Hartebeestloop

Articles

In this section of the website we feature ALL the articles written by HARTEBEESTLOOP BONSMARAS, mainly from our Bonsmara stud breeding program. In most of the articles we refer to what works for us at Hartebeestloop and how we do things in our Bonsmara stud. We also have articles done by other authors. If we can learn from you, we certainly will publish your work! This is a very comprehensive part of this website and we hope you enjoy reading and learning here!

CONTACT US: JOGGIE BRIEDENHANN +264 81 231 6169 (jbried@joggie.com.na)

Publication selected in the Archive of 2013:
Kry jou diere reg vir die veiling
Date:
April 2013


This article is only available in Afrikaans.

Aanvaarbare veilingskondisie

Bul in ideale kondisie vir veiling met die regte gewig
Bul in ideale kondisie vir veiling met die regte gewig
Dis ‘n feit dat geregistreerde bulle wat op veiling verkoop word in 'n aanvaarbare kondisie moet wees. Die begrip van aanvaarbare veilingskondisie moenie met oorvet verwar word nie. Daar is wesenlike verskille tussen diere wat veilingsgereed is en diere wat oorvet is. Die verskille is sigbaar in voorkoms maar waar dit regtig saak maak, is gedurende die aanpassingstydperk by die nuwe eienaar. Tè vet bulle sukkel gedurende die tydperk en selfs daarna. Almal van ons sukkel in 'n mate om veilingsdiere almal op dieselfde tyd in die regte kondisie te kry vir ‘n veiling. Hou altyd in gedagte dat beenweefsel eerste volwassenheid bereik, daarna spierweefsel en vet word heel laaste aangepak. Diere wat verkoop word is ook nie almal presies ewe oud nie, wat afronding nie juis makliker maak nie!

Wat is die teikengewig en kondisie telling vir mediumraam Bonsmarabulle op die veiling?

Enige gewig tussen 720 - 750 kg is aanvaarbaar vir mediumrasse met raamtipe 3 tot 3.5 en kondisie telling van ongeveer 3.

Ons werk die gewig so uit:

Dit is redelik standaard praktyk om bulle op 3-jaar ouderdom te verkoop. Op Hartebeestloop doen ons 'n eenvoudige som om die bulle op 720 kg op 3-jaar ouderdom te kry.

Ons gemiddelde speengewig op 205 dae (7 maande) is 257 kg vir bulkalwers. Deur van neusringe gebruik te maak, het ons speenskok in 'n groot mate geneutraliseer. Die gewig wanneer ons speen en die neusringe insit is ongeveer dieselfde as 2 weke later wanneer ons die kalwers wegvat van die moeders.

Die veilingsbulle se gewig op 3 jaar (1 095 dae) moet 720 kg wees.

Hulle speen 257 kg op 205 dae:

  • As die 205 dae afgetrek word van 1 095 dae, is daar 890 dae oor tot die veilingsgewig bereik moet word vanaf speen tot veiling
  • Dit beteken dat as die 257 kg speengewig afgetrek word van die 720 kg veilingsgewig, is daar 463 kg wat bygesit moet word vanaf speen tot veiling.

Dus 463 kg wat in 890 dae aangesit moet word vanaf speen tot veiling.

Ons deel dan die 890 dae tydperk wat ons het deur die 463 kg en dit laat ons met ongeveer 520 gram/dag wat die bul moet groei om veilingsgereed te wees. Dit is 'n baie aanvaarbare daaglikse gewigstoename vir mediumraam bulle om te bereik tydens 'n gemiddelde reën seisoen.

Wat doen ons presies sodat die bulle hierdie gewig per dag aansit om in die regte kondisie te kom vir ons veiling?

Ons deel die tydperk in 4 periodes

  1. Periode van speen (205 dae) tot op 12 maande:
    Speen word dikwels later in die jaar gedoen in die suide van Namibië. Hierdie tydperk is die moeilikste weidingperiode by ons. Die jong bulle neem gemiddeld 275 gram/dag toe op ’n tipiese Voermeester winterlek (Beesmix 4:1:5). Die jong bulle word elke 2 weke geweeg sodat presies gesien kan word watter bulle sukkel om die groepsgemiddelde groei in gram per dag te behaal.

    Die gemiddelde toename is 44 kg gedurende die tydperk en hulle weeg gemiddeld 301 kg op 12 maande.


  2. Periode van 12 - 15 maande (Aanpassingsperiode):
    Hierdie is die 3 maande aanpassingsperiode voordat die jong bulle in 'n ekstensiewe veldbultoets gaan waartydens onder andere ook die groei (gemiddelde daaglikse gewigstoename) gemeet word. Gedurende die tydperk bly die bulle op 'n Voermeester Beesmix mengsel - afhangende hoe vroeg die reën kom. Dit gebeur soms (maar selde) dat ons vroeg reën kry en dan verander die lekmengsel na 'n fosfaat en sout mengsel.

    Die gemiddelde toename van bulle in hierdie tydperk is 322 gram/dag. Dit is 29 kg oor 90 dae en aan die end van die aanpassingsperiode weeg die bulle gemiddeld 330 kg. Weereens word die bulle elke 2 weke geweeg om die swak groeiers te identifiseer.


  3. Periode van 15 - 24 maande (Ekstensiewe Veldbultoets):
    Dit is die tydperk wat die ekstensiewe veldbultoets gedoen word en val saam met die beste weiding en in die hoof reënseisoen op Hartebeestloop. Die swak groeiers word aan die end van die aanpassingsperiode alreeds geïdentifiseer en uitgeskot, voor die aanvang van die Veldbultoets. Dit is nou werklik 'n kwessie van goeie weiding agter swak bulle aan te gooi om hulle in die toets te hou. Dit verhoog natuurlik ook die seleksiedruk op die bulle wat wel deelneem aan die Veldbultoets.

    Gedurende hierdie 9 maande tydperk groei die bulle gemiddeld 885 gram per dag - dit is 239 kg oor die 9 maande tydperk. Op 24 maande weeg hulle dus gemiddeld 569 kg.
  4. Jong bulle tydens ekstensiewe veldbultoets
    Jong bulle tydens ekstensiewe veldbultoets

  5. Periode 24 - 36 maande (Veilingsgewig):
    Hierdie is 'n belangrike tydperk aangesien dit die finale gewig en kondisie van bulle op die veiling bepaal. Dit is daarom belangrik om die bulle deurgaans dop te hou, aangesien sekeres vinniger in kondisie kom en dus oorvet sal raak as die rantsoen dieselfde bly. Dit is gewoonlik die bulle wat hoë teelwaardes het vir vroeë vetneerlegging, wat eerste in kondisie kom. Gedurende hierdie tydperk word die bulle elke 2 weke geweeg en ook 'n kondisie punt gegee.

    Na ongeveer 4 maande word hulle in groepe gesorteer, afhangende van gewig en kondisie. Dit is om te verhoed dat onnodige kostes met voer aangegaan word vir die vinnige ontwikkelaars. Die lekmengsel of bulrantsoen word ook nou aangepas tussen die groepe - die groepe wat vinniger gewig aansit en gouer kondisie kry, kry dus minder lek of bulrantsoen. Dit is een van die beginsels wat die meeste koste spaar aan bulvoeding en afronding - "not all bulls are created equal". Die bulle moet egter elke 2 weke geweeg en gepunt word op kondisie om die maksimale voordeel uit die program te kry. Oor die algemeen, sit ouer bulle makliker gewig aan en kom ook gouer in kondisie. Soos beeste volwassenheid bereik, groei hul minder spiere en verhoog die tempo van vetneerlegging. As die bulle dalk tydens enige van die vorige tydperke gesukkel het, kan die gewigstekort redelik maklik en goedkoop op hierdie stadium opgevang word.

    Gedurende hierdie tydperk word die hoeveelheid lek/bulrantsoen wat gegee word tussen groepe sowel as tussen bulle in dieselfde groep, nagelang van hulle gewigtoename en kondisie telling, aangepas. Ons het ondervind dat ons tot soveel as elke 2 weke aanpassings moet maak!

    Dit is raadsaam om nooit heeltemal van die lekmengsel of bulrantsoen wat jy gebruik, af te gaan tydens die laaste 24 - 36 maande nie. Die mikrobes in die rumen van diere verander as die dieët drasties verander. So ’n verandering van dieët veroorsaak gewoonlik ’n aanvanklike en betekenisvolle gewigsverlies. Dit vat tyd om die gewigsverlies weer om te swaai. Ons het al sulke foute gemaak met baie skade om die "catch up game" te speel!

verminder bulvoeding kostes!

Op Hartebeestloop het ons kostes vir bulvoeding en afronding drasties verminder vandat veiling teikengewigte gestel is en dit op 'n meer wetenskaplike wyse oor 'n langer tydperk bereken en gedoen word. Jy weet presies tydens elke periode waar jou bulle staan. Daar word nooit krisisbestuur gedoen en nooit op kraal/kamp gevoer met hoë vlakke van kragvoer om 'n bepaalde gewigstoename oor 'n kort tydperk te kry nie. Ondervinding het geleer dat dit baie duur is, ondoeltreffend en skadelik vir die dier en koper is. Die program werk ook baie goed vir naweek stoetboere wat nie elke dag toegang tot die diere het nie. Die gewigte en kondisietellings help met jou besluitneming.

hou verlaagde vrugbaarheid en onfiksheid in gedagte

Bogenoemde program werk goed waar stoetboere hulle eie produksieveilings hou en self besluit oor teikengewigte. Dit kan ook goed werk waar verkopers almal saam stem oor teikengewigte vir verskillende raamtipes. Dit is egter soms nadelig vir die 720 kg bulverkoper as mede-verkopers se bulle 800+kg inweeg. Bulle in beter kondisie (somtyds net vet) vang die oog van die oningeligte koper en kry meestal ook beter pryse. Die moontlike nadele van verlaagde vrugbaarheid en onfiksheid wys eers na die veiling!

Comments:

{ 0 comments… read them below or add one }
Leave a comment:
Register here if you are new
or
Login here
E-mail: 
Password: 

Forgot your Password?
Back to Top

Archive 2023
Archive 2022
Archive 2021
Archive 2020
Archive 2019
Archive 2018
Archive 2016
Archive 2015
Archive 2014
Archive 2013
Archive 2012
Archive 2011
Archive 2010
Archive 2009
Archive 2008
Facebook  Contact us | Copyright 2012, All rights reserved | Sitemap