing en het uitstaande teelwaarde indekse. Voorspeense (131), naspeense (120) groeivermoë, melk (116) en GDT (109) – terwyl sy Volwasse Gewig teelwaarde (104) is. Sy skrotumteelwaarde is (115) en sy hoogte/lengte verhouding is op rasgemiddeld 1:16. Hy dra baie vleis en is in uitstekende balans. Nieteenstaande sy uitstekende teelwaardes vir groei, is hy nog steeds ‘n mediumraam, “easy fleshing” bul met ‘n vroeë vetneerlegging teelwaardes indeks van (110).

Hy wys goeie manlikheid met sterk kop, baie goeie breedte tussen die oë, goeie oogbanke, breë bek, pragtige verdonkering en ‘n perfekte skrotum wat 38cm in omtrek is. Hy is ‘n trotse bul met ‘n baie mooi kop-op houding. Wat my baie beïndrukvan HART 15-0313, is sy uitstekende aanpasbaarheidseienskappe. Dit is broodnodig indien diere op die veld moet presteer. Blink, gladde, dik vel met baie velvoue en ‘n goeie los keelvel. Daar is goeie skofontwikkeling, sterk bene met goeie kloue en jy kan sien dat hy presteer op die veld.

As stoettelers soek ons baie keer spesifieke bulle om sekere eienskappe in die kudde te versterk. HART 15-0313 sal ‘n groot bydrae maak in enige kudde – stoet of kommersieël. Hy is noual ‘n indrukwekkende bul alhoewel hy nie eers 3 jaar oud sal wees op die veiling nie. Stoettelers moet baie mooi na die bul kyk.




LOT 06: HART 15-0163

    


Ek wil begin deur na die koeilyne te verwys in sy teling – hulle is nog almal aktief en produserend in die kudde. Aan moederskant, GZV 06-0357 wat ‘n ELITE SILWER koei is en HART 12-0295 met OEK 21 mnde, RI 122, TKP 381 dae oor 4 kalwers en gemiddelde speenindeks van 111. Sy speen teen gemiddeld 57.9% van haar eie gewig. Sy is nou tipiese uitsonderingsgenetika - hoog reproduserend, sterk op produksie en baie doeltreffend. Dit is uit sulke koeie wat ons veilingsbulle teel en dit is die tipe genetika wat ons graag in die beesbedryf beskikbaar wil stel. Sy vaar is HART 10-0238 wat konstant goeie bouvorm, sterk koppe en baie melk vasgeteel het.

HART 15-0163 is ‘n mediumraam, “easy fleshing” bul met uitstekende bouvorm, kapasiteit, breedte, lengte en sterk bespiering. Sy toplyn, kruishelling en stertaanhegting is uitstekend. Ek sal hom vir eers net op koeie gebruik – sy bouvorm (breedte veral) en sterk bespiering maak my versigtig vir die oopmaak van verse. Sy sterk manlikheid is opvallend – kyk gerus na die sterk kop, breedte tussen die oë, goed ontwikkelde oogbanke en dan na die breë en dik bulnek met die pragtige verdonkering. Sy skrotumomtrek is 38.5cm en dit hang perfek. Sy naelvel/skede kombinasie is ook baie goed.

HART 15-0163 is uitstekend aangepas. Daar is baie goeie skofontwikkeling, pragtige glansende vel met kort en blink hare. Hy het daardie tipiese brons kleur in die son wat jy by hoogs aangepasde diere kry. Sy bene is sterk, daar is goeie breedte oor die hakke en die kloue is baie goed – sy stert hang amper op die grond!

Sy teelwaardes is deurgaans uitstaande – hy het voorspeense (121) en naspeense (124) groei, melk (104), GDT (125), voeromsetverhouding (103) en skrotum (115) – dit wat vir suksesvolle boerdery benodig word, het hy! Kyk ook na sy Seleksie Indekse – almal baie goed. Die wetenskap agter die bul komplimenteer sy voorkoms en prestasies.

HART 15-0163 sal verseker ‘n groot aanwins wees vir enige stoetkudde en sal sy merk maak in die Bonsmara ras
. Dit was vir my ‘n baie moeilike besluit om die bul op die veiling te sit!




LOT 07: HART 14-0404

    


‘n Tipiese Hartebeestloop mediumraam en “easy fleshing” bul wat gemaklik op verse en koeie gebruik kan word.

Hy is geteel uit HART 10-0219 wat deurgaans goeie bouvorm, baie melk, mooi pigment en “vroeg ryp – easy fleshing” nageslag geteel het. HART 14-0404 kom uit ons “Royal Family” koeie - VBB 08-0059 aan vaderskant en nog steeds in die kudde, WCS 02-0109 (wyle Wally Stay, Oos-Kaap) en HART 11-0277 aan moederskant. HART 11-0277 se OEK is 25mnde, TKP van 397 dae/4 kalwers en gemiddelde speenindeks van 101/4. Sy speen teen 48% van haar eie gewig. Wat beteken die syfers? Ons sien die ekonomiese invloed van (i) herhaling van vrugbaarheid en hoë reproduksie oor generasies heen, (ii) die invloed van genoegsame melk en voorspeense groeivermoë tot verhoogde produksie en (iii) die waarde van koeidoeltreffendheid tot verhoogde effektiwiteit en wins. Jy kan nie ‘n bul koop vanuit ‘n swak presterende moeder nie!!

HART 14-0404 vertoon goeie bouvorm, goeie lengte, sterk toplyn, genoeg bespiering en mooi diepte. Hy het goeie breedte met mooi binne en buite dye – en sy kondisie is altyd goed op die veld. Dit is die voordeel van jare-lange seleksie vir diere wat onder veldtoestande presteer. Hy is struktureel baie korrek, het baie goeie balans en beweeg baie gemaklik in die Kalahari sand.

Sy aanpasbaarheid is uit die boeke – gladde, blink en dik vel met kort, glansende haar, goeie skofontwikkeling, lang stert, goeie bene met sterk kloue. Hy is baie manlik met ‘n wakker kop-op houding, sterk kop met goeie oogbanke, pragtige pigment en verdonkering en goeie skrotum wat mooi hang en 39cm omtrek meet.

HART 14-0404 se teelwaardes is mooi in balans en regdeur goed. Ek verwys na sy teelwaarde indekse vir die 3 belangrike Seleksie Indekse in die Bonsmara – Koeiwaarde (103), Groeiwaarde (102) en Produksiewaarde (103). Dit wys presies wat die bul is – bogemiddeld goed.

HART 14-0404 is die gevolg van jare-lange seleksie vir veilige teling – aangepas, gehard, lae onderhoudskoste, “easy-fleshing”, behou kondisie en konstitusie, manlik, vrugbaar, fenotipies doeltreffend en struktueel korrek.




LOT 08: HART 15-0075

    


Hy is geteel uit HART 09-0329 en HART 09-0137. Weereens ‘n kombinasie van ‘n ingekoopte ou Fortress koei (BHE 01-0063) en eie koeie HART 06-0096 en HART 09-0173. Beide die HART koeie is nog steeds in die kudde. Die reproduksie en produksie data van al 3 koeie is bekikbaar op die katalogus. Ek verwys net na die produksie en doeltreffenheidsyfers van HART 09-0137. Sy speen 6 kalwers met speenindeks van 101, 248kg gemiddelde gekorrigeerde gewig en teen 49.3% van haar liggaamsmassa. Hartebeestloop se gemiddelde koeigewig is ongeveer 520kg – so ons boer met breë, mediumraam en vroeg in kondisie koeie.

HART 15-0075 is ‘n effens groter as mediumraam (3,5) bul met uitstekende bouvorm, baie goeie bespiering, goeie breedte, vol binne en buite dye, sterk toplyn genoegsame kapasiteit en uitstekende lengte (hoogte/lengte verhouding 1:21). Hy moet net op koeie gebruik word – sy bespiering, bouvorm en diepte deur die voorlyf is nie geskik om verse oop te maak nie. Sy kruishelling, stertaanhegting en onderlyn is baie goed – perfekte skede/naelvel kombinasie. Hy is ‘n toonbeeld van aanpasbaarheid – baie mooi skof, blink van vel en haar, lang stert, sterk bene met baie goeie kloue en los vel. Hy is een van die bes aangepasde bulle wat ek in lang tyd gesien het.

Sy manlikheideienskappe is uit die boeke – sterk kop wat hy mooi dra, sterk oogbanke en bek, goeie breedte tussen die oë en kort, dik bulnek met mooi verdonkering. Skrotumomtrek is 39.5cm en dit hang baie mooi.

Sy teelwaarde indekse kan nie beter nie – laag op geboorte (108), naby rasgemiddeld vir Volwasse Gewig (102) en Skouerhoogte (101), voorspeense en naspeense groeivermoë (113) en (117) onderskeidelik en GDT (103). Sy melkwaarde is onder rasgemiddeld en telers sal daarvoor voorsiening moet maak.

HART 15-0075 is in alle opsigte ‘n uitstaande bul wat sy merk sal maak in enige stoetkudde. Stoettelers is eintlik direk in die vleisbedryf en wil graag diere teel wat meer geld in hulle kliënte se sakke wil sit. Gebruik dan bulle met stoetpotensiaal maar ook bulle wat baie vleis dra en goeie groeivermoë het.




LOT 09: HART 15-0049

    


Baie goeie mediumraam bul geteel uit HART 11-0050 wat weer geteel is uit CEF 04-0462 vanaf Fourie Scheepers (Zinabos Bonsmaras). Beide bogenoemde 2 bulle teel uitstekende vel en haar en dit kan duidelik gesien word by HART 15-0049. HART 15-0049 kom uit uitstaande moederlyne – aan vaderskant uit BHE 04-0201 wat ‘n SA Stamboek ELITE GOUD koei is en aan moederskant uit HART 08-0192 (nog steeds in die kudde) en HART 11-0315. Kyk gerus na al 3 die koeie se prestasies maar veral na HART 11-0315 met OEK 27mnde, TKP 342 dae/3 kalwers en sy speen teen 59.4% van haar liggaamsmassa.

HART 15-0049 is ‘n vroeg ryp “easy fleshing” bul wat ek op beide uitgegroeide verse en koeie sal gebruik. Hy vertoon goeie bouvorm, baie goeie bespiering, is ‘n dik bul met mooi buitedye, genoeg kapasiteit, mooi diepte deur die voorlyf met sterk toplyn en goeie kruishelling en stertaanhegting. Sy lengte van lyf is baie goed en die hoogte/lengte verhouding van 1:19 wys dat die bul 19% langer is, as wat hy hoog is.

Sy teelwaarde indekse vir oogspieroppervlakte (bespiering) en vroeë vetneerlegging van 124 en 132 beaam die visuele beeld van goeie bespiering en “easy fleshing”. Dit is presies wat ons soek in die hedendaagse bees wat op die veld moet gedy. Hy wys uitstekende aanpasbaarheidseienskappe met goeie skof, “beste” vel en haar moontlik, sterk bene met baie goeie kloue. Dit is ook hoekom hy so gou in kondisie kom op die veld en dit so goed behou.

Hy het baie mooi verdonkering, wys sterk manlike eienskappe en sy skrotumomtrek is 38cm.

HART 15-0049 se teelwaarde indekse is regdeur uitstekend – daar is baie voorspeense (106) en naspeense (108) groei, genoeg melk (95), GDT (112), VOV (101) en reproduksie met ‘n skrotum teelwaarde indeks van 107.

Jy kan maar baie mooi na HART 15-0049 kyk! Jy kan nie verkeerd gaan met hom, ongeag watter produksiestelsel jy gebruik nie. Top presteerder met prestasietoetsing, aangepas, gehard, “easy fleshing” en vroegryp met uitstekende teelwaarde indekse.




LOT 10: HART 15-0045

    


Dit is die eerste bul op veiling wat vanaf ons klip plaas Dassiesfontein in die weste van Namibië aangebied word. Ons boer met Bonsmaras in die weste om bulle te teel wat se kloue, bene en loopvermoë aangepas is om in die baie harde klipwêreld te presteer. Dit is net so ‘n groot uitdaging om dit reg te kry as om uitstekende kloue in die sagte sand van die Kalahari duineveld te teel.

HART 15-0045 is geteel uit HART 09-0326 wat weer uit een van ons beste koeie HART 06-0079 geteel is. Kyk gerus ook na die bul se moer VBB 06-0022 met OEK 24mnde, TKP 403 dae/9 kalwers, speenindeks van 101/9 en die HEEL BESTE statistiek – sy speen 9 kalwers teen 50.6% van haar eie gewig. Dit is 9 kalwers teen 254 kg gemiddelde gekorrigeerde gewig!

HART 15-0045 is ‘n mediumraam bul met baie goeie bouvorm, genoeg bespiering, mooi kapasiteit, goeie sprong van rib en sterk toplyn wat eindig in ‘n baie goeie kruishelling en stertaanhegting. Hy is baie breed regdeur, breed oor die rug met goeie buitedye – en dit is vir hierdie rede wat ek hom net vir koeie sal aanbeveel. Hy is ‘n lang bul en die kombinasie met die goeie breedte maak ‘n mooi prentjie. Hy dra baie vleis met goeie diepte deur die voorlyf en sterk agterkwart. Sy bene is baie sterk met goeie breedte oor die hakke en uit die aard van die omgewing, is die kloue uitstekend. Die bul is werklik goed aangepas vir die ekstensiewe toestande met goeie skofontwikkeling en baie goeie vel en haar. Sy aanpassing, balans en loopvermoë is uitsonderlik.

Sy manlikheidseienskappe is baie goed met sterk kop en baie breedte tussen die oë, mooi verdonkering en skrotum wat perfek hang en 42.5 cm meet.

Sy teelwaarde indekse is baie goed en sy groeisyfers, GDT en skrotum is van die beste.

HART 15-0045 vertoon baie beter in lewende lywe as op die foto. Party bulle werk net nie saam met die afnemery nie!! Soos baie van ons met familie foto’s. Kom kyk gerus na hom op die veiling.

Hy is in alle opsigte ‘n indrukwekkende bul met hoë stoetpotensiaal.




LOT 11: HT 13-0010 (POENA)

    


PH Poena bul uit die Kalahari Bonsmara kudde. HT 13-0010 is DNA bevestig dat hy PH is en wel een poena geen dra.

Hy is geteel aan vaderskant uit die bekende poena bul JPL 06-0105 en aan moederskant uit JPL 06-0100. Ons het hom self in die kudde gebruik en alreeds 37 kalwers aangekry – hy teel sterk poena, goeie skede/naelvel kombinasie en goeie bouvorm. Die gemiddelde geboortewig was 39kg en ons het hom net op koeie gebruik en ek stel dieselfde voor aan die koper. Hy was ook ‘n seisoen by Dawie Moller van Kommaweer Bonsmaras en ons sien uit om die kalweroes daar te sien en te be-oordeel.

HT 13-0010 is ‘n meer Taurus tipe Bonsmara maar het verbasend goed aangepas op Hartebeestloop. Hy is ‘n mediumraam bul wat gou in kondisie kom en ook sy kondisie en konstitusie goed behou op die veld. Hy het baie goeie bouvorm, genoeg bespiering, goeie kapasiteit en mooi diepte deur die voorlyf. Daar is genoeg breedte, sterk toplyn en goeie stertaanhegting. Sy kruishelling val miskien daardie effens te veel. Dit is werklik die enigste negatiewe kritiek wat ek op die bul se struktuur het. Sy aanpasbaarheid is uitstekend en dit word bewys deur hoe goed hy aangepas het van die Suid-Vrystaat na Namibië, Pragtige glansende vel en haar, mooi skofontwikkeling, baie sterk bene en sy kloue het uitstekend gehou. Die vel is los, dik en daar is oorgenoeg keelvel.

Hy wys baie goeie manlikheid met sterk kop, goeie breedte tussen die oë, mooi verdonkering en ‘n goedgevormde skrotum wat 42.5cm meet en simmetries hang.

Sy teelwaarde indekse is ook baie goed. Swaar op geboorte (86) (gebruik net op koeie) maar het baie goeie voorspeense (104) en naspeense (103) groei, genoeg melk (96) en baie goeie GDT (118) en voeromsetverhouding (117) asook reproduksievermoë in die vorm van skrotum teelwaarde indeks van 126.

HT 13-0010 se kalwers lyk baie goed en hy het ‘n definitiewe verbetering gebring in die poena kudde. Hy is ‘n uitstekende bul om bouvorm, aanpasbaarheid en goeie teelwaardes in jou kudde te vestig. So – of jy nou wil begin met poenas of alreeds in die poena teling is en voel jy wil verbeter op bouvorm, aanpasbaarheid en goeie teelwaardes vestig, kyk baie mooi na hom. Nie almal hoef heel onder te begin soos ons nie!

!




LOT 12: HART 14-0329

    


‘n Mediumraam “easy-fleshing” bul geteel uit HART 09-0014 en HART 11-0192. Die koeilyne aan moederskant is uitstekende reproduseerders met sy ma HART 11-0192 se OEK 26 mnde, TKP 416 dae/4 kalwers met speenindeks van 99/3 en sy speen teen 49.4% van haar liggaamsmassa. Sy is visueel ook ‘n mooi vroulike koei met baie goeie uier en spene.

HART 14-0329 se uitstekende manlikheid sal jou eerste opval. Sy kop is baie sterk met sterk oogbanke, goeie breedte tussen die oë, tipiese dik en donker bul nek met pragtige verdonkering. Hy dra ook sy kop op-en-wakker en weet die hele tyd wat om hom aangaan. Dit is mos hoe ‘n bul moet lyk en optree! Sy skrotum is goed gevorm en omtrek is 36.5cm. Hy het ‘n klein wit vlekkie op die skede. Ek het lanklaas soveel manlikheid in ‘n bul gesien.

Hy vertoon uitstekende balans, baie goeie bouvorm, breedte regdeur en veral op die rug, goeie kapasiteit, goeie sprong van rib en diepte. Dit is ‘n lang bul met hoogte/lengte verhouding van 1:23 en nog steeds ‘n baie sterk toplyn en uitstekende kruishelling en stertaanhegting. Sy bespiering is goed en hy is vol vleis – mooi buite en binne dye, lende en kruishellings is ook goed gevul met vleis.

Hy is uitstekend aangepas vir die ekstensiewe toestande. Blink en glansende vel, dik en loshangende vel – kyk die velvoue in die nek asook die lang en los keelvel. Sy hare is kort en blink. Die skofontwikkeling is baie goed. Sy bene is baie sterk – daar is goeie breedte oor die hakke, die kloue is goed en dit alles dra by tot ‘n gelukkige dier in sy omgewing wat gou in kondisie kom en dit behou.

Sy teelwaarde indekse is ook goed gebalanseerd en presies wat verwag word van ‘n mediumraam “easy fleshing” bul. Alles is mooi in balans sonder enige uitskieter waardes. Stoettelers moet voorsiening maak om hom reg te paar en sy melkwaarde op te tel by die nageslag.

HART 14-0329 vertoon hoë stoetpotensiaal en is ‘n bul wat baie sal bydra tot enige kudde. Sy manlikheid, vermoë om gou in kondisie te kom, “easy fleshing”, vleiseienskappe, lengte en bouvorm is belangrike eienskappe in enige kudde. Hy is een van my gunstelinge op die veiling!




LOT 13: HART 15-0174

    


Hy is geteel uit HART 09-0014 en HART 13-0142. Sy is as ‘n jong koei verkoop maar haar ma HART 09-0192 is nog steeds in die kudde en presteer goed. Dit is moeilik vir koeie om jaarliks die streng op-die-plaas keuringsproses te slaag. Die feit dat sy nog steeds in die kudde is as ‘n 09-koei, sê baie!

HART 15-0174 is ‘n mediumraam, “easy fleshing” bul wat met gerustheid op verse en koeie gebruik kan word - hy is geteel uit kalwingsgemak bloedlyne. Daar is baie goeie bouvorm, genoeg breedte, genoeg bespiering, kapasiteit, sprong van rib en mooi diepte. Die ouer boere praat van die 3 eerste beginsels – breedte, hoogte en lengte. As jy dit gebruik, sien jy ‘n bul wat in uitstekende balans is. Daar is baie vleis aan die bul en hy is orals goed gevul – dye, lende en kruishelling. Jy kan “imagine” hoe sy speenkalwers, osse en vervangingsverse gaan lyk!

HART 15-0174 het baie sterk sekondêre manlikheidseienskappe - baie sterk kop wat hy mooi hoog en wakker dra, goed ontwikkelde oogbanke, goeie breedte tussen die oë, tipiese sterk bulnek met mooi verdonkering en ‘n skrotum wat 36cm meet en mooi hang. Sy aanpasbaarheid is ook baie goed – hy is ‘n tipiese lae insetkoste bul wat vroeg vet neerlê, maklik vleis aanpak, kondisie en konstitusie baie mooi hou op die veld en jou nooit laat twyfel of hy sal hou tussen sy 40 koeie nie. Sy Onderhoudskoste teelwaarde indeks is 116. Dit is mos presies die tipe beeste waarmee ons moet boer.

Sy teelwaarde indekse weerspieël presies wat jy in die bul sien en soos wat bostaande beskryf is.’n Bul vir die ekstensiewe toestande met lae onderhoudskoste en met baie goeie prestasies.

Boere moet mooi kyk na HART 15-0174 want jy koop hier in ‘n teelfilosofie en seleksieprogram wat al oor 15 jaar strek om beeste te teel wat meer met minder kan doen.




LOT 14: HART 14-0372

    


‘n Sterk mediumraam bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Tipiese Hartebeestloop “easy fleshing” en vroegryp bul wat uitstekend sal doen onder veldtoestande.

Hy is geteel uit van die mees vrugbaarste bloedlyne in die kudde. Van die koeilyne gaan terug tot by Woestyn Bonsmaras van wyle Ponk O’Kennedy asook Frans van der Bergh se Op-die Aarde beeste. Beide die moer en ouma aan moederskant is nog steeds in die kudde en beide is top presteerders. HART 13-0085 se OEK is 22 mnde, TKP van 379 dae/3 kalwers en sy speen hulle teen 61.1% van haar eie massa. Die Bonsmara sisteem is baseer op vergelyking in groepe en dit is presies wat ons doen met koeidoeltreffenheid.

HART 14-0372 is ‘n bul met baie goeie bouvorm en uitstekende balans. Daar is goeie breedte, mooi lengte, goeie kapasiteit en diepte deur die voorlyf. Hy is struktureel korrek met sterk toplyn, goeie kruishelling en stertaanhegting. Daar is nie veel te sê wanneer hy nog baie vleis dra ook nie.

Sy manlikheid is baie goed – sterk kop wat hy hoog dra, sterk oogbanke, breed tussen die oë met dik en donker nek en skrotum wat mooi hang en 37cm in omtrek meet. Hy maak ‘n baie goeie eerste indruk met sy manlikheid en baie goeie balans.

Jy kan nie beter aanpasbaarheid kry nie. Van die uitstekende vel en haar, lang stert, goeie skof, skoon onderlyn, sterk bene met goeie kloue – en dit is hoekom hy so uitstekend doen op die veld met ‘n Veldbul Ekonomiese Indeks van 104 en ‘n Onderhoudskoste Teelwaarde Indeks van 122.

Ek is beindruk met HART 14-0372 want ek het al deur genoeg goeie en slegte tye gegaan om te weet watter diere presteer beter in die slegte tye.

Hy behoort seker na ‘n stoetkudde of ernstige kommersiële boer te gaan wat hierdie tipe genetika vinnig wil vermeerder.




LOT 15: HART 15-0249

    


Nog ‘n bul geteel uit HART 09-0014 en dit gee aan jou die geleentheid om ook terug te gaan en na van sy ander seuns wat ook op die veiling is te kyk. Hy teel konstant goeie bouvorm, sterk manlikheid en baie goeie aanpasbaarheid. HART 15-0249 is geteel uit uitstekende koeilyne. Hy gaan terug na HART 06-0074 (bul verkoop aan Edward Hansen van EMOK Bonsmaras) wie se nageslag regoor Namibië versprei is en ‘n ELITE GOUD koei NGO 02-0092 uit die Woestyn Bonsmara stoet. Die NGO- diere is bekend vir hulle uitstaande aanpasbaarheid en gehardheid asook hulle goeie prestasies onder moeilike veldtoestande. Ons het altyd die NGO-koeie met die beste bulle gepaar en “terug gepaar” om die eienskappe te behou.

HART 15-0249 is ‘n mediumraam, “easy fleshing”, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy het goeie bouvorm, genoegsame bespiering, kapasiteit en diepte deur die voorlyf. Hy vertoon goeie breedte, veral op die rug wat hy regdeur vat tot by die skof. Toplyn, kruishelling en stertaanhegting is baie goed. Kyk gerus ook hoe goed die bul gevul is met vleis – agterkwart, dye, lende en kruishelling.

Soos sy ander halfbroers op die veiling, wys hy baie sterk manlikheid en ook baie goeie aanpasbaarheid.

Stop by sy kraal en kyk mooi na hom. Hy is ‘n baie veilige bul wat struktureel korrek is en baie vleis dra. Sy aanpasbaarheid, eie prestasies tydens prestasietoetsing - hy was ‘n TOP Presteerder met alle indekse bo 100 naamlik Speen (102), GDT (105) en Kleiberindeks (106) is goeie eienskappe om in jou kudde te vestig.




LOT 16: HART 14-0385

    


Hy is geteel uit ‘n baie vrugbare en doeltreffende koei wat nog steeds in die kudde is. HART 06-0096 se OEK is 24mnde, TKP 372 dae/9 kalwers, gemiddelde speenindeks is 106/8 kalwers en sy speen haar 8 kalwers teen 53.8% van haar liggaamsmassa. Om Kit Pharo aan te haal, “Not all cows are born equal”.

Die vader is HART 11-0168 wat ek baie sterk in die kudde gebruik. Hy teel konstant uitstekende groeivermoë, baie melk en baie goeie bouvorm.

HART 14-0385 is effens groter as mediumraam (3.5) en ek sal hom net op koeie gebruik. Hy het baie goeie bouvorm, goeie breedte, kapasiteit en uitstekende diepte deur die voorlyf. Die bul het baie goeie lengte met ‘n hoogte/lengte verhouding van 1:23. Nieteenstaande die uitstekende lengte, is die toplyn sterk en eindig in kruishelling en stertaanhegting wat baie goed is. Sy balans is baie goed – nie so maklik om goeie balans by die groter bulle te teel nie. Hy dra baie vleis en is orals gepak met vleis – van die lende regdeur tot by die agterkwart.

HART 14-0385 is baie manlik met sterk kop, goeie oogbanke, goeie breedte tussen die oë en ‘n tipiese dik bulnek met baie mooi verdonkering. Sy skrotumomtrek is 44cm en dit hang perfek. Sy aanpasbaarheid is ook uitstekend – blink, kort hare op ‘n glansende donkerrooi vel met goeie skofontwikkeling en baie sterk bene en kloue. Hy presteer uitstekend met die Veldbultoets en eindig met Ekonomiese Indeks van 112.

Sy teelwaarde indekse is uit die boeke. Hy is nie buitengewoon swaar op geboorte nie (91) en vertoon uitstekende voorspeense (118), naspeense (124) groeivermoë, baie melk (120), hoë GDT (124) en skrotum van 122. Sy teelwaarde indeks vir Volwasse Gewig is 102. HART 14-0385 het uitstekende teelwaardes wat met groot sukses in die vleisbeesbedryf gebruik kan word.

HART 14-0385 wys hoë stoetpotensiaal en het eienskappe wat baie goed in die Bonsmara gebruik kan word. Goeie aanpasbaarheid, sterk manlikheid, uitstaande groeivermoë met baie melk en hoë reproduksie waardes is sy sterk punte.




LOT 17: HART 15-0138

    


Hy is van Dassiesfontein en moet na die harde gedeeltes van die land gaan.

Hy is geteel uit HART 11-0058 en AEJ 06-0090. Sy is ‘n voortreflike koei met OEK 29 mnde, TKP 402 dae/9 kalwers en speenindeks van 103/9 kalwers. Nie alle dragtige verse wat ek ingekoop het, het voortreflike koeie geword nie. Maar die wat wel die droeë en warm Kalahari kon hanteer, het uitmuntende koeie geword.

HART 15-0138 is ‘n mediumraam bul wat op koeie en uitgegroeide verse gebruik kan word. Jy sal dadelik opmerk dat sy haarkwaliteit beter kon wees as jy hom met die res van die veilingsbulle vergelyk. Sy hare is effens growwer maar nog steeds kort en blink. Die finale besluit of hy veiling toe gaan of nie, is baseer oor hoe hy presteer het met die Veldbultoets. Sy Veldbul Ekonomiese Indeks is 109 , wat beteken dat hy bogemiddeld op die veld presteer het – en veld is presies waarheen hy gaan by die nuwe eienaar. HART 15-0138 het goeie bouvorm, goeie bespiering en mooi diepte deur die voorkwart. Sy toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is goed en hy het sterk bene. Struktureel is hy korrek met baie goeie vleiseienskappe. Hy presteer uitstekend tydens prestasietoetsing met Speenindeks (106 ), GDT indeks (112 ) en Kleiberindeks (107 ). Kleiberindeks gee ‘n baie goeie indikasie van die dier se vermoë om veldweiding in vleis en gewig om te sit. Dit is ‘n belangrike teelwaarde vir ons wat boer onder ekstensiewe veldtoestande.

Hy is sterk manlik met ‘n mooi kop-op houding en wakker oë. Sy skrotum hang baie mooi, is simmetries en meet 38 cm.

Sy teelwaarde indekse is baie goed met baie goeie voorspeense (113 ) en naspeense (114 ) groeivermoë, baie melk (109 ), goeie GDT (101 ) en skrotum (100 ).

Kyk verby die meer growwer haar, hy is ‘n baie goeie bul wat struktureel korrek is, fenotipies doeltreffend is, baie vleis dra, baie goed gedoen het met prestasietoetsing en top teelwaarde indekse het. Hy is dalk die winskoop van die veiling!




LOT 18: HART 15-0094

    


Hy kom ook van die klip plaas Dassiesfontein. Daar is geweldige goeie diepte in die moederlyne waaruit hy geteel is. Aan vaderskant is HART 06-0079 met top reproduksie en produksiewaardes en nog steeds in die kudde. Aan moederskant is daar die ELITE SILWER koei BHE 05-0059 en die bulmoeder HART 07-0122 wat ‘n ELITE GOUD koei is. Haar OEK is 29 mnde, TKP van 369 dae/8 kalwers, gemiddelde speenindeks van 109/8 kalwers en sy speen die kalwers teen 55.5% van haar eie massa.

HART 15-0094 is ‘n mediumraam bul wat op uitgegroeide verse en koeie gebruik kan word. Hy vertoon uitstekende bouvorm, is baie breed met goeie buite dye, sterk bespiering, goeie kapasiteit en goeie diepte deur die voorlyf. HART 15-0094 wys baie goeie lengte en sy hoogte/lengte verhouding is 1:26. Hy is dus 26% langer as wat hy hoog is. Dit is van die beste verhoudings op die veiling. Nieteenstaande sy lengte, is sy toplyn sterk en breed en sy kruishelling en stertaanhegting baie goed. As jy praat van baie vleis dra, kyk weer na hom!

Hy is ‘n baie manlike bul met uitstekende sekondêre geslagseienskappe – baie sterk kop en oogbanke, dik en breë bulnek met baie mooi verdonkering en ‘n skrotumomtrek van 40cm. Die bul se hele houding is manlik en trots!

Sy Veldbul Ekonomiese Indeks van 114 maak hom die Top Presteerder in sy groep. Jy sien die aanpasbaarheid op en in die bul – van blink vel en haar regdeur tot sy sterk bene.

HART 15-0094 het uitstaande teelwaardes. Hy is slegs effens swaarder op geboortegewig (92) – sy voorspeense (121) en naspeense (123) groeivermoë, tesame met genoeg melk (92) en baie goeie GDT (106) en skrotum (107) maak hom ‘n uitstekende bul om in enige stelsel te gebruik.

Hy behoort na ‘n stoetkudde te gaan maar daar is soveel ernstige kommersiële telers wat hoë kwaliteit stoetpotensiaal bulle koop, dat dit nie meer so maklik vir stoettelers is nie. Nietemin, waarheen hy ookal gaan, sal hy ‘n betekenisvolle bydrae maak.




LOT 19: HART 15-0225

    


Weereens ‘n bul wat uit top presterende koeilyne geteel is – HART 06-0096 aan vaderskant met uitstekende syfers en nog steeds in die kudde. Aan moederskant is dit die ELITE GOUD koei BHE 04-0201 en die bulmoeder HART 08-0054 met OEK 28 mnde, TKP 362 dae/8 kalwers en speenindeks van 99/7 kalwers. Hierdie is nie net jou gewone “run of the mill” koeie nie – hulle speel in ‘n heel ander liga wanneer dit kom by reproduksie, produksie en doeltreffenheid.

HART 15-0225 is ‘n “easy fleshing”, mediumraam, kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is ‘n tipiese “All Rounder” en “Multi Purpose” bul wat in enige produksiestelsel goed sal doen. Sy bouvorm, kapasiteit, breedte, diepte en bespiering is baie goed. Sy toplyn is sterk en die kruishelling en stertaanhegting is ook baie goed. Kyk na die goeie lengte van die bul – sy hoogte/lengte verhouding van 1:25 is van die beste op die veiling. Ek herhaal wat baie vantevore gesê is – ekstra gewig is in ekstra lengte en 1:25 beteken dat die bul 25% langer is as wat hy hoog is. Die bul dra baie vleis en is geteel uit bloedlyne wat vir ons hoë uitslagpersentasies en karkasopbrengste gegee het.

HART 15-0225 se veldaanpasbaarheid is uitstekend. Hy kom gou in kondisie (pak maklik vleis en vet aan), behou sy kondisie goed (het mos die vetreserwes om te gebruik) en het ‘n lae Onderhoudskoste teelwaarde indeks van 105. Eientlik behoort bogenoemde seleksie kriteria mos vir al ons diere te geld – maar ons gee meer waarde daaraan by die vroulike diere. Want hulle vat bul op kondisie en dit is waar ons geld is! Die visuele eienskappe van goeie aanpasbaarheid is baie duidelik op die bul te sien maar ek lig net die gladde vel en blink hare uit.

Sy teelwaardes is deurgaans goed. Laag op geboorte vir kalfgemak (101 ), goeie voorspeense (109 ) en naspeense (109 ) groeivermoë en skrotum teelwaarde indeks van 104 . Sy melkteelwaarde indeks is onder rasgemiddeld.

HART 15-0225 se sterkste punte is bouvorm, lengte, “easy fleshing”, vol vleis, goeie voorspeense en naspeense groeivermoë en aanpasbaarheid. Moenie vergeet die verhoogde vrugbaarheid en reproduksievermoë wat saam met sy moederlyne kom nie.

Kyk goed na hom as jy enige van die eienskappe wil versterk in jou kudde.




LOT 20: HART 15-0035

    


Nog een van die klipbulle vanaf Dassiesfontein. Geteel uit HART 09-0326 en die moer is HART 09-0149 met OEK 26 mnde, TKP 390/7 kalwers en sy speen teen 48.9% van haar eie liggaamsgewig. Kyk gerus ook na die prestasiedata van die ander 2 koeie HART 06-0079 aan vaderskant en RCO 02-0050 aan moederskant. Puik koeilyne wat uitstaande presteer het in moeilike Kalahari toestande.

HART 15-0035 is ‘n tipiese Hartebeestloop mediumraam “All Rounder” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy wys goeie bouvorm, met genoeg breedte en bespiering, mooi kapasiteit en diepte deur die voorlyf. Bul wat baie mooi in balans is met goeie hoogte/lengte verhouding van 1:19 en hy maak ‘n mooi prentjie. Sy teelwaarde indekse vir oogspieroppervlakte (114), vroeë vetneerlegging (107) en Onderhoudskoste (128) wys presies wat die bul is – goed bespierd met baie vleis, “easy fleshing” en kom gou in kondisie en tipiese lae insetkoste dier wat ons almal mee wil boer! En dit is ook wat hy sal teel in sy nageslag.

Hy wys baie goeie manlikheid met mooi verdonkering, dik nek en ‘n goedgevormde skrotum wat 36.5cm in omtrek is. Hy presteer baie goed tydens die Veldbultoets met indeks van 104 – weereens ‘n bewys van sy baie goeie vermoë om op die veld te presteer. Sy teelwaardes is oor die algemeen laag en weerspieël nie dit wat ons in die bul sien nie.

Hy is fenotipies reg, struktureel baie korrek en sy prestasies op die veld is baie goed. Hy is ‘n veilige bul wat met gerustheid in enige kudde gebruik kan word.




LOT 21: HART 15-0166

    


Hy is geteel uit HART 11-0050 en HART 12-0059 met OEK 25 mnde, TKP van 411 dae oor 3 kalwers en speenindeks van 99/3 kalwers. Sy speen haar 3 kalwers teen 52.5% van haar eie liggaamsgewig. Beide oumas is SA Stamboek Toekenningskoeie met die ouma aan vaderskant BHE 04-0201 ‘n ELITE GOUD koei en aan moederskant VBB 06-0274 ‘n ELITE SILWER koei. Blou bloed, blou bloed regdeur die lyne!

HART 15-0166 is ‘n groter raam bul met baie goeie bouvorm, uitstekende bespiering (kyk na die voorarm en rug), goeie breedte, genoeg kapasiteit en hy is baie diep deur die voorlyf. Kyk na sy goeie lengte en sy hoogte/lengte verhouding is 1.24 wat ver beter as rasgemiddeld is. Daar is baie vleis aan die bul – van sy agterkwart, dye, lende.kruishelling regdeur tot die diep voorkwart is daar vleis en nog vleis. Toplyn is sterk, kruishelling en stertaanhegting is goed en sy bene is sterk. HART 15-0166 moet net op koeie gebruik word.

Sy teelwaarde indekse wys presies wat ons in die bul sien. Swaar op geboorte (74) – sy geboortegewig was 40 kg, vandaar af is alle teelwaarde indekse vuurwarm met voorspeense (139) en naspeense groeivermoë (139), GDT (135), voeromsetverhouding (120) en skrotum (117). Nieteenstaande hierdie waardes wat sy geweldige groeivermoë aandui, het hy nog steeds uitstekend onder veldtoestande presteer met Veldbul Ekonomiese Indeks van 104. Hy is dus baie goed aangepas en dit kan gesien word met sy glansende vel, kort blink hare, mooi skof, los vel met genoeg velvoue.

Hy is baie manlik met sterk kop, goeie oogbanke, breed tussen die oë en mooi verdonkering van ‘n dik bulnek. Sy skrotum hang mooi simmetries en meet 42cm.

HART 15-0166 is ‘n uitsonderlike bul en het baie eienskappe waarmee die Bonsmara goed kan doen. Hy is nie te groot om onder ekstensiewe omstandighede suksesvol mee te boer nie – inteendeel hy sal uitstekend doen. Op Hartebeestloop doen ons al ‘n geruime tyd weg met ultra-ligte geboortegewigte en swak groei en voeromsetsyfers. Ons kliënte kry nie die optimale voordeel om met Bonsmaras te boer as ons nie ook na daardie eienskappe kyk nie.




LOT 22: HART 15-0346

    


Mediumraam, “easy fleshing” en kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is geteel uit die Woestyn Bonsmara (NGO) koeilyne wat bekend is vir aanpasbaarheid, gehardheid en vrugbaarheid. Aan moederskant is daar NGO 03-0093 wat ‘n ELITE SILWER koei is en die bulmoeder HART 06-0073 met OEK 37 mnde, TKP 357 dae/9 kalwers met gemiddelde speenindeks van 103. Sy speen teen 44.8% van haar liggaamsgewig. Maak moeite en kyk na die prestasies van al 3 die koeie wat betrokke is by sy teling, soos op die katalogus verskyn. Onthou die gesegde “Great Sires come from Great Mothers”.

HART 15-0346 het baie goed presteer tydens prestasietoetsing en was ‘n Top presteerder met al die indekse bo 100 – Speen (101), GDT (105) en Kleiberindeks (104). Daar is baie waarde in die Bonsmara sisteem waar diere in dieselfde groepe met mekaar vergelyk word. Sy teelwaarde indekse vir voorspeense en naspeense groeivermoë is 104 en 108 onderskeidelik. Hy is nog baie jonk en sal 2 jaar en 7 mnde oud wees op die veiling.

Sy goeie bouvorm, breedte, sterk bespiering, kapasiteit en goeie diepte deur die voorlyf is sy sterk punte. Sy lengte is besonders en die hoogte/lengte verhouding is 1:21 wat beter as die rasgemiddeld is. Ons probeer almal langer diere te teel solank dit net nie die toplyn en balans negatief beïnvloed nie. Met HART 15-0346 het ons dit reggekry want sy toplyn is sterk en sy balans uitstekend. Moeilik om na so ‘n lang bul as kompak te verwys maar, met die baie vleis wat hy dra en met die skelet wat so goed gepak is met vleis, is die verwysing na kompak seker geregverdig.

Sy goeie manlikheid is opvallend. Sterk kop, goeie oogbanke, dik nek met mooi verdonkering en ‘n goedgevormde skrotum wat mooi hang en 42cm in omtrek is. Hy is ook goed aangepas vir veldtoestande met ‘n donkerrooi, gladde en blink vel met kort haar, sterk skof en sterk bene.

HART 15-0346 is ‘n sterk bul in alle opsigte en behoort baie aandag op die veiling te kry. Hy is baie jonk en sal nog baie sterker en beter ontwikkel soos die hormone en spierontwikkeling toeneem.




LOT 23: HART 15-0284

    


Donkerrooi, mediumraam bul wat gemaklik op verse en koeie gebruik kan word.

Hy is baie goed in balans, met goeie bouvorm, genoegsame breedte en bespiering en goeie kapasiteit. Daar is goeie diepte deur die voorlyf, sterk toplyn, mooi kruishelling en goeie stertaanhegting. Hy is nog ‘n jong bul en sal nie eers 3 jaar oud wees op die veiling nie maar kyk hoeveel vleis pak hy alreeds aan die skelet. Sy manlikheid is ook baie goed ontwikkel vir so ‘n jong bul. Daar is ‘n sterk kop, goeie oogbanke, mooi breedte tussen die oë, pragtige verdonkering op ‘n sterk nek en voorkwart en ‘n goedgevormde skrotum wat 37.5 cm meet. Hy gaan nog baie sterker ontwikkel met ouderdom en sy sekondêre manlikheidseienskappe sal nog meer prominent word.

Hy is geteel uit ‘n jong koei HART 12-0293 wat op 24 mnde gekalf het en ongelukkig ‘n dooie kalf gegee het. Daarna doen sy goed en met 3 kalwers oor 402 dae TKP en sy speen 2 kalwers teen 53.5% van haar liggaamsmassa. Dit is so dat jonger koeie teen ‘n beter verhouding speen en dat hulle koeidoeltreffenheid beter vertoon. Sy is goed genoeg om in die kudde te hou ongeag die 1ste dooie kalf en ons sal goed dophou hoe sy verder presteer.

HART 15-0284 is baie goed aangepas met uitstekende vel en kort, blink haar en sterk bene met goeie breedte oor die hakke. Daar is geen twyfel dat hy orals sal aanpas en presteer.

Sy teelwaarde indekse is deurgaans goed met goeie voorspeense (108) en naspeense (109) groeivermoë, GDT (111), voeromsetverhouding (110) en skrotum (114). Sy melkwaarde kon beter gewees het.

HART 15-0284 is ‘n baie goeie jong bul wat aangebied word. Jy sal die bul oor 1 jaar nie herken nie! Hy sal in enige kudde, stoet of kommersieël baie goed doen. Gebruik hom gerus!




LOT 24: HART 15-0103

    


Sy moederlyne is van die heel beste in die kudde. Aan vaderskant uit VBB 08-0059 en aan moederskant uit VBB 07-0302 wat die Namibiese Bonsmara ELITE PLATINUM koei is vir 2018 en HART 10-0151 as bulmoeder. Haar OEK is 28 mnde, TKP van 384 dae/5 kalwers met speenindeks van 100/5 kalwers. Al 3 die koeie is nog in die kudde en is hoogs presterend. Hierdie koeie gee gemoedsrus dat daar elke jaar ‘n goeie kwaliteit kalf op die grond is. Aan vaderskant is hy geteel uit HART 10-0219 en kyk gerus ook na sy ander kalwers op die veiling.

HART 15-0103
is ‘n mediumraam, “easy fleshing” bul wat op uitgegroeide verse en koeie gebruik kan word. Sy balans en bouvorm is baie goed, sy bespiering is genoeg, breedte, kapasiteit en diepte is ook goed. Sy toplyn is sterk, hy is mooi breed oor die rug met goeie kruishelling en stertaanhegting. Sy vleiseienskappe is baie goed – vanaf sterk agterkwart met goeie dye tot by ‘n diep voorkwart. Ons almal weet mos die groot waarde wat die voorkwart tot die gewig dra.

Sy manlikheid val jou dadelik op. Baie sterk kop, pragtige pigment op die gesig, dik en goed ontwikkelde oogbanke en mooi verdonkering. Sy skrotumomtrek is 42 cm en dit is goed gevorm en hang mooi. Hy maak net ‘n baie mooi prentjie met die goeie bouvorm, baie manlikheid en swart pigment op die gesig.

Vir my is sy aanpasbaarheid uit die boonste rakke! Dik en los vel met die breë velvoue in die nek, glansende vel met kort en blink hare, mooi skof, lang stert en sterk bene en goeie kloue.

Sy teelwaarde indekse is deurgaans baie goed. Goeie groeivermoë, baie melk, hoë GDT, baie doeltreffende omset van weiding in vleis en gewig en hoë reproduksie potensiaal met groot skrotum teelwaarde indeks.

HART 15-0103 is een van die top bulle op die veiling!




LOT 25: HART 15-0279

    


Hy is ‘n mediumraam bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy mag dalk groter word met ouderdom as ek na sy pypbene kyk maar sy teelwaarde indekse dui dit nie aan nie.

Hy is sterk op bouvorm, breedte, bespiering, kapasiteit en diepte deur die voorlyf. Sy toplyn is sterk en breed, lendes is mooi gevul met vleis en die kruishelling en stertaanhegting is ook baie goed. Hy dra baie goeie vleis en die skelet is regdeur goed gepak met vleis.

Hy is ‘n tipiese kop-op bul wat jy dadelik in die veilingskrale sal sien. Sy kop is baie sterk, die oogbanke is baie goed ontwikkel en daar is goeie breedte tussen die oë, bek is breed en sterk met swart pigment op die neusspieël. Dit alles, tesame met die mooi verdonkering van ‘n dik bulnek, dra by tot die beeld van uitstaande manlikheid. As jy sterk koppe en uitstekende manlikheid soek in jou kudde, kyk mooi na hom. Sy skrotumomtrek is 38.5 cm en dit hang baie goed.

Boere wat deur droeër tye is en wat, soos ons almal, die waarde van goeie aanpasbaarheid besef het, sal HART 15-0279 baie waardeer. Sy blink vel met die kort glansende hare maak ‘n indruk! Sy skof is goed ontwikkel, die stert is amper op die grond, bene is baie sterk met goeie breedte oor die hakke en die kloue is baie goed. Hy doen die beste van sy groep tydens die Veldbultoets met Ekonomiese Indeks van 116 en sy Onderhoudsteelwaarde indeks is 105. Dit verduidelik en bevestig sy goeie prestasies op die veld.

Sy teelwaarde indekse is regdeur uitstekend – Baie goeie groei, oorgenoeg melk, uitstekende GDT en Voeromsetverhouding en groot skrotum teelwaarde indeks.

HART 15-0279 wys hoë stoetpotensiaal.




LOT 26: HART 15-0011

    


‘n Sterk mediumraam bul met baie sterk bespiering en baie goeie bouvorm. Daar is baie goeie kapasiteit, hy is breed regdeur met goeie buite dye, sterk en breë toplyn met goeie diepte deur die voorlyf. Die bespiering en breedte maak dat ek hom vir gebruik op koeie aanbeveel. Kyk maar eers na die kalwers voordat jy hom moontlik gebruik op uitgegroeide verse.

HART 15-0011 is struktureel baie korrrek met goeie kruishelling, goeie stertaanhegting, sterk bene met goeie breedte oor die hakke, goeie kloue en skoon onderlyn met baie goeie skede/naelvel kombinasie. Een van sy sterkste punte is sekerlik die hoeveelheid vleis wat die bul dra. Sy skelet is gepak met vleis en alle areas van belang soos agterkwart, lendes, binne en buite dye, voorkwart en breedte oor die rug wys die goeie bespiering en baie vleis.

Sy manlikheid en sekondêre manlikheidseienskappe is baie sterk. Tipies van hierdie bulle, is sy kop op en sy oë wakker. Daar is goeie oogbankontwikkeling, ‘n breë bek en baie mooi verdonkering op die nekgedeelte. Sy skrotumomtrek is 42 cm en dit hang baie goed. Hy is ook uitstekend aangepas – seepgladde en glansende vel met kort haar, mooi skof en lang stert. Hy doen uitstekend tydens die Veldbultoets met Ekonomiese Indeks van 111. Sy teelwaardes is deurgaans baie goed – goeie voorspeense groei (105), genoeg melk (96), uitstekende naspeense groei (120), baie hoë GDT (115) en groot skrotum (107). Die bul lyk kort op die foto maar hy het baie goeie lengte en die hoogte/lengte verhouding is 1:19.

Daar is baie moeite gedoen om hom uit van die vrugbaarste koeilyne in die kudde te teel. Beide sy hoogspresterende oumas is nog steeds in die kudde en sy moer HART 11-0002 se OEK is 24 mnde, TKP van 366 dae/6 kalwers met speenindeks van 99.

HART 15-0011 het my as jong kalf tydens speen beindruk en toe weer as deel van die groeitoets en elke keer daarna as ons deur die moontlike veilingsbulle gewerk het. Ek vertrou hy sal jou ook beindruk.




LOT 27: HART 15-0317

    


Ons probeer baie hard om net bulle op die veiling aan te bied wat uit vrugbare en hoog reproduserende koeie geteel is. Dit is ‘n “groot ekstra” wat die koper kry en die gebruik van so ‘n bul het langtermyn en permanente voordele in die kudde. HART 15-0317 is geteel uit sulke koeie. Kyk gerus na die oumas se data aan beide kante. Die bulmoeder is BHE 02-0104 wat ‘n SA Stamboek ELITE GOUD koei is met OEK van 31 mnde, TKP van 424 dae oor 10 kalwers en speenindeks van 103/10 kalwers. Sy speen die 10 kalwers teen 254 kg gemiddeld en dit is 56.5% van haar liggaamsmassa. Vir ‘n koei om dit reg te kry oor so ‘n lang tydperk in die Kalahari wil gedoen wees.

HART 15-0317 is ‘n mediumraam, “easy fleshing” en kalfgemak bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is geteel uit ‘n lang bloedlyn van kalfgemak bulle en is ‘n meer gladde en fyn bul sonder oormatige knopbespiering. Die bene is ook effens fyner wat maklike kalwing verseker. Daar is goeie bouvorm, matige bespiering, goeie lengte, goeie kapasiteit en mooi diepte deur die voorlyf. Sy toplyn, kruishelling en stertaanhegting is baie goed.

Hy vertoon baie goeie manlikheid met sterk kop, baie goeie oogbanke, goeie breedte tussen die oë en baie mooi pigment op die neusspieël en res van die gesig. Sy verdonkering is baie goed – dit blink eintlik in die son. Sy skrotumomtrek is 37.5 cm en dit hang goed simmetries.

HART 15-0317 het uitstekende aanpasbaarheid en dit is waar hy gebruik moet word - op die veld met minimum insetkostes en baie koeie. Sy teelwaarde indekse vir vroeë vetneerlegging is 140 en Onderhoudskoste is 117. Dit is nou “veldbees” genetika met min bydrae uit jou sak uit.

Sy teelwaarde indekse is werklik goed – laag op geboorte (105), goeie voorspeense groei (95), baie goeie naspeense groei (103), baie melk (131), hoë GDT (105) en groot skrotum (106).

Almal het ‘n opinie oor watter bul in watter produksiestelsel gebruik moet word – en so ook ek! HART 15-0317 sal volgens my absoluut uitstekend doen om vervangingsverse te teel. Sy fisiese voorkoms, bouvorm, prestasies op die veld, amptelike prestasietoetsing resultate, op-die-plaas toetsing en evaluasie asook sy teelwaarde indekse, is ideaal vir die teel van vervangingsverse.




LOT 28: HART 15-0001

    


Hy is ook vanaf Dassiesfontein se klippe. Soos met ander bulbeskrywings, begin ek deur die aandag te vestig op die uitstekende moederlyne waaruit die bul geteel is. Die oumas aan beide kante is beproefde koeie wat hulle deel gedoen het – hulle prestasiedata is ongelooflik goed. Die bulmoeder is WCS 02-0082 (aangekoop vanaf wyle Wally Stay uit die Oos-Kaap) met OEK 35 mnde, TKP 421 dae oor 10 kalwers met speenindeks 102/10. Sulke koeie is van onskatbare waarde in enige boerdery.

HART 15-0001 is mediumraam “All Rounder” bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is struktureel baie korrek en daar is nie regtig iets wat ek kan kritiseer op die bulle nie. Sy sterkpunte is goeie bouvorm, sterk bespiering, goeie kapasiteit en mooi diepte deur die voorlyf. Die toplyn is sterk en breed, kruishelling en stertaanhegting is goed en die bene is sterk en kloue is baie goed. Die vleiseienskappe is baie goed en hy dra baie vleis.

Sy sterk manlikheid is opvallend – kyk na die kop en hoe hy dit dra, sterk oogbanke, uitstekende verdonkering van die nek en baie goed gevormde skrotum wat 41 cm meet. Sy aanpasbaarheid is uitstekend – as daar nou vel en haar is wat blink, is dit syne. Hy doen goed tydens die Veldbultoets, amptelike prestasietoetsing asook op-die-plaas evaluerings.

Sy teelwaarde indekse is goed gebalanseerd en hy is ‘n veilige bul vir enige produksiestelsel. As jy bouvorm en bespiering nodig het in jou kudde, oorweeg HART 15-0001. Hy sal ook baie ander eienskappe, waarvoor die Bonsmara bekend en gewild is, in jou kudde vestig.




LOT 29: HT 15-0014

    


Hy is DNA bevestig as PH poena bul . Sy moer HT 09-0116 is DNA bevestig as PH en is ‘n A-generasie koei. Aan vaderskant gaan hy terug na oom Charles Williams se poena bul CSW 05-0017 en die bekende Genepoel poena bul BG 02-0058. Hy is ‘n B- bul wat ons sterk gebruik het in die opteelkudde om nuwe “koeilyne” in die Bonsmara te vestig. Die opteelkudde bestaan uit Senepol, Simmentaler, Braunvieh en Tuli diere. Meeste van hulle is ook DNA bevestig as poenas of visueel be-oordeel dat hulle poenas is en teel. Ons wou graag van die goeie eienskappe van die Bonsmara – rooi, gladde vel, blink haar, aanpasbaarheid, goeie groeivermoë, bouvorm en uitstaande temperament in die opteelkudde vestig, en HT 15-0014 het die beste daaraan voldoen.

Hy is ‘n meer Taurus tipe Bonsmara, mediumraam wat as “All Rounder” op verse en koeie gebruik kan word. Daar is goeie bouvorm, genoeg breedte en bespiering, genoegsame kapasiteit en mooi diepte deur die voorkwart. Hy is ‘n lang bul met uitstekende hoogte/lengte verhouding van 1:25. Hy is manlik, vertoon baie goeie aanpasbaarheid, en dra baie goeie vleis. Sy teelwaarde indekse is ook goed met genoeg groei, baie melk, goeie GDT en groot skrotum.

Hy is op die veiling want hy spreek die grootste tekortkominge in die poena teling baie goed aan:

  • sy skede/naelvel kombinasie is uitstekend met geen moontlike teken van prolaps
  • sy kop is sterk met goeie oogbanke en baie manlikheid
  • bouvorm is goed met genoeg bespiering en breedte
  • sy melk waarde is baie goed.

    Stoettelers of kommersiële boere wat ‘n opteel program vanuit hulle beste koeie wil begin om poenas te teel, moet baie goed na die bul kyk. Jy begin dan reg en die saamgestelde effek van dit sal baie groot wees in die toekoms. Die grootste hindernis in Hartebeestloop se poenateling in die beginjare, was die afwesigheid van sulke bulle wat die poena tekortkominge aanspreek.

    As jy enigsins oorweeg om poenas te teel, of as kommersiële boer nie meer wil onthoring in die toekoms nie, oorweeg HT 15-0014 sterk.




  • LOT 30: HART 15-0328

        


    ‘n Baie goeie mediumraam, “easy fleshing” en kalfgemak bul wat gemaklik op verse en koeie gebruik kan word. Hy kom uit uitstaande koeilyne – AG 01-0052 vanaf Arcadia Bonsmaras en beide moer en ouma aan moederskant uit die Fortress Bonsmara lyne. Die bulmoeder BHE 02-0101 se OEK is 31 mnde, TKP 382 dae oor 11 kalwers en speenindeks van 101. Sy speen gemiddeld op 251 kg en dit is 50.7% van haar eie gewig. Uitstekende kombinasie van reproduksie, produksie en doeltreffenheid – en dit is niks anders as die steunpilare waarop die Bonsmara ras gebou is.

    HART 15-0328 vertoon goeie bouvorm, genoeg bespiering, goeie breedte en kapasiteit met baie goeie diepte deur die voorkwart. Hy is ‘n lang-lyf bul met hoogte/lengte verhouding van 1:19 wat beter as die rasgemiddeld is. Ekstra lengte = ekstra vleis = ekstra gewig! Toplyn, kruishelling, stertaanhegting en vleiseienskappe is baie goed. Sy prestasiedata is baie goed en hy is ‘n Top presteerder met speenindeks (104 ), GDT indeks (115 ) en Kleiberindeks (112 ). Hy groei uitstekend op die veld en is ‘n baie goeie bul om veldweiding in vleis en gewig om te sit. Dit alles het in ‘n groot mate te doen met sy uitstekende aanpasbaarheid op die veld – glansende haarkleed met kort, blink haar, los en dik vel met goeie keelvel en breë velvoue in die nekgedeelte. Kyk gerus ook na die goeie skof en sterk bene met goeie kloue.

    Sy manlikheid is baie goed met sterk kop, wakker oë, kop-op, mooi bulnek met goeie verdonkering en ‘n goedgevormde skrotum wat mooi hang en 38 cm meet.

    HART 15-0328 vat al die goeie eienskappe van die Bonsmara vas. Mediumraam, “easy fleshing”, kalfgemak, groei, baie melk, aangepas en gehard vir veldtoestande en kom met ‘n uitstekende stamboom van vrugbaarheid en prestasie. Vir my is hy ‘n keuse bul as jy Bonsmara in jou kudde wil inbring of jou huidige Bonsmara/kruisteel kudde standaard wil verhoog.




    LOT 31: HART 15-0283

        


    Hy is geteel uit “ou” maar bekende koeilyne van Hakplaas en Fortress Bonsmaras en ‘n SA Stamboek ELITE GOUD koei HART 05-0040. Die bulmoeder is HART 11-0151 met OEK 24 mnde, TKP 399 dae/5 kalwers en speenindeks van 104/4 kalwers. Sy speen haar kalwers teen 46% van haar eie massa. Soos baie Bonsmara diere, kombinasie van die teeldoelwitte, seleksie programme en onverwante genetika vanaf verskillende telers om die beste dier te teel.

    Hy is ‘n mediumraam, “easy fleshing” en kalfgemak bul wat met gerustheid op verse en koeie gebruik kan word. Hy is struktureel korrek, het goeie balans met goeie aanpasbaarheid en manlikheid. Sy vleiseienskappe is goed en hy is tipies ‘n bul wat gou in kondisie kom met vroeë vetneerlegging. Dit kan baie duidelik gesien word in sy uitstekende Kleiberindeks van 118 wat vermoë aandui om veldweiding in gewig om te sit, sy vroeë vetneerlegging teelwaarde indeks van 107 en Onderhoudskoste teelwaarde indeks van 100.

    HART 15-0283 is geteel om op die veld te presteer met minimum insetkostes. Al sy prestasietoetsing data en op-die-plaas waarnemings wys dat dit sy sterk eienskappe is. Boere wat ekstensief, en net op die veld sonder enige aangeplante weiding en toegang tot mielies boer, moet hierdie tipe diere gebruik en teel. Dit is deur dekades in Namibië bewys dat die klimaattoestande in die meeste areas, hierdie tipe diere bevoordeel. Inteendeel, dit is omtrent die enigste tipe bees wat daar mee geboer kan word.




    LOT 32: HART 14-0374

        


    Julle is seker nou al moeg om my konstante verwysings na die koeilyne waaruit die bulle geteel is te lees. Hier gaan ons alweer – hy kom uit top koeie vanaf Arcadia en Fortress Bonsmaras. Die bulmoeder BHE 01-0101 is ‘n SA Stamboek ELITE GOUD koei met OEK 31 mnde, TKP van 379 dae/11 kalwers en gemiddelde speenindeks van 100. Dit is net soveel makliker om te boer, ook in die moeiliker tye, wanneer jou koeikudde jou so fantasties dra.

    HART 14-0374 is ‘n kalfgemak, “easy fleshing” en mediumraam bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy is sterk op goeie bouvorm, genoegsame bespiering, goeie breedte en goeie kapasiteit met mooi diepte deur die voorkwart. Sy toplyn is sterk met goeie kruishelling en stertaanhegting. Daar is goeie lengte aan hom met hoogte/lengte verhouding van 1:22 – ver bo die rasgemiddeld. Hy dra baie vleis en gee die indruk van skelet wat goed gepak is met vleis. Maklike bees om op die hoef te gradeer!

    Ek wil graag uitbrei oor die term “easy fleshing” wat ‘n groot komponent is van lae insetkoste, en spesifiek mbt HART 14-0374 . Boere kan dit visueel tot ‘n groot mate sien maar, daar is sekere fasette van die wetenskap/prestasietoetsing wat ook ‘n groot rol speel om die “oog” te bevestig. Sy Kleiber-; en Veldbulindekse van 104 en 101 onderskeidelik, wys die bogemiddelde omset van veldweiding in gewig en algehele goeie prestasie op die veld, die vroeë vetneerlegging-; en Onderhoudskoste teelwaarde indekse van 139 en 115 onderskeidelik wys die vermoë om gou in kondisie te kom en genetiese potensiaal om dit op die veld te doen. Sy oogspieroppervlakte teelwaarde indeks van 98 en die visuele evaluasie van bespiering van die bul, wys dat daar genoegsame bespiering is – wat in effek niks anders as die vleiskomponent is nie. In kort en in ons taal – hy sal uitstekend presteer op die veld en bring daardie “veldgenetika” ook na jou kudde.

    HART 14-0374 behoort jou oog te vang op die veiling. Jy sal maklik die bulle herken wat by jou baie goed sal aard en ook goed presteer.




    LOT 33: HART 15-0306

        


    Ek weet julle gaan dadelik vra – “en hoekom so ‘n baie goeie bul so laat op die veiling?” Daar moet baie goeie bulle laat in kom vir die laatslapers en ook diegene wat nie suksesvol was met die vroeër lotte nie. Hy is geteel uit die “ou” Woestyn Bonsmara bloedlyne wat uitstekende aanpasbaarheid en gehardheid goed ingeteel het. Die bulmoeder is HART 05-0014 met OEK 30 mnde, TKP van 392 dae oor 8 kalwers en speenindeks van 104. Sy speen haar kalwers teen 252 kg gemiddeld en dit is 51.9% van haar eie massa. Dit is moeilik om hulle nog beter te teel maar, seker nie onmoontlik nie.

    HART 15-0306 is ‘n mediumraam bul wat op verse en koeie gebruik kan word. Hy het baie goeie bouvorm, uitstekende lengte met hoogte/lengte verhouding van 1:29 (die beste op die veiling) , goeie bespiering, baie mooi kapasiteit en sterk toplyn nieteenstaande sy goeie lengte, goeie breedte en mooi diepte deur die voorlyf. Hy is baie goed in balans, staan mooi, beweeg mooi en het geen probleem met die hoogste duine nie. Hy sit baie maklik vleis aan, kom gou in kondisie en vang altyd die oog in sy trop.

    Sy sterk manlikheid is opvallend – kop is sterk, oogbanke is dik en goed ontwikkeld, sterk bek, breed tussen die oë, pragtige verdonkering op ‘n dik bulnek en ‘n baie goeie skrotum wat simmetries hang en 39 cm meet. Ek gaan nie veel sê oor sy aanpasbaarheid nie – behalwe dat hy ‘n toonbeeld van aanpasbaarheid is.

    Sy teelwaarde indekse is uitstekend - geboortegewig (96), goeie voorspeense (97) en naspeense (110) groeivermoë, baie goeie melk (109), goeie GDT (101) en groot skrotum (103). Hierdie is mos naby aan ideaal vir ons boere.

    HART 15-0306 wys hoë stoetpotensiaal en is in alle opsigte ‘n indrukwekkende bul. Hy het ‘n klein stukkie wit op die onderlyn net voor die skrotum. As dit die stoettelers hinder, is hy ‘n groot winskopie vir die ernstige kommersiële boer.




    LOT 34: HART 15-0070

        


    Geteel uit top moederlyne met VBB 08-0059 aan vaderskant en nog steeds in die kudde en HART 09-0270 ‘n SA Stamboek ELITE BRONSE koei aan moederskant. Die bulmoeder HART 11-0290 se OEK is 24 mnde, TKP van 388 dae/5 kalwers met speenindeks van 108/4 kalwers. Sy speen teen 50.8% van haar eie gewig.

    Hy is groter as mediumraam (3.5 tipe) en moet net op koeie gebruik word ongeag sy aanvaarbare Geboorte direkte teelwaarde indeks van 101 . Sy skouerhoogte, bespiering, breedte en warm groeisyfers pla my om verse oop te maak. Kyk na die kalwers voordat jy besluit om hom verse te gee. Hierdie is ‘n sterk bul met goeie bouvorm, genoeg bespiering en breedte, mooi kapasiteit en goeie diepte deur die voorkwart. Hy dra baie vleis – regdeur van agterkwart, kruishelling, lende, oogspier en voorkwart. Sy stertaanhegting kon beter wees.

    Hy vertoon manlik, wys goeie kop met goeie breedte tussen die oë, mooi verdonkering en ‘n goedgevormde skrotum wat mooi simmetries hang en 37 cm meet. Sy aanpasbaarheid is uitstekend – pragtige, donkerrooi, blink en los vel, dik vel met breë velvoue in die nek, goeie skofontwikkeling, sterk bene met goeie hakke en goeie kloue.

    Sy teelwaarde indekse is goed regdeur – laag op geboorte (101 ), goeie voorspeense (104 ) en naspeense (108 ) groeivermoë, hoog op melk (111 ), uitstekend op GDT (124 ) en voeromsetverhouding (122 ). Dit is moeilik om die teelwaarde indekse meer gebalanseerd en beter te kry as by hom.

    HART 15-0070 is ‘n goeie bul om te gebruik op jou kleiner koeie veral as jy groeivermoë en hoeveelheid melk in jou kudde wil verbeter. Hy sal egter in enige kudde goed doen – hy bring raamtipe, vleis en baie groei.




    LOT 35: HART 15-0107

        


    Een van die Dassiesfontein klipbulle. Daar is baie sterk koeilyne agter hom – BHE 04-0201 ELITE GOUD aan vaderskant en HART 07-0078 ELITE GOUD aan moederskant. Die bulmoeder HART 12-0150 se OEK is 28 mnde, TKP van 350 dae oor 5 kalwers en speenindeks van 109. Sy speen haar kalwers teen 50.5% van haar liggaamsgewig en dit is 247 kg gemiddeld.

    Hy is ‘n groter raam bul wat net op koeie gebruik moet word. Hy het baie goeie bouvorm, sterk en breë toplyn, goeie breedte, baie kapasiteit, mooi lengte en goeie diepte deur die voorkwart. Vir ‘n groter raamtipe dier vertoon hy uitstekende balans. Sy kruishelling en stertaanhegting is goed, so is sy bene baie sterk en sy kloue baie goed. Sy vleiseienskappe is baie goed en hy dra baie vleis. Jy kan dink hoe sy speenkalwers en osse sal lyk! Jy kan ook dink wat hulle sal weeg!

    Sy sekondêre manlikheidseienskappe is sterk ontwikkel met mooi verdonkering en ‘n goeie skrotum wat 37.5 cm meet. Jy kry ook groter raam diere wat goed veldaangepas is en onder die toestande presteer. Sy Veldbul Ekonomiese Indeks van 109 wys presies hoe goed hy presteer het op die veld. Hy is ‘n geharde bul wat in moeilike omstandighede oorleef en ontwikkel het. Jy kan hom maar ‘n probeer gee.

    Sy teelwaarde indekse reflekteer sy raamtipe. Swaar op geboorte (77 – hy weeg 40kg met geboorte), met ontsettend baie voorspeense (128 ) en naspeense groeivermoë (125 ), hoë GDT (114 ), doetreffende voeromsetverhouding (103 ) en groot skrotum (104 ).

    Dit wat ons in HART 15-0107 visueel sien is presies waarvoor hy gebruik moet word. Enige kudde wat groei, raamtipe en vleis kort, sal baie baat by hom. Gebruik hom op kleiner koeie, miskien die meer Sanga tipe en Nguni tipe koeie of enige platsydige koei waar jy ekstra gewig by die nageslag wil aansit. Daar is ‘n groot leemte in ons kommersiële kuddes vir so ‘n bul. Hy kan selfs oorweeg word vir terminale kruisteling.




    LOT 36: HART 15:0082

        


    Vir die laaste keer verwys ek na die fantastiese koeilyne waaruit die veilingsbulle geteel is. BHE 04-0201 ELITE GOUD aan vaderskant en HART 08-0017 aan moederskant met HART 12-0071 as bulmoeder. Haar OEK is 35 mnde, TKP van 380 dae oor 4 kalwers met speenindeks van 102/3. Sy speen ‘n uitstekende 54.1% van haar eie gewig. Weereens word hierdie waarde aangedui om die koei se eie prestasie te onderstreep en nie om te vergelyk met enige ander kudde nie.

    HART 15-0082 is ‘n mediumraam en “easy fleshing” bul wat ek op uitgegroeide verse en koeie sal gebruik. Hy het goeie bouvorm, sterk bespiering, goeie lengte, aanvaarbare kapasiteit en goeie diepte deur die voorlyf. Sy toplyn is sterk en breed, kruishelling en stertaanhegting is goed, bene is sterk, kloue is baie goed en onderlyn is skoon met baie goeie skede/naelvel kombinasie. Hy het goeie vleiseienskappe en is goed gepak met vleis. Ek is beindruk met sy goeie bespiering – oogspieroppervlakte teelwaarde indeks van 115, gekombineerd met vroeë vetneerlegging en Onderhoudskoste teelwaarde indekse van 147 en 122 onderskeidelik. Wil amper sê dat as jy van vleisproduksie vanaf die veld afhanklik is, moenie eers verder lees nie. Merk en koop die bul!

    Sy teelwaarde indekse is oor die algemeen goed en hy het baie goeie voorspeense en naspeense groeivermoë. Sy eie prestasietoets en groeitoets waardes is ook baie goed en al die indekse is bo 100 – Speen (105 ), GDT (108 ) en Kleiber (109 ).

    HART 15-0082 is ‘n aangepasde en geharde bul wat enige plek in Namibië sal presteer en in enige kudde sy merk maak. Hy kom vanaf Dassiesfontein en sal geen probleem hê as verskuif word na die westelike gedeeltes nie. Hy ken droogtes!



    Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap