|
Bonsmara Auction Bulls 2011 LOT 48: HART 08-136 Hy is geteel uit KHB 04-0168 (Johan Myburgh - Kings Heath Bonsmaras) en AG 04-0232. Sy is geteel uit AG 99-0104 en is dus halfsuster van AG 04-0427 van wie daar 4 seuns op veiling is. Sy het swaar getrek aan die begin maar doen al hoe beter. Sy het nou 4 kalwers en speen 3 van hulle teen 48,3% van haar liggaamsmassa. Sy kan ‘n kalf versorg!
HART 08-136 is ‘n goeie gebalanseerde bul met sterk toplyn en goeie lengte en maak ‘n baie goeie indruk. Sy aanpasbaarheidseienskappe is so goed soos jy kan kry – blink vel en kort haar, goeie skofontwikkeling, lang stert, goeie beenstruktuur en sterk kloue. Hy kan gaan werk op enige plek in Namibië. Bespiering is genoegsaam maar nie so goed gedefinieërd soos van die ander bulle op die veiling nie. Jy kan dadelik sien dis ‘n bul met libido- kop is sterk, hy is bewus van sy omgewing, verdonkering is daar en sy skrotum is goed gevorm en meet 36,5cm. Sy skede/naelvel is goed en hy wys ‘n gladde onderlyn. Sy stertaanhegting kon ook beter gewees het.
HART 08-136 se teelwaardes is goed. Hy is ‘n kleiner raam bul en geboorte direkte teelwaardes tesame met groeivermoë is by die rasgemiddeld. Sy reproduksie teelwaardes is uitstekend. HART 08-0136 presteer op die groepgemiddeld met Veldbul ekonomiese indeks, GDT en Kleiber.
Hy kan op verse en koeie gebruik word. Hy is tipies wat die boere in ons omgewing benodig as “All Rounder” bul – fenotipies korrek, alle waardes gemiddeld tot effe bogemiddeld en goed aangepas. Dit is die bul wat jy moet gebruik as jou beesgetalle laag is en jy ook vervangingsverse wil hou.
LOT 49: HART 08-111 Hy is geteel uit AG 04-0427 en moer BHE 05-0035. Kyk na die ander seuns van AG 04-0427 wat ook op die veiling is. Daar is ook kalwers van AG 04-0427 by EMOK Bonsmaras van Edward Hansen. Praat gerus met Edward oor die kalwers en hoor sy opinie. BHE 05-0035 se OEK is 26 mnde, TKP is 376 dae en sy speen 3 kalwers teen 106 speenindeks gemiddeld en teen 48,2% van haar liggaamsmassa. Dit is mos ‘n biologiese doeltreffende koei!
HART 08-111 is nie werklik ‘n groter raam tipe bul nie maar is effens hoër op die been. Kyk na die pypbeen lengte. Hy wys goeie lengte, aanvaarbare kapasiteit, sterk toplyn en mooi boudspier wat laag afstrek. Bespiering is voldoende en dit word ondersteun deur oogspieroppervlakte wat heelwat bo rasgemiddeld is. Hy is goed aangepas en nieteenstaande sy haarkwaliteit en hoeveelheid haar doen hy goed onder ekstensiewe toestande. Sy sekondêre manlikheidseienskappe is baie goed – sterk en manlike kop, breë bek, goeie oogbanke, mooi verdonkering en groot en ferm skrotum (39,5cm). Die skrotum hang effe na vore maar dit is heel aanvaarbaar. Sy skede/naelvel kombinasie is so goed soos die beste in die bedryf.
HART 08-111 wys goeie teelwaardes regdeur. Hy is laag op geboorte direk, sterk op melk, matig op groeivermoë, goed op voerdoeltreffendheid en uitstekend op reproduksie teelwaardes. Sy pelvisindeks is 114 (pelvisarea 175.5 mm² teenoor ons teeldoelwit van 155 mm² vir mediumraam verse). Kyk mooi na hierdie eienskap tesame met sy ander eienskappe as jy kalwingsprobleme in kudde wil aanspreek. Sy vleiseienskappe is baie goed met beide vleisopbrengs en uitslag% bokant die rasgemiddeld. HART 08-111 kan op koeie en verse gebruik word.
HART 08-111 gaan net nog beter ontwikkel. Daar is goeie vleisbeespotensiaal in die bul opgesluit.
LOT 50: HART 08-04 Hy is geteel uit AEJ 03-0199 – dit is die dik en goed gepigmenteerde bul wat op die 2010 veiling aan Tollie van Tonder verkoop is. Die moer is BHE 99-0163 (Superior 2010) wat een van die staatmakerkoeie in ons kudde was. Sy is nou uitgeskot weens verlies aan tandmateriaal. Sy het ‘n TKP van 406 dae oor 7 kalwers en ‘n gemiddelde speenindeks van 106 oor 7 en ‘n 100% stoetgoedkeuring van haar kalwers.
HART 08-04 is ‘n groter raam tipe en later ryp Bonsmara bul. Kyk gerus na sy pypbeen lengte wat sy groter raam bevestig. Daar is ook groot raam Bonsmara bulle wat funksioneel doeltreffend is en HART 08-04 is so ‘n bul. Sy sekondêre manlikheidseienskappe is baie goed – kop is sterk, verdonkering is aanwesig en hy vertoon ‘n uitstekende skrotum (39 cm). Sy naelvel/skede kombinasie is perfek. Vir ‘n groter raam bul om te presteer tydens prestasietoetsing in ons omstandighede moet sy aanpassingseienskappe baie goed ontwikkel wees. HART 08-04 vertoon goeie skofontwikkeling, dik en los vel met duidelike “happy lines”, lang stert wat amper die grond raak, sterk bene en baie goeie kloue en hieldiepte. Nieteenstaande sy grootte het HART 08-04 ‘n bogemiddelde hoogte/lengte verhouding van 1:17.
HART 08-04 se teelwaardes is baie goed. Hy is slegs effens swaarder op geboortegewig direk as die rasgemiddeld (sy geboortegewig is 35 kg) en van daar is sy groeivermoë en voerdoeltreffendheid ver beter as die rasgemiddeld. Hy het baie goed gegroei tydens die FASE D toets en eindig onder die eerste 3 bulle in sy groep. Sy goeie aanpasbaarheid maak dat hy ook baie goed presteer tydens die Veldbultoets met ‘n ekonomiese indeks van 113.
HART 08-04 is ‘n bul vir speenkalf en osproduksie. Al sy teelwaardes vir vleisopbrengs, uitslagpersentasie, oogspieroppervlakte, vroeë vetneerlegging en marmering is bo die rasgemiddeld. Boere moet goed kyk na hom – nie net is sy voorkoms reg vir speenkalf en osproduksie nie maar ook sy teelwaardes.
|
|
|